’n Kaperjol van Mokka-Duitsers
2012-01-20 22:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Oor die feestyd lees Hannelore in ’n verslete boek uit neëntien-ses-en-dertig deur ene Engelbrecht hoe die Khoi-Khoi padgegee het uit die Kaap, uit onder die hiele van die gierig-merkantiele VOC en sy pramtaat brutale koloniste, hoe die een groep noord getrek het na die groot Gariep en opgegaan het in die swartes en die geles, en bekend geraak het as Korannas.
Hoe hierdie stam van Kora, die Kaalkoppe, opgesplyt het in die Taaibosse, die Linkse, die Buffelboute en Slaparms. Die Seekoeie, die Smalwange, die Bitterbosse en Jagers, die Katse en die Springbokke, die Lukasse en die Dansers, die Berkhots, die Kupido’s, die Towenaars en Regshande, die Witvoete en Swartsekinne, die Potlode en Laastelêers; hoe die Rooimense, die Moddermense, die Sykantmense en Skerpioene hul plek gevind het langs die Oranje en die Vaal, almal met hul ramkies en ghomghomme en mamokhorongs en die lekkertongtale van khoe-kwadi.
Sy lees van die vetes tussen Boesmans en Korannas in die sewentien- en agttienhonderds en hoe hulle die winde, die riviere en mekaar uitoorlê het. As die Boesmans die kleinwild in die vanggate moes dryf, was hul kinders naamlik alte lastig.
Om hulle soet en stil te hou, het die ma’s hulle in die sand begraaf tot aan die nek met takkies oor die kop en ’n kapokblom in die bek, en dis waar die Korannas hulle dan kom skaai het om as hul eie groot te maak. Sulke dikpens-Boesmankleintjies kon ’n Koranna ook nader lok met waatlemoene, hy pak hulle op ’n stapel en wag onder die ranke totdat die kakkelinge inbreek deur die skille met die tengels graaiend in die vleis, en dan gryp hy hulle aan die agterbeen.
Sy lees hoe ’n mens jou kind terugkry as jy Boesman is: met heuning en met heuningbier wat jy vir die dors Koranna in ’n horing skink, en as hy dronk is, kan jy weer laat spaander met jou telg. En as jy ’n Koranna was, kon jy jou weerwraak haal deur die kleinrook se tabak met die droesemolie uit jou pyp te meng, en as die Boesmans dwelmlastiglik loop lê, kon jy hulle insleep na jou kraal as lyfbediendes.
Dit alles, lees Hannelore, het gebeur in die sewentienhonderds en vroeë agttienhonderds, toe in Europa die Barok geheers het, die tyd van die gavottes, die gigues, die allemandes. Dit was die tyd van Vivaldi, Handel, Bach, van kontrapunt en variasies, die era van oratoria, konsertante klavesimbels, getemperde klaviere.
Wat haar laat wonder of, as Bach hierdie name, migrasies en gevegte, hierdie splytinge, vlugte en vermenginge, hierdie hervestiginge langs die groot rivier kon kom aanskou het in die helder daglig van die Suide, hy by sy terugkeer in Leipzig sou geklink het soos die stotteringe van Conlon Nancarrow bewerk deur Bang on a Can All Stars.
Of miskien, so wonder Hannelore, miskien het die beroemde Basjan dit alles blind vermoed deur drukverskilosmose tussen Noord en Suid, en kon dit daarom met genade, op ’n wye partituur vasboek in patrone van progressie, opposisie en versoening in die guns van luisterbare wêreldse en kerkmusiek?
Oor een ding is sy amper seker, en dit is as die Boesmans en Korannas destyds op ’n jol in Leipzig ingeroei het, en by daardie koffiehuismusiekterras Bach se styfgevlegte riele en gavotte hoor speel het, hulle dit sou eien as familieklanke en die hele dag sou kaperjol het vir bier en twak en koffie, met as gevolg, nageslagte Mokka-Duitsers wat op Kristalnag neëntien-agt-en-dertig ’n versetfees in die sinagoge van Fisantstraat sou ontketen in antwoord op die pogrom teen die Jode. Die neëntienvier Herero-en-Nama-volksmoord sou nooit hoef te gebeur het nie.
Een ander ding is denklik (die dae tussen Kersfees en Nuwejaar is lank), naamlik as die jagse Bach en sy swerm seuns en die Boesmans en Korannas, diep bevriend en goed verbaster weens die lekkerkuier aan die Elster, die Pleisse en die Parthe by Leipzig, in konvooie toe sou opdaag aan die Liesbeek in die Kaap, hulle in dieselfde donker gat in die Kasteel gegooi sou gewees het deur die goewerneur en sy trawante met hul strak verversingsplanne, maar dat in ’n japtrap die mure van die VOC se pentagon sou omgeval het van toccatas, fugas en inheems- versmelte sarabandes.
Hannelore vra haarself halfydel hier, met ’n glasie soetwyn in die hand op die Oujaar as die gedagtes rafel, as aandagoefening ter 2012: As hierdie ontmoetings en ruilings kon plaasgevind het tóé, sou ’n mens dan dalk, kom die kromme van die neëntientagtigs – ná twee eeue van plaaslike Bach-Koranna passacaglias, beesteelt en korale – ’n internasionale kermis met ham-pale, kalbasse en sonneblomme aantref op Vlakplaas? Kontrapuntale epithalamiums wat eindig op een soos die syfers van Collatz in plaas van marteltubes, helikopters en gemarineerde askari’s?
En in plaas van alle daaropvolgende plaasmoorde, ’n musiek van versoening?