Wit mense toi-toi mos nie
2010-03-13 02:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
‘Wit mense toi-toi nie,” sê my Afrikaner-vriend in ’n gesprek êrens in 2008.
Ek was toe besig met ’n ronde gesprekke oor die totstandkoming van ’n nuwe burgerlike beweging, ’n soort UDF (waaroor ek sien Max du Preez ook nou die aand in Oos-Londen gepraat het).
Oop, nie-rassig, betrokke, vasberade om ons burgerlike verantwoordelikheid op te neem, die regering en politici vas te vat en tot verantwoording te roep.
Die bedoeling was daadwerklike, nie-gewelddadige optrede op verskillende vlakke, sodat politici gedwing sou word om na ons te luister. Daar was in die algemeen groot entoesiasme vir so iets.
My vriend het ook gereken dis ’n fantastiese idee – burgerlike mag van ’n ander soort, en nie ’n oomblik te vroeg nie. Die tyd is ryp. Nie-rassige, gesamentlike aksie is die antwoord. Om dié rede het ek die Bruin Belange Inisiatief afgewys.
Hy maak die opmerking oor wit mense toe half-verskonend, skalks glimlaggend, soekend na ’n weg vir deelname, maar bang vir iets wat in wit mense se koppe altyd aan die anti-apartheidstryd (dus aan swart mense se manier van doen) gekoppel sal bly.
Selfs my argument dat dit tog nie soseer meer om apartheid of anti-apartheid gaan nie, maar om geregtigheid en verantwoordelikheid, dat in die nuwe tyd dit ’n waarborg vir regeringsreaksie is en dat dit hoogtyd is dat ons dinge saam moet doen, maak nie hond haar-af nie.
Ek pleit: Kyk, die dinge waaroor ons kwaad is, is presies dieselfde: armoede, die godskreiende ongelykhede, korrupsie, onbevoegdheid, dienslewering, verkeerde toepassing van in beginsel goeie sake soos regstellende aksie, die verval van ons dorpe, werkloosheid, die arrogansie van ons politici, magsmisbruik, onreg, rassisme.
Dit help niks. “Wit mense toi-toi nie.” Dis blykbaar nie in hul bloed nie. Net soos in die kerk. Hulle sal miskien nog saggies ’n “amen” uitkry, maar ’n gulle “halleluja!” is buite die kwessie, en een of ander swaartekrag hou hul hande altyd onder hul ore.
Van koordans voor die kansel en in die gang praat ons nie eens nie ...
Maar dis natuurlik nie waar nie. Ek sê nie my vriend het aspris gejok nie, maar ons sien tog nou ’n ander storie?
Ek het altyd vas geglo die dinge wat ons saambind, is meer en sterker as dit wat ons verdeel. Selfs as ons praat oor die dinge wat ons kwaad maak.
Miskien was my vriend nog reg in 2008. Maar sake het baie vinnig verander, vererger en verkrummel en intussen het wit mense vuur en vlam geword.
Op dieselfde dag dat Cosatu aankondig dat hulle weer straat-op gaan marsjeer in protes teen die regering se onvermoë om aan die besluite van Polokwane reg te doen, en terwyl die vure in Sharpeville se strate nog nie behoorlik geblus is nie, reageer die minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake, Sicelo Shiceka, op die (wit, Afrikaanse) belastingbetalersverenigings wat hul geld van munisipaliteite weerhou omdat munisipale dienste so vrot is.
Soos die swart mense in Eldorado Park, Balfour en eintlik dwarsoor die land, sê ook die wit belastingbetalers dat dit “die enigste taal is wat die regering verstaan”.
Die minister is beswaard: Die belastingbetalers skep ’n “parallelle regering”, “ondermyn die kapasiteit van die munisipaliteite” en speel bowendien met vuur. “Hul aksie is onwettig.”
Hy gee wel toe die regering het met dienslewering gefaal. “Ons hande is nie skoon nie,” bely hy. Maar dié erkenning maak hy teenoor die vakbonde, nie teenoor die Suid-Afrikaanse publiek nie.
Ek kan Shiceka se reaksie verstaan. Dis 280 belastingbetalerverenigings waarvan ons hier praat, en al is die aksie volgens mnr. Jan Kelder, hul nasionale voorsitter, nog maar beperk tot ’n paar dorpe, is die potensiaal vir chaos groot.
Sannieshof is die groot voortrekker: Die belastingbetalers daar hou R1,3 miljoen terug en sorg self vir hul dienste.
Maar Kelder wys daarop die totale uitstaande bedrag vir die dorp is R103 miljoen. Die grootste ondermyner is die regering, wat self nie sy rekeninge by die munisipaliteit betaal nie.
Dié patroon herhaal homself dwarsoor die land, sê Kelder en noem ’n bedrag van R50 miljard wat deur verskillende regeringstakke aan munisipaliteite geskuld word. As die minister wil praat, “moet hy daar begin”.
Die belastingbetalersvereniging het ’n punt. Dienslewering is skandalig – van swak paaie tot watervoorsiening en vullisverwydering. Shiceka is met reg bekommerd: Hier kom ’n ding.
Vanwaar ek sit, het die minister nie ’n voet om op te staan nie. Daar word al lank gevra, gepraat en gesoebat. Korrupte amptenare kyk anderpad, vou die hande en wag jou letterlik uit – totdat jy moeg word en stil bly. Magsdronke politici vee hulle eenvoudig af. En wit mense toi-toi mos nie.
Nou tree die mense self op. Goed so! sê ek. En as die minister met die hof dreig? Só het dit geklink in die apartheidstyd en só klink dit weer. Niks nuuts nie.
Terughouding van belastinggeld is ’n ou, erkende vorm van geweldlose protes. En vir gegronde, geweldlose, burgerlike ongehoorsaamheid het mense altyd my steun. Solank ons net weet dat hierdie soort verset inderdaad dikwels die tronkdeur oopgooi.
Die minister moet maar eers die korrupsie hokslaan, die luies afdank, die regering sover kry om sy skuld te betaal en ophou om die munisipaliteite te ondermyn, en die munisipaliteite self vasvat sodat dienslewering op vaste, gereelde en waardige wyse geskied. Eers dán moet hy praat van hof toe gaan.
Nou kyk, dink ek, fantasties! Weg is al die apatie en klaery; daar’s hoop – of hoe? Waarom pla dit my dan? Wat is hier nie lekker nie?
Dít: Dit is geen burgerlike verantwoordelikheid nie, dis ’n Boere-aksie, vir “blankes alleen”, soos in die ou dae.
Wit mense toi-toi wel, maar apart, net vir hulself, vir die eie, aparte wit agenda waaraan die res van ons geen deel het nie.
Swart mense toi-toi met hul lywe op die straat, vir groter geregtigheid; wit mense met hul geldmag en hul greep op die ekonomie, vir die herstel van wit mag.
Die aktivisme borrel oor. Solidariteit sleep die regering oor alles en nog wat hof toe, marsjeer straat-op oor misdaad; die taaldebat word al hoe aggressiewer, al hoe leliker en al hoe eksklusiewer; die debatte gaan oor “Afrikaner-selfbeskikking”, ’n groter Orania, al is dit net een vir die siel, maar liewer ’n stuk land (’n provinsie êrens, suggereer iemand); ’n burgerlike beweging, maar ’n Afrikaner Burgerlike Netwerk (ABN).
Iets totaal anders as waarvoor ons al jare lank pleit en waarvoor die Afrikaner nooit kans gesien het nie.
Afrikaner- etniese mobilisering is hier om te bly – hard en skaamteloos. Die nuwe aktivisme is ’n (Afrikaner-) opstand teen die regerende (swart) establishment.
Nee, wit mense toi-toi wel, solank hulle dit net op hul eie, en vir hul eie, eiesoortige agenda kan doen.
En al die goed wat ons gemeen het?
Al die probleme wat ons gesamentlik kan aanpak en so mekaar se probleme leer verstaan, saam oplossings vind en hierdie onbeholpe regering kan laat sien wie Suid-Afrika werklik is en waar die mag en die toekoms werklik lê?
Al die drome vir ons demokrasie wat ons saam kan droom en saam kan waarmaak? Die toekoms wat ons saam vir ons kinders kan bou in die droom van ’n nie-rassige Suid-Afrika?
Dít staan eenkant, opnuut verweer deur die nuwe, gemaklike, maar lewensgevaarlike eksklusiwiteit.
Max du Preez vra oor die toesprake van Hermann Giliomee en Deon Geldenhuys by die ABN: “Is dit net ongelooflike onkunde, rassevooroordeel of goedkoop populisme?”
Dit maak nie saak nie, Max. As dit die instinktiewe antwoord is op die verlies van mag en die onkunde, rassevooroordeel en goedkoop populisme van die Julius Malemas van die wêreld, is dit reeds verby.
En die Afrikaner maak weer die verkeerde keuse. Die nie-rassige demokrate met hul liefde vir die land sal ander bondgenote moet soek.
Dr. Allan Boesak is buitengewone professor (teologie) aan die Universiteit Stellenbosch en hoof van die Globaliseringsprojek.