‘Wie mij volgt, heft mij nooit begrepen’
2012-02-17 23:48
Wat doen jy op Saterdae?
Meestal speel ek. My naweek begin Sondag.
Hoe lyk jou gemoedstoestand vandag?
Ek het wakker geword in die Swartland, en dis só warm hier dat daar nie sprake is van enige gemoedstoestand nie.
Wat behels aardse geluk?
Wees wie jy is.
Wat is die diepste put van ellende?
Die begin van ’n wonderlike tyd.
Waar woon jy, en waar sou jy eerder wou woon?
Ek woon in Suid-Afrika en België en Holland, en weens dié afwisseling het ek nie die gevoel dat ek êrens anders wil bly nie.
Wat is jou grootste tekortkominge?
Ek wil meer doen as wat ek kan, en daarom belowe ek soms goeters wat ek weens ’n gebrek aan tyd nie kan bewaarheid nie.
Met watter tekortkominge in ander kan jy saamleef?
Alle tekortkominge – solank mense dit self erken.
Wat kan jy nie verduur nie?
Magsmisbruik op alle vlakke.
En wie kan jy nie verduur nie?
Myself wanneer ek te veel praat.
Wat is vir jou snaaks?
(Die komediant) Bill Hicks wat die bemarkingswêreld uitmekaartrek.
Wie is jou lewende helde?
My seun, wat nou leer praat.
Wie is jou fiksiehelde?
Kuifie en Floris, ’n Hollandse televisieridder uit die jare sewentig.
Wie is jou gunsteling- historiese figure?
Marinus van der Lubbe, ’n Hollandse arbeider en kommunis wat daarvan beskuldig is dat hy die Reichstag in 1933 aan die brand gesteek het. Hy was die toonbeeld van ’n individu wat in sy tyd vermorsel word. Ek is meer lief vir die individu as vir die massa.
Wie of wat was jy in ’n vorige lewe?
’n Dolfyn.
Wie is jou gunsteling-musikant of -komponis?
Rachmaninoff en Randy Newman.
Wanneer en waar was jy op jou gelukkigste?
Êrens tydens ’n oomblik in die toekoms.
Watter oorsese stad sou jy graag nog wou besoek, en hoekom?
St. Petersburg, omdat ek mal is oor Russiese literatuur en al dikwels via dié boeke in die stad was.
Wie sou jy die graagste vir ete wou nooi?
My ma, wat nie meer hier is nie.
Wat sou jy dan vir ete maak?
Wat sy wil hê.
Watter eienskappe bewonder jy die meeste in ’n man?
Die vermoë om ver te kyk.
Watter eienskappe bewonder jy die meeste in ’n vrou?
Die verbinding met die aarde.
Wat waardeer jy die meeste in vriende?
Dat ons vriende kan wees sonder verpligtings.
Watter deugde beïndruk jou?
Integriteit.
En watter deugde laat jou koud?
Ambisie sonder inhoud.
Waarmee verwyl jy die graagste jou tyd?
Met lees en reis.
Wat verveel jou?
Small talk op gesellighede.
Wat is jou mees kenmerkende eienskap?
Die vermoë om te leer en my foute raak te sien.
Wat is jou grootste vrees?
Dat iets sal gebeur met ons kind.
Waaroor is jy spyt?
Oor dít wat ek soms nie gedoen het nie.
Wie is jou gunsteling-skrywers?
Allesandro Baricco, Fjodor Dostojewski en Dan Sleigh.
Wie is jou gunsteling-digters, en wat is jou gunsteling-versreël?
Fernando Pessoa, Heinrich Heine en Friedrich Nietzsche. “Wie mij volgt, heft mij nooit begrepen.” – Nietzsche
Wat is jou gunsteling-name?
Marieke (van die Jacques Brel-liedjie) en Varenka (my vrou se naam).
Wat is jou gunsteling-voël?
Icarus.
Oor watter gawe sou jy die graagste wou beskik?
Om deur tyd te kan reis.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Om in die middel van die nag in Antwerpen dronk op my rug op die grond te lê en te kyk na die katedraal se torings en te voel hoe klein ons is.
Wat is jou kosbaarste besitting?
Om eerlik te wees, daar is niks wat ek regtig besit nie... Maar dit wat ek die moeilikste sal kan loslaat, is my seun.
Wie of wat is of was die liefde van jou lewe?
Die lewe self.
Wat is of was jou heel grootste prestasie?
Om aan die begin van my loopbaan te dink ek wil eerder ’n versameling liedjies skryf wat saak maak as om na ’n treffer te soek. Daarom maak ek steeds met liefde musiek.
Hoe sou jy eendag wou sterf?
In my slaap in die tuin van die Kompanjie.
Wat dink jy gebeur met jou ná die dood?
Ek leef voort in mense wat ná my kom – net soos my voorgeslag voortlewe in mý lewe.