Wat die kind in die broodrak als gesien het
2012-01-13 21:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Dis vroeg, voor negeuur die oggend, en die winkels in Cyrildene, Johannesburg het pas hul deure oopgemaak.
Ek en Ufrieda Ho eet ontbyt by die Chinese restaurant Mongkok waar jy verby bakke vol gekookte hoenderpote tot by die tafels agter stap. En as jy deur die winkelvenster kyk – so tussendeur die okkerneutbruin gerookte eende wat van die toonvenster aan hul nekke hang – kan jy sweer jy is in China.
Ufrieda bestel in Kantonnees congee met honderd jaar oue eier by die matriarg van dié familie-onderneming. Congee is ’n Oosterse rysgereg wat tradisioneel as ontbyt geëet word.
Sy gesels oor haar memoire, Paper Sons and Daughters – Growing up Chinese in South Africa, wat uitverkoop het en nou herdruk word. Toe sy vertel van fahfee en die rol wat dié onwettige Chinese nommerspel in haar gesin se lewe gespeel het, rits haar vingers, sonder dat sy dit besef, ’n onsigbare beursie vinnig en behendig oop.
“Fahfee bestaan uit 36 nommers waarop spelers geld kan verwed. Dié nommers is op die een of ander manier verbind met drome, bygelowe, geluk en toeval,” vertel sy terwyl die herinneringe terugspoel.
“Elke speler het ’n klein beursie... Toe ek ’n kind was, is ’n regte klein beursie gebruik, veral ’n goedkoop, klein, ronde beursie met ’n ritssluiter, met hul wedgeld daarin en die stukkie papier waarop die nommer waarop hulle wed, geskryf is.”
Maar fahfee, sê sy, was nie sommer net ’n spel nie. “Hier in Suid-Afrika was dit ’n manier vir die armes in die swart en bruin woonbuurte om hul karige lone aan te vul. Dit is in die geheim bedryf, onder die neuse van die polisie en van wit werkgewers.”
Daar is destyds in die Chinese gemeenskap op die spel neergesien omdat ’n stigma daaraan sou kleef, sê sy. “Dit word verbind met die werkersklas; transaksies tussen die armstes van die armstes. ’n Vernederende praktyk.”
Maar haar pa, Ah Kee, was ’n fahfee-man. Hy was die “ma- china of Chinaman, soos hy in veral die townships bekend was”.
Ufrieda is ’n bekroonde joernalis en antropoloog en het in 2007 die Anthony Sampson-stigting se joernalistiekprys ontvang. Sy is innemend en praat sag, en dit verg ’n kopsprong om dié aanvallige, gesofistikeerde vrou te versoen met die prentjie wat sy in Paper Sons van haar grootwordjare as ’n Chinese kind in Suid-Afrika beskryf.
As universiteitstudent in antropologie het sy die Chinese gemeenskap in die land, en veral die voorkoms van fahfee, begin ondersoek. Die gevolg, Paper Sons, vertel van haar persoonlike belewenis as Chinese Suid-Afrikaner, maar ook van die veranderende gesig van dié gemeenskap weens die golf nuwe immigrante wat uit alle dele van China na Suid-Afrika stroom.
Die restaurant se matriarg bring die congee waarin stukkies groenswart eier opgekap is.
Ufrieda beduie om haar na Cyrildene, wat geleidelik ontwaak. Sy verwys na die buurt as “nuwe Chinatown” omdat die meeste nuwe Chinese immigrante in Johannesburg hul ondernemings hier vestig. “Ou Chinatown” is vir haar die gebied aan die ooste van Johannesburg, daar waar die reuse-Eastgate-winkelsentrum nou staan.
Haar ouers het in die jare sewentig en tagtig in ’n skakelhuis in Bertrams gewoon voor hul geldsake verbeter het en hulle ’n huis in Judith’s Paarl kon koop.
“Dit was sogenaamde grys gebiede, buurte wat volgens die Groepsgebiedewet steeds vir wit mense gereserveer was, maar waar die inwoners hulle min gesteur het aan die paar Chinese gesinne of Indiër- en bruin gesinne wat daar ingetrek het,” vertel sy.
Vroeër vanoggend het sy my hul destydse huis in Judith’s Paarl gaan wys. Dit was haar eerste besoek aan dié huis in byna ’n dekade, en die buurt het duidelik al beter dae geken.
“As ’n kind daar het ek nooit besef ek is anders nie,” sê sy. “Totdat jy groter en bewus geword het van jou ‘tussen-in bestaan’ as Chinees in Suid- Afrika, waar jy aan die een kant meer toegewings as jou swart medeburgers gekry het, maar nog steeds nie kon woon en werk en sake doen waar jy wou nie.”
Sy tref deesdae ’n onderskeid tussen “oorspronklike mense”, oftewel die Chinese families wat al geslagte lank in Suid-Afrika woon, en die “inkommers”, die nuwe immigrante. “As ek hier buite in die straat stap, weet ek onmiddellik of iemand ’n nuwe immigrant is en of hulle van hier is.
“Daar is ’n buffer, ’n skans... Ek dink dit is aan die een kant ’n taalgrens. Dit help dat ek Kantonnees kan praat, maar die meeste nuwe immigrante praat net Mandaryns omdat hulle van regoor China kom.”
Die eerste Chinese wat as arbeiders na Suid-Afrika gekom het om hier op die myne te kom werk, verduidelik sy, was hoofsaaklik van die suide van die land en het daarom Kantonnees gepraat.
“Gister het ’n vrou my in ’n winkelsentrum in Mandaryns gevra om haar te help, maar ek kon nie verstaan wat sy wou hê nie. Ek kon sien sy kon nie verstaan dat iemand wat soos ék lyk nie haar taal kan verstaan nie.”
So het vervreemding ook begin intree. “Die meeste van my vriendekring het opgehou om met mekaar of selfs met hul ouers Chinees te praat. Hulle kyk net Engelse TV.”
Dis uiteraard anders vir haar ouderdomsgroep se voorgeslagte. “Dié feit het ek besef toe ek die omslag van my boek vir my ma gewys het. Die woorde het geen betekenis gehad nie, want sy kon dit nie lees nie. Sy het haar vinger op my pa se foto gedruk en (in Kantonnees) gesê: ‘Dit is regtig my man’.”
Sy is ’n oomblik lank ingedagte. “Dit is hartverskeurend dat die lewe en opvoeding wat sy en my pa vir ons kinders wou gee, ons juis van hul kultuur en taal vervreem het.”
En tog, sê sy met ’n laggie, was daar onverwagse afdraaipaaie. “My ma kan Fanagalô praat, want dit was die taal van die man in die blou oorpak met wie sy elke dag oor die toonbank van haar winkeltjie gepraat het. Dit was die oorgangstaal tussen haar en die mense met wie sy elke dag te doen gehad het.
Destyds, onthou Ufrieda, het die werkers wat haar ma se winkel besoek het, haar die “kind in die broodrak” genoem – haar ma het haar dikwels op ’n kombers in die rak onder die toonbank laat lê. Van daar het sy die wêreld bekyk deur die oop kolletjies wat in die blou geverfde glasruit gekrap is.
Verandering en aanpassing in ’n nuwe land is ’n natuurlike proses, sê sy. “Dit is onmoontlik vir ’n immigrante-gemeenskap om staties te bly.”
En tog, erken sy, is die “oorspronklike mense” nie te geneë met die golf nuwe immigrante nie. “Van hulle kla gereeld by my: ‘Ufrieda, jy moet in jou artikels skryf ons is nie soos daai lok jays nie’. Dis ’n gelaaide term vir die inkommers van sentraal-China en dit verwys na iemand wat rou en boers is; iemand wat nie sy voete optel wanneer hy stap nie, in die straat spuug en jou uit rye stamp.
“Deesdae haal dié immigrante koerante se voorblaaie. Ek wil wegsink wanneer ek dink mense dink ek is weens my velkleur ook verantwoordelik vir perlemoen- en renosterstropery, mensehandel en prostitusie en die vloed fong-kong-produkte.”
Sy keer terug na fahfee, die spel van haar kinderdae. Die “inkommers” het die gesig van dié spel verander, sê sy. “Vir ons gesin was fahfee meer as net ’n dobbelspel waar jy ’n klein bedraggie op die spel sou plaas. Vir ons het fahfee beteken my pa – hy was basies ongeletterd – kon vir sy vrou en vier kinders ’n beter lewe gee, nou en dan bederf, sy eerste skedonk, ’n Cortina, aanskaf en ons uit die skakelhuis in Bertrams laat ‘opbeweeg’.
“Fahfee kon net in Suid-Afrika plaasvind omdat apartheid dit moontlik gemaak het. Dit het plaasgevind tussen twee groepe wat saamgespan het teen ’n wit owerheid wat hulle toegang tot finansiële en sakegeleenthede ontsê het.
“Vir my pa het fahfee swoeg en sukkel beteken; om voortdurend op die uitkyk te wees vir die polisie en altyd te probeer om ’n groter wins te maak. Dié wins het afgehang van geluk, maar dit het ook met risiko gepaard gegaan. In ons gesin het fahfee beteken ons loop die risiko om alles te verloor. En uiteindelik het fahfee my pa sy lewe gekos. Hy is een aand op sy fahfee-rondes deur ’n rower doodgeskiet.”
Haar pa het uit nood in dié “beroep” beland, sê sy. Baie Chinese het hul geboorteland sedert die eeuwisseling verlaat om agter die destydse goudstormlope in Suid-Afrika, Australië en Amerika deel te neem. Hier het hulle op die myne gewerk; swaargekry. Dié geskiedenis word in diepte beskryf in die navorsers Melanie Yap en Dianne Leong Man se 1996-boek Colour, Confusion and Confessions.
Ufrieda sê die goudmyne was destyds ’n lokmiddel, en mense soos haar grootouers en later haar ma en pa het gevare en ontbering op die oop see trotseer om uit China weg te kom. Dié land was in die laat jare veertig in ’n burgeroorlog gewikkel, daar was hongersnood ná die Tweede Wêreldoorlog en die inval van hul Japanse bure. Mao Zedong het sy kultuur-revolusie en kommunisme ingestel.
“Ek het van die eerste immigrante gevra waarom hulle juis in Suid-Afrika beland het. En die antwoord was altyd dieselfde: vooruitgang en die kans om rykdom te verwerf.”
Toe haar pa en ma hierheen getrek het, sou hulle nie kon dink fahfee sou eindelik vir ’n groot gedeelte van hul inkomste moet sorg nie...
“Dit het eintlik begin toe my oupa in die 1940’s in Johannesburg aangekom het om by my ouma se ouer suster en haar man te kom werk. Hulle het al ’n ruk in Johannesburg gewoon en ’n spazawinkel in Kliptown, Soweto, bedryf. Die idee was dat my oupa daar sou gaan werk totdat hy sy voete gevind het en sy eie potjie kon krap.
“My oupa en ouma was jonk en my ma was ’n klein meisietjie. Hy het sy vrou en dogter in China agtergelaat totdat hy genoeg geld gespaar het om hulle na Suid-Afrika te laat kom. Maar 18 jaar het verstryk voordat dit gebeur het. My ma was al ’n jong vrou toe sy en my ouma hom weer gesien het.
“Toe my ouma en my ma in die destydse Transvaal aankom, is hulle van vals identiteitsdokumente voorsien. Hulle was nou ‘paper daughters’, ’n direkte vertaling van ’n Chinese term vir ’n onwettige immigrant wat ’n nuwe identiteit van reeds gevestigde, wettige immigrante huur of koop om opsporing deur die owerhede te ontduik.”
Dit het egter beteken dat Ufrieda se ma ’n nuwe naam en geboortedatum gekry het – waar sy Fok Jouw Yee gedoop is, is haar naam in haar Suid-Afrikaanse ID-boekie as Low Yee Wan aangeteken. (Sy word deesdae Ah Yee in Kantonnees genoem en Yvonne in ander plaaslike tale).
Ufrieda se pa, Ho Sing Kee – of Ah Kee, soos sy gesin hom genoem het – het in die jare vyftig as verstekeling op ’n skip in Durban aangeland. Hy was sowat 18 jaar oud en is deur die inwoners van die dorpie waar hy gebore is, gekies om uit China te ontsnap met die vooruitsig van ’n beter lewe op die Johannesburgse goudvelde.
“Die dorpenaars het geld bymekaar geskraap om een van hulle weg te stuur. My pa was ’n weeskind en daarom is daar op hom besluit.”
In Suid-Afrika word hy toe ’n sogenaamde “paper son” – ook iemand met ’n nuwe, valse identiteit. “Johannesburg se paaie was toe nie met goud bedek soos hy gehoop het nie. My pa het gou besef hy is die ‘geel gevaar’ en dat hy nie maklik werk sal kry nie.”
En dit was toe, sê sy, dat hy ’n fahfee-man geword het, die sogenaamde “ma-china” of “Chinaman” wat die dobbelspel in veral die swart en bruin woonbuurte gespeel het om daar ’n paar note bymekaar te skraap.
Waar die Chinese gemeenskap in die land dikwels skaam is oor fahfee en die bestaan van dié dobbelspel ontken, is Ufrieda se boek ’n eerlike opgawe daarvan.
“Ek was dus aangenaam verras en bly toe van die ouer mense na my toe gekom het en gesê het hulle is bly ek het daaroor geskryf. Dit is ook húlle verhaal. Die ouer Chinese gemeenskap het hul land meestal in haglike omstandig- hede verlaat om ’n ander heenkome hier te vind. Hulle moes raap en skraap om te oorleef en hulself te vestig. Hulle was hardwerkend en spaar- samig, maar het veral onder die radar geleef.”
’n Inkomste uit fahfee, die onwettige spel waarvoor mense vandag skaam is, was dikwels ’n redding.
Vandag, sê Ufrieda, is dit anders. “Die nuwe immigrante hoef hulle nie op bote te versteek nie. Hulle is hier om sake- geleenthede te ontgin.
“Hul teenwoordigheid het selfs die gesig van fahfee verander. Voorheen, in my pa se tyd, was daar vasgestelde kodes. Daar was gentlemans’ agreements oor gebiede en banke. Jy het nie in iemand anders se gebied probeer oorneem of onderduims opgetree nie.” Deesdae kan dié spel egter soos enige ander spel – en op enige plek – gespeel word. Fahfee is nie meer ’n geheime reddingsboei vir spartelende mense nie.
Ufrieda raak vies wanneer sy dink aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in die land. Chinese is onder apartheid as ‘kleurling’ geklassifiseer, maar hulle was skielik nie swart genoeg om vir SEB in aanmerking te kom nie. In Junie 2008 het die hooggeregshof in Pretoria, ná ’n geveg van 9 jaar, besluit ‘swart’, soos dit omskryf is in die SEB-wet van 2004, sluit ook Chinese burgers in.
“Ek was aanvanklik daarteen gekant dat die Chinese op SEB sou aanspraak maak. Maar die dag toe ek ’n ou man ná die uitspraak buite die hof sien huil, het ek besef: ’n Mens huil nie oor SEB-aandele nie. Jy huil nie oor Sasol-aandele nie. Jy huil omdat daar uiteindelik erken word daar was ’n tyd toe jy van ’n bus afgegooi is; uit ’n restaurant gejaag is... Dit gaan oor menswaardigheid.
“Twee weke later het organisasies soos die Black Management Forum gal gebraak oor die Chinese se vermetelheid om vir SEB in aanmerking te kom omdat ons nie so swaar onder apartheid gely het nie...”
Dít, sê sy, was die enigste keer wat sy nog daaraan gedink het om die land te verlaat.
Maar hopelik, erken sy, sal haar boek help om wanpersepsies uit die weg te ruim – om te wys haar voorouers het óók swaargekry; hul nageslag verdien óók om hier te leef.
“My verhaal is ’n klein poging in die koor van verskillende stemme in ons land. Hoe meer stemme ons hoor, hoe beter gaan ons mekaar verstaan.”

Ufrieda noem die buurt Cyrildene “nuwe Chinatown”. Sy kom van elders en het grootgeword in “ou Chinatown.”

Haar ouers, Ah Yee en Ah Kee, op besoek in China.

Ufrieda Ho het kleintyd ure in haar ma se winkeltjie deurgebring, en kopers het haar “die kind in die broodrak” genoem. Foto’s: PAN MACMILLAN