Wat die ander hand nie weet nie

2012-02-17 23:48

Elke kunswerk is ’n ongepleegde misdaad, hoor HANNELORE F. BEKOKSTOWER by haar fotograaf-vriendin wat slegs haar eie hand in kuns omskep. Maar is daarmee alles gesê oor die plek van die kunstenaar in roerige tye?

Hannelore dank haar sterre dat sy ’n praktiese mens is, een wat werk met potte, temperature, ingrediënte; dat sy katoliek is in haar spektrum van resepte, bereidingswyses, smake. Van die meeste ander sake het sy slegs die oppervlakkige kennis van ’n leek wat google.

Sy het al geleer om doodstil te bly tydens gesprekke, onsigbaar in haar geblomde rok in die ewe geblomde met chintz oorgetrekte salonstoele aan huise van die Glansende Pilare van die Samelewing waar sy onvermydelik soms kom.

Dit is in sulke soort Bolandse salonne waar oppervlakkige reste van die Afrikaanse Kulturele Projek nog gaande is.

Vanaand maak sy bobotie by haar vriendin Petronella Mak-Van der Wee, die Kaapse fotograaf wat in tandem met haar tweelingbroer, Petrus Mak, die skilder, werk. Petronella het vooraf gewaarsku: wees tog ’n slag genre-getrou, Hannelore, bobotie is halfom kerriemaalvleis, ek wil geen improvisasies, fusies of intermedialiteite beleef nie, asseblief, hou dit suiwer, nie te veel uie nie, geen appelkose, rosyne of amandels nie, geen heel spesery, knoffel of gemmer nie, en in godsnaam nie ’n obsene, dik, geel laag joghurt en eier bo-op nie. Ek sukkel met ’n geïrriteerde derm.

Dit is ’n valerige bobotie, gegeur met, van alle dinge, Rajah-kerriepoeier wat Hanne­lore met ’n jammer hart daar in die asketiese kombuis aanmekaar staan en slaan. Ná die ete, weet sy, moet sy gebruiklikerwys die nuwe foto’s besigtig en daarom drink sy by voorbaat veel meer wyn as haar gebruik-like een glas. Wat sal sy kan uitdink om oor Petronella se werk te sê?

Vier jaar lank al fotografeer die Glansfotograaf uitsluitlik haar linkerhand, foto’s wat haar volgsame broer dan as uitgangspunt vir sy eie werke neem. Dit is hierdie jaar hul vyfde reeks van honderd en sewe hande. Die hele Blanjezicht, spreekkamers inkluis, hang al vol daarvan, van die psigiater tot by die plastiese chirurg.

Wel ontroerend, so ’n obsessie, dink Hannelore soos wat sy saam met Petronella, vanaand onverklaarbaar geklee in ’n seremoniële lang swart rok, langs die ry handefoto’s stap, almal rustend op ’n tafelblad, die palm na onder, in verskillende ligvalle en verskillend in emosionele inhoud na gelang die aard van die tafeloppervlak, ’n gesaghebbende hand op hout, ’n gelate hand op linoleum, ’n hand onverhelp op formika, Petronella se ouerwordende hand met die knopkneukels.

Dit is nou of nooit, dink Hannelore, en stel die vraag wat sy reeds drie jaar lank verbyt.

Petronella, waarom dan slegs die een hand van jou, dis so... uhm... rein.

Nie rein nie, éérlik selfrefleksief, sê Petronella, in haar stem van gort. Dis al waarmee ek, en Petrus, met ’n skoon gewete kan saamleef as kunstenaars in Suid-Afrika – hy vertaal in houtskool en waterverf wat ek doen met die kamera en my hand. Dis my eie onvervreem- bare en unieke hand, dit sê iets, maar slegs oor myself, dis ’n wit hand, ek wys hom helder en duidelik, hy is skoon en glad en verklap sy bevoorregting deur sy goeie manikuur en die mou waaruit hy steek, ek het niks meer om te sê nie.

Ek spreek my oor niks uit wat ek nie self met my eie oge letterlik aan den lywe binne my eie reikwydte kan aanskou nie.

Ek verkoop dit of gee dit weg aan gelykgestemde eweknieë. Ek verbeel my niks, en my broer volg my wat dit betref getrou op die spoor. ’n Mens kan nie rein wees in hierdie land as jy wit en bevoorreg is nie, maar ’n mens kan wel jou kuns rein hou, jou hart, van gode rein.

Gode? waag Hannelore dit, maar as jy jou eie hand honderde kere opvoer, is dit mos... uhm... ’n goue kalf of sorts. Wat van die mense, die plekke, die tye?

Die mense, die tye, kom en gaan, my hand is al waarvan ek seker is, ’n fragment, ’n verset teen alle vorms van totalisering, sê Petronella, haar mond ’n vaste burg.

Maar jy sal mos doodgaan van... begin Hannelore, maar kom nie verder nie. Eufemismes vir beskimmeldheid, ydelheid, selfontsegging, estetiese frigiditeit kan sy nie bedink nie en sy sê:... van gebrek aan adrenalien.

Adrenalien laat my so klappertand dat ek glad nie die sluiter kan druk nie, sê Petronella.

Maar wat van julle verantwóórdelikheid? vra Hannelore, ons lewe tog in ’n soort skandaal van geweld en onreg teen die armes in hierdie land, lees jy nie die koerante nie?

En net om haar punt te maak, waag sy dit om haar jongste Google-navorsing te berde te bring, Goya se Oorlogsrampe, etse van die mees afskuwelike dade tydens die oorloë en opstande in Spanje tussen 1808 en 1814.

As hý destyds oor ’n kamera beskik het, hoor sy haarself sê, sou dit van hom ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar gemaak het. Die wandade wat hy uitbeeld is vergelykbaar met die openbare moord, die death by state, van Andries Tatane in Ficksburg, om maar een voorbeeld te noem...

Petronella grimas asof iets haar in haar lies tref.

Ek en Petrus het kos en klere en ’n dak oor ons kop, ons kan ons nie aanstel om minderbevoorregtes se lyding of toorn of wanhoop uit te beeld nie, en buitendien, Goya het die wys­heid en goeie smaak gehad om die etse nie in sy eie tyd te publiseer nie.

Pas 35 jaar ná sy dood was dit veilig om sowel die Franse as die herstelde ryk van die konserwatiewe Bourbons te kritiseer. Buitendien, die etse is klein, delikaat, die uitvoering in beheerste kontras met die geweld wat uitgebeeld word.

Hannelore voel hoe haar binneknip losskiet.

My magtig, Petronella, kyk wat doen Steven Cohen, met ’n reuse-tandeborsel en ’n diamant in sy gat gaan skrop hy die pleine in Berlyn om die foltering van die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog te gedenk, die polisie het hom dadelik gearresteer.

As jy en jou broer nou iets vergelykbaar op die trappe van die Uniegebou sou presteer, ’n protesuitstalling teen die mentaliteit en die onreg in die land...

... sal niemand ons arresteer nie, sug Petronella, hulle het ander prioriteite daar. En Cohen, hmf, nou ja, hy is niks anders nie as ’n ekshibisionistiese klein bodyblogger.

Daar is, dink Hannelore, vitrioel in Petronella se toon, hoeveel soeter sou dit nie wees as sy kaneel en vinkel in haar verhemelte gedra het nie?

As kunstenaar, sê die Gewetensvolle Handvampier, moet ’n mens swyg oor die onuitspreek-like, gaan lees die Sondagkoerante daarvoor, maar moenie ons enigste vorm van kritiese transendensie, die kunsskepping, daarvoor misbruik nie.

Petronella tel ’n oop boek van haar werktafel af op, sy lees: “Egte talent is niks meer as suksesvol gesublimeerde woede nie, elke kunswerk is ’n ongepleegde misdaad.”

Jirre, Petronella, sê Hanne- lore, met daardie reëlboekie van jou lyk jy vir my na ’n kampwaardin in cocktail dress, waar kom jy in godsnaam aan die grunge-fluweelrok van jou?

As ek in so ’n kaftan geloop het soos joune, sal ek liewer stilbly, Hannelore, kyk liewer na my Hand 67, die een daar op die glasblad, sê Petronella, sien jy die oplossing, in kleur, van die kontradiksie tussen glas en vlees, die passiewe gewig van die hand, die kille weerstandige kwaliteit van die glas, die speling van die skadu, die resolusie van die toonwaardes?

Dáárin geïmpliséér, in dié forméle resolusies, lê die ónoplosbare kontradiksies van ons samelewing.

My hande is een vir een soos tikkende tydbomme, ’n mens kan die suggestie van ’n onderliggende kataklisme nie ignoreer nie, en terselfdertyd maak die werk geen konsessies aan die spektakelhonger van die populêre kunsmark nie.

You could have fooled me, sister, dink Hannelore. Sy vat haar jas en sak bymekaar. Waarom voel sy so ontsteld?

As sy huis toe loop, swets sy een stryk deur, die trane naby.

Mag ooit Saturnus jou vlei deur sy kind op te vreet in daardie ateljee van jou, mag ’n swart foto van skikgodinne swewend bo die aardkloot eens jou mure om middernag laat sidder, mag jy net éénmaal in jou siel beset word deur die ellendes van jou tyd, mag jy op ’n dag verontrus of verras of oorrompel word deur ’n gelukkige glips van ’n double exposure en daardeur op iets anders gebring word as blusgekookte menings, mag jy verlei word om risiko’s te loop of in konflik te verval, mag jou regterhand één keer vergeet wat jou linkerhand doen, en andersom, mag die chaos van die heelal ooit deur­vibreer tot in jou en jou stomme broer se sogenaamde formele “resolusies”, soos in die getormenteerde mensvlees van die figure van Francis Bacon.

Totdat dít die dag begin gebeur, heet jy in my boek: Petronella-help-jouself. Ek sal nottef*k verder my kookkuns deur jou laat beknot nie; volgende keer kry jy vir jou ’n hotdog van Estcourt.




 

binne die burger

Weather
Lottery
Cpt: 13-20°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bloem: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Senior Java Developer (Team Leader)

JHB - Northern Suburbs
Network IT Bruma
R35000 - R42000

Database Administrator

JHB - Northern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R500000 - R550000

DBA

JHB - Northern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R500000 - R550000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

VOLVO

S40 2.0 MY06
2007
R 185,000.00

LAND ROVER

Defender 110 Puma 2.4 D Cr-Cab HCPU 4x4 Dsl
2008
R 229,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.