Verewig in skrif (of nie?)
2012-01-13 21:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Jou e-boek is deesdae beskikbaar met...
- bygewerkte inligting
- gekorrigeerde spelling
- fraaier teksformatering
- reggestelde tikfoute
Klink dié aanpassing nie dalk soos iets uit George Orwell se 1984, waarin die gedrukte geskiedenis aangepas word, nie?
CAROLYN MEADS stel ondersoek in.
Daar is die geval van die onskuldige tikfout, of die vermiste kopieregreël, of die sin wat jy tik in ’n oomblik van onbesonnenheid wanneer die muse met jou tiekiedraai. En voordat jy jou oë uitvee, is die boek in druk en is jou fout in swart-op-wit verewig... Maar met e-boeke hoef dit nie meer so te wees nie.
Kort nadat hulle die splinternuwe Steve Jobs-biografie deur Walter Isaacson as e-boek aangeskaf het, het sommige kopers ’n e-pos ontvang met die versoek dat hulle hul ou weergawe van die boek uitvee en ’n nuwe weergawe aanlyn aflaai. Dit was nie omdat ’n fout of sappige leuen met die publikasie van die eerste uitgawe ingesluip het nie.
Nee, Apple se iTunes-winkel het bloot probleme ondervind met die formatering van die oorspronklike e-boek, en veral die aflaai van foto’s, en wou sy klante ’n verbeterde uitgawe aanbied.
’n Klein gunsie, maar met groot implikasies. Want dit gebeur al hoe meer dat jy jou e-boek, byna soos jou rekenaar se sagteware, kan bywerk.
Dié vermoë van e-boeke sou nuttig te pas gekom het in die geval van die 7 000 eksemplare van Pasta Bible wat in 2010 in Australië verpulp moes word omdat ’n resep per ongeluk na “ground black people” in plaas van “ground black pepper” verwys het.
Die geskilletjie rondom die kopiereg van sommige van die resepte in Anita en Deon Meyer se kookboek Kom Eet! sou maklik met ’n bygewerkte e-boek opgelos kon word, terwyl Koos Kombuis homself baie tyd en energie sou kon spaar deur onmiddellik die gewraakte gedeelte oor Anton Goosen uit sy 2009-outobiografie, Die Tyd van die Kombi’s, te haal uit ’n nuwe e-boekweergawe eerder as om tot in 2011 te wag sodat hulle buite die hof kon skik.
“Dit is een van die voordele van e-boeke,” sê Jeremy Boraine, ’n uitgewer van Jonathan Ball Publishers. “Wanneer ’n fout deurgeglip het, kan dit onmiddellik in die e-boek reggestel word.
Die uitgewers hoef nie, soos by gedrukte boeke, te wag totdat die eerste oplaag uitverkoop is voordat hulle die veranderinge in die tweede druk aanbring nie.”
Mark Seabrook, digitale direkteur van Random House Struik, noem egter dat e-boeke steeds meestal saam met ’n gedrukte uitgawe gepubliseer word, wat in elk geval ook verander en herdruk moet word indien ’n fout iewers insluip. Maar dit kan in die toekoms verander. En dít is wat ’n mens laat wonder oor die moontlikhede wat hierdie aanpasbaarheid van e-boeke kan inhou.
Die hoofrede waarom ’n nuwe e-uitgawe van nie-fiksie aangevra word, is wanneer nuwe inligting oor die onderwerp aan die lig kom wat tot ’n bygewerkte en geredigeerde uitgawe kan lei. Anton Rupert het byvoorbeeld kort ná die verskyning van sy biografie in 2006 gesterf. Indien dit ’n e-boek was, sou die uitgewer ’n bygewerkte uitgawe bekend kon stel sonder om te wag dat die eerste oplaag uitverkoop.
Izak de Vries, publikasiebestuurder van Protea Boekhuis, wys daarop dat dieselfde tyd en koste ter sprake is met die redigering, uitleg, gehaltebeheer en dies meer by die bywerk van e-boeke as by gedrukte boeke. Maar Simon Nye, besturende direkteur van Mousehand, ’n maatskappy wat skrywers help om hul boeke self uit te gee, sê wanneer net klein foutjies in ’n e-boek reggestel moet word, dit net ’n paar uur van ’n ontwerper verg, en dit teen ’n relatief lae koste.
Die leser het ook vinniger toegang tot die bygewerkte e-boek, want druktyd word uit die proses gesny, verspreiding gebeur vinniger en die e-boek kan blitsig afgelaai word.
Met e-boeke is daar inderdaad die moontlikheid dat nuwe inligting voortdurend bygewerk kan word en die statiese aard van boeke só kan verander.
Hermann Giliomee en Bernard Mbenga se Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika is ’n goeie voorbeeld hiervan, sê Sarietha Engelbrecht van Naspers Labs. Dit is oorspronklik as gedrukte boek uitgegee en hoewel dit nie ook ’n e-boek is nie, is dit in ’n webtuiste, nuwegeskiedenis.co.za, omskep. Dié word deurgaans bygewerk. Die elektroniese Suid-Afrikaanse Ensiklopedie word weer by myfundi.co.za op datum gehou.
Maar Arthur Attwell, medestigter van die digitale uitgewery Electric Book Works, sê ons vertrou die gedrukte boek juis omdat dit staties is en ’n samehangende geheel vorm. Voordat boeke “veranderlik” word, meen Attwell “sal ons ons idee van boeke drasties moet verander”.
’n Ingeboude geskiedenis van die verskillende uitgawes in ’n e-boek sal wel volgens hom help om ons vertroue in ’n “veranderlike boek” te versterk.
’n Rekord van die verskillende uitgawes van ’n boek is belangrik, sê Nellèke de Jager van Kwela-uitgewers. Sy verwys na die feit dat elke uitgawe van ’n boek volgens die ISBN-stelsel ’n unieke nommer kry wanneer meer as net ’n paar tikfoute daarin verander word.
“Ek vermoed uitgewers sal versigtig wees om willens en wetens sommer e-boeke by te werk sonder dat tred gehou word met die verskille tussen verskillende uitgawes,” sê sy.
Al verleen nie-fiksie sigself die beste tot bywerking, sê Jeremy Wightman van HSRC Press , word veranderinge nie ligtelik aan hul akademiese boeke gemaak nie, omdat dit juis op bewyse gegrond is en aan portuurbeoordeling onderwerp word. Daarom glo Boraine ook dat bestaande nie-fiksie waarskynlik staties sal bly.
“Maar daar kan moontlik ander genres ontstaan wat meer ‘veranderlik’ is,” sê hy.
’n Mens verwag nie dat ’n fiksiewerk bygewerk sal word nie, veral nie in so ’n mate dat die storie verander nie, maar dit is presies wat Richard North Patterson met sy roman The Devil’s Light gedoen het.
In die oorspronklike boek beplan Osama bin Laden ’n kernaanval op die VSA. Net vóór die boek verskyn het, het die werklike Bin Laden egter in ’n aanval op sy vesting in Pakistan gesterf. In resensies van die boek is daarop gewys dat Bin Laden reeds dood is en die storie daarom verouderd. Patterson het sy roman toe aangepas sodat Bin Laden daarin doodgaan en die “nuwe” weergawe as ’n e-boek uitgegee.
Dit laat ’n mens wonder: Sal die aanpasbaarheid van e-boeke skrywers beïnvloed om voortdurend hul boeke by te werk? En kan resensente en lesers ’n invloed op toekomstige weergawes van ’n boek hê?
Hoewel die moontlikheid bestaan, meen die meeste uitgewers dit sal nie sommer gebeur nie.
“By ’n formele uitgewer sal daar altyd ’n punt wees wanneer die finale manuskrip oorhandig moet word,” sê Seabrook. “Maar daar is beslis die geleentheid om ’n boek in dele of stadia uit te reik.”
Attwell noem die voorbeeld van O’Reilley Media se Rough Cuts-inisiatief, waar lesers toegang tot ’n boek in sy vormingsfase kry. Hul insigte word dan gebruik in die skaaf en finalisering van die eindproduk.
Volgens Attwell is dit moeiliker om lesers se insigte so in die kommersiële bedryf te inkorporeer omdat dié lesers dan vir hul bydrae vergoed moet word.
“Maar sulke ‘oop’ projekte kan dalk in nie-kommersiële gevalle ontstaan.”
Mousehand se Nye sê: “E- boeke leen hulle beslis tot leserbetrokkenheid. Wat ons nou sien, is net die oortjies van die seekoei.”
- Carolyn Meads is besturende redakteur van bookslive.co.za.
- Lees Maandag ’n resensie op die boekeblad in die hoofkoerant oor watter sakelesse Isaacson se Steve Jobs inhou, geskryf deur Antonie Roux van MIH.