Siembamba, Mamma se slaansak
2012-02-17 23:48
Die saak van ’n Kaapse ma wat haar tweejarige seuntjie glo vermoor het, was vandeesweek weer in die hof. Dié tragiese verskynsel is veel meer algemeen as wat ons dink, skryf LOU-MARIÉ KRUGER – en ma’s wat moor, moet met deernis en begrip bygestaan eerder as veroordeel word.
In 431 v.C. beskryf Euripides se koor die mees berugte moordenaar-ma van alle tye – Medea: “Woman of stone, heart of iron, / Disconsolate woman, ready to kill / The seed of your hands with the hand that tilled.”
In die gelyknamige toneelstuk vermoor Medea haar twee seuns toe sy hoor haar man, Jason, was ontrou. Vrou van klip; hart van staal.
Tog toon Euripides ’n mate van deernis en begrip vir sy heldin: hy beskryf haar as troosteloos, en sy verwoord haar selfverweer so: “Of all creatures that can feel and think, we women are the worst treated things alive.”
Eeue later skryf die dramaturg Athol Fugard sy toneelstuk The Train Driver nadat Pumla Lolwana in 2000 op die Kaapse Vlakte met haar drie kinders voor ’n trein ingestap het.
Die Medeas of Pumlas van die wêreld is nie so uniek soos ’n mens sou dink nie – die ondenkbare gebeur veel meer, en ma’s wat hul kinders om die lewe bring, is nie ’n seldsame verskynsel nie.
Vandeesmaand het ’n ma van Eerste- rivier met haar twee kinders in haar arms voor ’n trein ingespring. Net ’n maand tevore is Zulpha Jacobs van Mitchells Plain daarvan aangekla dat sy haar tweejarige seuntjie, Taariq, vermoor het.
Buite die hof het die gemeenskap gedreunsing: “We want Zulpha, we want Zulpha”.
Maar die skare se woede, soos dié van Euripides se Griekse koor, was waarskynlik nie nét op Zulpha gemik nie. Dit was ook die gemeenskap se verset teen die moontlikheid dat ’n ma enigiets buiten liefdevol en versorgend teenoor haar kind sal optree. “Dis mos onnatuurlik vir ’n ma om so iets te doen,” het een van Zulpha se buurvroue buite die hof aan ’n joernalis gesê.
Sulke reaksie is nie ongewoon nie: wanneer ’n ma haar eie kind skade aandoen, word dit gewoonlik wyd veroordeel.
Tog is die veronderstelling dat dit vir vroue natuurlik is om hul kinders lief te hê en te versorg, eintlik problematies. Vir baie vroue is moederskap ’n veel meer ambivalente ervaring as wat die samelewing toegee.
In haar 1981-gedig “Hoe en Waarmee Oorleef Mens Dit” verwoord Antjie Krog die impak wat moederskap op ’n vrou kan hê:
die kinders rand my aan met hulle luidrugtigheid
selfsugtigheid
astrantheid
vernielsugtigheid
hulle vrese komplekse onsekerhede dreigemente node
kap my “beeld as moeder” steaksag op die plankvloer
En: “ek is dikbek soos ’n meelsak... / deel slae uit halfhartig teen die kabaal.”
Ook in die jare tagtig, maar in die VSA, verwys die digter Adrienne Rich na “the invisible violence of the institution of motherhood”.
Soos Krog, suggereer sy dat die moeder-kind-verhouding as gewelddadig ervaar kan word – deur albei partye.
In die Februarie-uitgawe van die tydskrif Feminism & Psychology skryf die Britse navorsers Louise Murray en Mark Finn dit is vir ma’s algemeen om destruktiewe gedagtes oor hul kinders te hê.
Die byna taboe onderwerp van moederlike aggressie is ook in 1999 deur Sarah Blaffer Hrdy in haar boek Mother Instinct bespreek.
In dié ondersoek na die idealisering van moederskap en die mite van moedersinstink beskryf Hrdy die toenemende bewuswording in die jare tagtig dat kinderverwaarlosing en -verlating en selfs kindermishandeling en -moord meer algemeen voorkom as wat voorheen erken is. Soos Moeder Natuur, beweer sy, het alle moeders ’n wrede kant.
Waar kom dié donker gedrag vandaan?
In ’n onlangse studie onder vroue met depressie in die lae inkomstegroep het ek en my span navorsers, almal verbonde aan die departement sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch, weer bewus geword van die moeilike omstandighede waarin vroue soms hul kinders moet grootmaak.
Die gemiddelde huishoudelike inkomste is R3 000 per maand, en die meeste van die vroue is alleenma’s.
Hulle woon in opslaanhuisies in agterplase of deel ’n kamer in ’n gesinswoning met hul kroos. Dié wat werk, doen hande-arbeid of maak huise skoon.
Die vroue het min of geen ondersteuning.
In sulke omstandighede is moederskap ’n ambivalente ervaring en depressie algemeen.
Die vroue se depressie manifesteer dikwels as woede. “Ek sê vir hulle as ek nou my depressie uitbeeld... kyk, ek is nou lekker bedonnerd vandag, vandag moet niemand met my mors nie,” sê een. “Nou begin daai woede weer so opstoot, en dan moet niemand in my pad staan nie, want ek is dan net daai kwaai beer.”
Nog ’n vrou beskryf haar depressie as “kwaadgeid, anger, frustrasie”.
Wanneer depressie in vroue as woede manifesteer, is die teiken dikwels hul kinders. Wat volg, is verwaarlosing, mishandeling en selfs moord.
In die woorde van een van die respondente: “Ek het die manier gehad as hulle (kinders) vir my kwaad gemaak het, dan het ek hulle sommer met die vuis bygedam, of ek het hulle gewurg of met ’n ding gegooi om my sin te kry...”
’n Ander respondent het haar woedebuie in ontstellende besonderhede beskryf: “(My dogter) doen die tweede jaar graad nege. Ek het ’n brief gekry van die skool laas jaar dat sy gedros het. Ek freak uit en ek skel en ek vloek, want ek sê: Hoe de blerrie hel? Waar was jy as ek vir jou skool toe stuur? En ek het haar verskriklik geslaan soos ’n man ’n man slaan met die vuis. Ek het haar hare beetgekry, ek het haar gesig hier voor by my ma-hulle op die sement gekap.
En dis toe nog nie genoeg vir my nie. Dit lyk my ek kan nie genoeg uiting gee aan my gevoelens nie... En ek vat ’n belt en ek slaat vir haar daarmee op die been.”
As die samelewing meestal hoë en selfs idealistiese verwagtinge van ma’s het, het vroue dit selfs meer. Selfkastyding en -verwyt is nie ongewoon by ma’s wat meen hulle is nie goed genoeg nie.
Die idealisering van moederskap is klasloos. Nes middelklasvroue hulself bekommer oor hul beeld as ma, het die vroue wat aan ons studie deelgeneem het, onrealistiese verwagtings van hulself. Selfs arm alleenma’s dink ’n kerngesin, met ’n ondersteunende pa en ’n ma wat tuis bly om die kinders op te pas, bied die beste konteks om kinders groot te maak – iets wat vir die meeste Suid-Afrikaanse vroue onmoontlik is.
Die respondente in ons studie glo goeie ma’s is altyd teenwoordig en bereid om alles vir hul kinders op te offer. “’n Goeie ma, sy voorsien eerste vir haar kind voor sy ander dinge doen,” sê een vrou. ’n Goeie ma, sê nog een, is iemand wat oor die volgende eienskappe beskik: “om lief te wees vir haar kinders, om om te gee, om te kyk na hulle, hulle op te pas, om altyd daar te wees vir hulle as hulle ’n ma nodig het of so”.
Niemand kan hiermee verskil nie, maar dit is ideale wat moeilik verwesenlik word in armoedige omstandighede waar daar min of geen ondersteuning vir ma’s is. In sulke omstandighede word kinders vir ma’s die herinnering aan hul eie mislukking.
Daar is ook ingewikkelder psigologiese redes vir waarom kinders soms die teikens van hul ma se woede word. Soms vereenselwig ma’s hulle só met hul kinders dat hul dissiplinering van die kinders byna ’n soort selftugtiging word.
Eerder as om die selfvernietigende gedrag te toon wat gewoonlik met depressie verbind word, is daar by dié vroue die dikwels onbewuste, irrasionele drang om die mense met wie hulle hulle die meeste vereenselwig – en wat die meeste van hulle verwag – te vernietig.
Aan die ander kant van dieselfde kontinuum van ambivalente moederskap is die ma’s wat ons almal gehad het of self is: daardie ma wat op haar kind skree omdat sy nie genoeg klavier oefen nie, of haar probeer oorreed om te gaan draf om daardie ekstra gewig af te skud. Hierdie tipe gedrag is oënskynlik onskadelik en word nie deur die samelewing veroordeel nie, maar word tog as aggressief en ondermynend deur kinders ervaar.
“Miskien is vroue nie minder aggressief as mans nie; ons wys ons aggressie net anders, in (deels verbloemde of ontkende) maniere wat die samelewing goedkeur,” skryf die psigoanalis Jane Flax in haar artikel “Mothers and daughters”.
Waar min ondersteuning en min hulpbronne is, is dit te verwagte dat dié aggressie in meer ekstreme vorme geartikuleer sal word.
Vroue wat hul kinders om die lewe bring, is nie noodwendig slegte mense nie. Hulle is dikwels nie psigoties nie. Hulle is waarskynlik bloot desperaat en depressief – vroue wat hulle bevind op die verste end van die kontinuum van moederlike ambivalensie.
- Prof. Lou-Marie Kruger is aan die Universiteit Stellenbosch se departement sielkunde verbonde.