Seks, dwelms en volkspele

2012-01-20 22:27

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Die trekboere en Voortrekkers het boom gerook en was ’n klomp rowwe, hitsige mans. En die trekkervroue? Te oordeel na die vroue in Robin Binckes se pas verskene roman wat afspeel teen die agtergrond van die Groot Trek, Canvas under the Sky, was hulle wulps en sedeloos. Hulle het op die katel in mekaar se arms troos gevind en was nie sku om af en toe die daggapyp nader te trek nie. Of so glo Robin.

Die prikkel op die voorblad van sy boek klink nie juis na ’n tipiese opsomming van die geskiedenis soos ons dit ken nie. Dit is “an epic historical blockbuster” wat gaan oor “the sex, drugs and volkspele of the Great Trek”.

“Hulle was dalk Calvinisties ingestel, maar daardie prentjie van die trekboere strook nie met die beskrywing van reisskrywers wat hulle destyds by hul hartbeeshuisies raakgeloop het nie,” sê Robin in die studeer- kamer van sy meenthuis by die Riverclub in Johannesburg. Sy twee swart Skotse terriërs, Campbell en Argyle, lê by sy voete en luister met gespitse ore na hul baas.

“Die trekboer is (deur dié reisskrywers) beskryf as gewoonlik ’n groot en fris kêrel van oor die ses voet met ’n hoë seksdrang wat hy bevredig het by sy vrou, maar ook by Khoi-Khoi-houvroue by wie hy dikwels ’n groot kroos verwek het.”

Die hoofkarakters in Robin se roman doen dié beskrywing gestand eerder as om te klink na die konserwatiewe, Godvresende figure uit die geskiedenisboeke.

In Robin se roman spat die vonke tussen die warmbloedige jong trekboere, en veral tussen die hoofkarakter, die 17-jarige boerseun Rauch Beukes, en die drie vroue in sy lewe: Amelia, die aanvallige dogter van ’n Britse setlaar; Marietjie, die asemrowende boeremeisie van Graaff-Reinet; en die eksotiese Katrina, die Beukesse se vrygestelde slaaf van Indiese afkoms.

Hoewel sy boek fiksie is, verskyn verskeie historiese figure op die bladsye: die Xhosa-hoofman Hintsa, die Zoeloe-koning Dingaan, die gevreesde Silkaats, die Britse bevelvoerder sir Harry Smith asook die trekkerleiers Hendrik Potgieter, Piet Retief, Gerrit Maritz, Louis Trichardt en Sarel Cilliers. Maar dis eerder in die kantlyn van die geskiedenis waar dinge wild raak.

“My boek begin in 1834,” vertel Robin. “Daar is onrus op die Oosgrens. Die Xhosas hervat weer van oorkant die Visrivier aanvalle en strooptogte op die boere en die Britse 1820-Setlaars. Rauch, sy pa se jongste seun en gunsteling, kom saam met sy pa van Kaapstad op hul grensplaas aan met ’n gehuurde wa vol benodigdhede soos materiaal, klere, vate buskruit, boumateriaal en tuingereedskap. By hul aankoms is hul hartbeeshuisie afgebrand, ma en meisiekinders met assegaaie doodgesteek en hul vee weggevoer.

“Die boere is keelvol vir die Britse regering se valsheid en onregverdigheid en vir sy onwilligheid om teen die Xhosa op te tree. En daar is sprake dat boere en sakemanne soos die welaf wamaker Gerrit Maritz van Graaff-Reinet en Hendrik Potgieter van Tarka dit oorweeg of selfs gereed maak om binneland toe te trek om weg te kom van die Britse Regering...”

Teen dié agtergrond skets Robin die verhaal van die Sesde Grensoorlog en die trekboere se besluit om saam met die Xhosa-mense teen die Britte te veg.

Die boek herinner lesers aan die oorbekende gebeure van die Groot Trek, maar dit is eerder die warm sekskapades wat die verhaal eiesoortig maak en reeds aandag begin trek het. Daar is, byvoorbeeld, twee vroue wat troos in mekaar se arms vind nadat hul mans deur Dingaan se mense gedood is, die man wat sy seun se 15-jarige nooi by hom afvry, en die vrou wat sommer tydens die slag van Vegkop twee mans na haar wa lok vir ’n groepswoeps.

Het Robin verwysings na dié lakenkaskenades tydens sy navorsing vir die boek iewers tussen die lyne raakgelees, of het hy die sekstonele uit sy duim gesuig?

“Ek het dit ’n bietjie oordryf omdat die storielyn en die gebeure dit vereis het,” bieg hy.

Tog glo hy die trekkers was nie die engele wat ons dink hulle was nie. “Magtig, hulle was dan mense van vlees en bloed soos ek en jy!”

En die daggarokery onder die trekkers? “Wel,” erken hy, “dit staan nêrens swart-op-wit dat die trekboere en die Voortrekkers dagga gerook het nie. Ek maak die afleiding.

“Die boer en sy pyp was onafskeidbaar. Nou gaan jy my vertel dat hulle altyd twak by hulle gehad het en nooit dagga in hul pyp gestop het nie? En dit terwyl almal met wie hulle in kontak gekom het – die Khoi-Khoi, die Xhosas en die Zoeloes – dagga gerook het en dit as ruilmiddel gebruik het?”

Robin het sy navorsing deeglik gedoen voordat hy drie jaar gelede aan sy verhaal begin skryf het. Hy beduie na sy boekrakke wat kreun onder geskrifte oor die Groot Trek deur swaargewig-historici en -skrywers: Gustav Preller, Richard Elphick, Hermann Giliomee, A.F. Gardiner, Johannes Meintjies en selfs Stuart Cloete se Turning Wheels en James A. Michener se The Covenant.

“Ek het besef dat die trekboere in dié naslaanwerk stokkerig en tweedimensioneel uitgebeeld word. Al wat hulle doen, is kerk toe gaan en bid en Bybellees.”

Hy grinnik ondeund. “Toe ek met my boek begin het, het ek myself afgevra: ‘Wat is nog nie oor die Groot Trek geskryf nie?’

“Een van die goed wat jy nog nie in enige publikasie teëgekom het nie, is die trekkers se daggarokery. My roman is fiksie, maar die geskiedenis daarin is akkuraat. Ek sê nie dit is histories korrek dat die trekkers dagga gerook het nie, maar ek het dit in die verhaal ingebring, want ek dink dit is hoogs waarskynlik dat hulle dit wel gedoen het.”


Met dié roman debuteer Robin op die ouderdom van 70?jaar. Hy vertel die storie van die Groot Trek egter al sedert 2002 in sy hoedanigheid as toergids by die Voortrekkermonument en Vlakplaas.

Robin besit die reisagentskap Spear of the Nation en sê hy beskik oor die kuns om die geskiedenis “lewendig” vir toeriste en besoekers te maak. Dié kuns het hy geleer by die meesterverteller van die “geskiedenis-storie”, die vermoorde geskiedkundige David Rattray.

“Ek het in 1995 by sy bekende lodge, Fugitives Drift, in KwaZulu-Natal oorgebly en hom toe in aksie gesien. Almal het aan sy lippe gehang toe hy die storie van die slag van Isandlwana en dié van Rorke’s Drift tussen die Britte en die Zoeloes vertel op die toneel waar dit plaasgevind het. Ek was in trane.

“Ek en David het vriende geword, en ek het vir hom gesê ek wens ek kon die geskiedenis oordra soos hy dit doen. Maar in daardie stadium was my kennis van die Suid-Afrikaanse geskiedenis beperk tot dit wat ek op skool geleer het.”

Dié geskiedenis is ook deels Robin s’n. “My familie aan moederskant, die Calverleys, was een van die eerste 1820- Setlaargesinne wat grond by Umtata (deesdae Mthatha in die Oos-Kaap) van die hoofman ontvang het.”
Robin is in 1941 in Umtata in die destydse Transkei gebore en het daar grootgeword. Hy het sedert 1970 in die reklamebedryf gewerk en was betrokke by die bemarking van groot sportgeleenthede, veral motorsport en krieket, in die isolasiejare.

“Dit was in die tyd toe die voormalige president F.W. de Klerk nog minister van sport was,” sê hy en beduie na die geraamde brief teen sy kantoormuur waarin De Klerk hom bedank vir sy bydrae tot sport in Suid-Afrika.

Robin het by sport betrokke geraak toe hy en die destydse Springbok-krieketspeler Lee Irvine in die vroeë jare sewentig die Datsun Double Wicket Cricket International-toernooi begin het. Die twee het ook gesorg vir aandkrieket in Suid-Afrika toe hulle die Benson&Hedges-reeks begin het.

Robin het sy maatskappy Gansbaai Fishing in 1990 begin en tien jaar lank in die voedselbedryf gewerk. Een van sy ondernemings was die koswinkel RB’s Theatre of Food in Johannesburg. En toe stort alles in duie. “Op 59 het ek alles verloor. Elke sent.”

Ondanks dié beproewing lyk hy gelate oor die swak sakebesluit wat destyds afgestuur het op die ommekeer in sy lewe.

“My vrou, Margie, vra toe wat ek gaan doen, en ek sê die enigste ding waaraan ek kan dink, is om te doen wat David Rattray doen.”

Robin het inligting oor die Anglo-Boereoorlog begin verslind en in 2002 by die Drum Beat-akademie in Pretoria as toergids gekwalifiseer.

“Een van die projekte wat ek vir dié kursus moes doen, was oor die Voortrekkermonument. Ek dog toe: Wat ’n vervelige plek! Maar toe ek meer oor die geskiedenis van die monument begin lees, is ek geboei deur die gebeure wat tot die oprigting van die monument gelei het. Ek was gefassineer deur die ongelooflike storie.

“Ek het nie toe gedink ek gaan eendag ’n boek daaroor skryf nie, maar hoe meer ek van die Groot Trek geleer het, hoe meer wou ek ander vertel hoe werklik ongelooflik die verhaal is.”

En tien jaar later is dié droom eindelik verwesenlik met die publikasie van sy debuutroman.

Hoewel Canvas aansluit by die uitgebreide verhaal van die Groot Trek, wou Robin juis eerder die storie vertel wat dikwels tussen die lyne van die amptelike geskiedenis versteek lê: die intieme intriges en vergete verhoudings wat grootse geskiedenis alte menslik maak.

Hy wys na ’n stapel boeke op die vloer van sy studeerkamer. In vroeëre reisskrywers soos O.F. Mentzel, H. Lichtenstein en Hendrik Swellengrebel se werk het hy afgekom op beskrywings wat die trekkers laat klink het na mense van vlees en bloed; allermins na edele helde.

Wat dikwels in die geskiedenisboeke onderspeel word, sê Robin, is beskrywings deur reisskrywers van die tyd wat die trekkers geskets het as “lui en traag”.

Hy het pas nog ’n boek voltooi waarin spesifiek op hierdie gegewens gekonsentreer word – die werkstitel is The Great Trek Uncut, en dit is niefiksie wat nie doekies omdraai nie. Die gegewens is nie skoongeskrop vir akademiese doeleindes nie, en dit beklemtoon die inligting wat dikwels onderspeel word.

Hy blaai deur die manuskrip van The Great Trek Uncut en lees ’n gedeelte voor: “Visitors perceived them as lazy and indolent, as the Hottentots cared for their sheep and cattle all day, whilst they slept or gratified themselves in every sensual delight.”

“As ek skryf dat die Boere lui was en die hele dag gelê en slaap het, en dat hulle dikwels nes die Khoi-Khoi op die grond geslaap het en hul woonplekke nes die Khoi-Khoi s’n oortrek was met vlooie en rotte – en dat hulle met hul Khoi-Khoi-houvroue in dieselfde kamer as hul vroue geslaap het – is dit ’n feit wat ek kan bewys.”

In die voetnotas van sy ongepubliseerde manuskrip is inderdaad verwysings na reisbeskrywings van die tyd wat die trekkers skets as onder meer “unwilling to work and unable to think”.

Hy beduie weer na die stapels boeke op sy vloer. “Die boeke bly eers net daar op die vloer sodat ek dit byderhand het om feite in die nuwe manuskrip na te gaan.” Niemand moet agterna kom sê hy het die rowwe dele in dié alternatiewe geskiedenis bygelieg nie...

Sal afstammelinge van die trekkers nie aanstoot neem wanneer hulle Robin se nuwe roman of sy alternatiewe niefiksie lees nie?

“Nee, ek het nie beplan om die een of ander groep in ’n swak lig te stel nie. Dit is net hoe die geskiedenis werklik ontvou het. Die Groot Trek is nie net een groep se geskiedenis nie, dit is ons almal se geskiedenis. Vir my is die Groot Trek ’n kamee van ons Suid-Afrikaanse geskiedenis: daar is oorlog en geweld, en liefde en lus oor kleur- en kultuurgrense heen.”

Dit is ’n bietjie soos die manier waarop ons idee van Victoriaanse Engeland deur die werklikheid weerspreek is, sê hy. Terwyl ons lank aanvaar het die mense was ’n preutse spul, weet ons vandag dit was allermins die geval. En as die Victoriane dekadenter was as wat ons sou dink, hoekom nie ook die trekkers nie?

- Canvas under the Sky deur Robin Binckes het pas by 30 Degrees South verskyn.


Robin Binckes bieg oor die sekstonele tussen die trekkers in sy roman Canvas under the Sky. Foto's: Lerato Maduna


Robin Binckes - skrywer van die roman Canvas under the Sky.


 

binne die burger

Weer
Lotto
Ksd: 13-20°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

.Net Developer

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R300000 - R350000

C# Developer

JHB - Northern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R300000 - R350000

ERP Developer

JHB - Southern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R200000 - R240000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2006
R 74,990.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2005
R 64,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.