Op soek nadie hart van Noordwes

2012-01-20 22:27

Op plekke soos Verdwaal wag mense op beter dae. Hulle soek, en wag, en soek, en wag. Foto: Alet Pretorius

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

‘Was dit jy daai met die Ford-bakkie wat ek so verbygevat het?” vra André Coertsen met ’n teug aan sy sigaret en oë wat rooi hang. Hy is ’n koerantman, ’n werkslaaf. Hard. “Ons boere hier van die Noordwes weet hoe om op ’n grondpad te ry.”

Die Noordwes, sý provinsie. Hier praat die meeste mense Tswana, en almal vloek in Afrikaans. Hier woon 3,2 miljoen mense, minder as ’n tiende van die land se bevolking, op vlaktes wat strek oor 106 512 km². Die provinsie se hoofstad is Mafikeng, maar Rustenburg is sy grootste stad; Potchefstroom sy akademiese Mekka. Op sy nommerplate pronk, van links, ’n mielie, ’n olifant, ’n sonneblom en ’n mynskag.

“Hei, Hennie,” roep André, die redakteur van die gemeenskapskoerant North-West Independent, Hennie Stander nader. “Kom sê vir hierdie ou hoe lyk die hart van ’n boer in die Noordwes.” En daar plant sy woorde by my ’n saadjie...

Want die Vrystaat het Bloemfontein, Gauteng het Johannesburg, Limpopo het Polokwane, Mpumalanga het Nelspruit, KwaZulu-Natal het Durban, die Wes-Kaap het Kaapstad, die Noord-Kaap het Kimberley en die Oos-Kaap Port Elizabeth – maar waar lê die hart van Noordwes?


“Ek is gebore in die varsgeploegde rooigrond van Ventersdorp,” vertel Jak Jansen van Vuuren van agter sy Puma-swartraambril. “Daar was ’n intimiteit hier op skool – en ook politiek.”

Dié 37-jarige pa van twee het ’n inkkruis op sy arm waarby die name van sy vrou en kinders ook verewig is. Die politiek waarna hy verwys, is die “Slag van Ventersdorp” van 1992 en die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) se inval van Bophuthatswana in 1994. “Daar is ’n politieke etiket om ons gehang, daar was troebel waters in Venters,” onthou hy.

En daar was Eugène ­Terre’Blanche, die leier van dié organisasie, wat in 2010 vermoor is. “Hy was nooit ’n politieke figuur in die dorp nie, hy was vir ons net Oom Gene,” sê Jak. “Ek het laas gehuil met sy dood. Nie oor sy politiek nie, maar oor hy ’n mens was, ’n boer van Ventersdorp.”

Vir Ventersdorp is Jak lief, so lief, hy sê hy sal sy herinneringe aan die plek “vir niks verruil nie”.

Sy gedagtes draai by sy grootwordjare op dié dorp. “Om daar groot te word, om daar vis te vang in die Rietspruitdam en op kunsmissakke in die kanaal af te ry. Ons het twee gate vir ons bene gemaak, ingeklim en tot in die dam gery.”

Hy maak sy oë ’n oomblik lank toe. “As ek my oë nou toemaak, sien ek weer die hektare en hektare van die mooiste mielies in Noordwes.”

Hy skud sy kop. “Jy weet, ek dink soms Venters is ’n stiefkind wat genoeg hartseer en trane gehad het.”

By Bikers Boogie Bar in Klerksdorp hang ’n gebrom in die lug. In die kroeg lag die regulars en ysblokkies dobber in verwaterde Coke. Vreemdelinge verkoop hul lywe aan mekaar vir shooters van R12, en die musiek doef-doef-doef. Doef-doef-doef. Tot laatnag, doef-doef-doef.

Links van my is frisgeboude lywe wat hul skote by die potspeltafel afmaak as geluk. Daar anderkant is vroue met te veel grimering wat witwyn drink en op aandag wag. Groot manne, eensaam maar nie alleen nie, bestel dubbels met die een oog op die TV-skerm. Elke keer wat hulle nog ’n pleister vra vir die wond wat nooit genees nie, kom dit terug met kleingeld.

So lyk die prentjie ook by Castle Corner in Rustenburg en by Hardekool in Potchefstroom. Drink is ’n gemene deler.

Op die Carletonville-pad buite Potchefstroom, daar waar P.G. du Plessis ’n plaas het, gaan die tyd in skrikkeljare verby. Hier word selfs onkruid later bloekombome.

Dis waar Johannes Lesabe woon, hy is 61 jaar oud. Hy het op Rysmiersbult grootgeword, vertel hy in sy sagte stem. “Ons het ons shopping in Potch gedoen en ons ploegskare daar laat skerp maak. My oupa het met osse geploeg. Ek mis die vars lug van ploeg. Ek verlang terug.

“My oupa se graf lê daar, maar dit is nou ’n ander man se plaas. Ek kan dit nie besoek nie. Ek wil weer gaan sien waar ek beeste opgepas het toe ek ’n laaitie was.”

Hy suig aan ’n sigaret, dink ver terug. “Ons het ’n vers gehad, sy naam was Bontrok. Bontrok, Bontrok; hy het so ’n dik, swart stert gehad. Die jakkalse was bang vir hom. Hy het saam met ’n skaapram in die veld gebly, hy het net terug plaas toe gekom om te dek.”

Miskien, dink ek, lê die hart van Noordwes by die verliefdes op Potch – by hul bekentenisse van ewige liefde wat ingekerf is in die bas van wilgerbome; by die Pride of India wat die heinings van studentehuise in pienk klee?

Miskien lê dit by die sonneblomme langs die pad, by hul gesigte wat hang van lank wag soos dié van die boere van Ottosdal wat soms opkyk en deur stowwerige lense na die wolke loer, al wagtend op die reën wat wegbly.

Is die hart van Noordwes nie die mense van Ikageng en Sannieshof nie, daar waar die vergetes glo hulle sal met skatte in die hemel vergoed word vir hul swaarkry op aarde?

Of skuil dit in Rustenburg, die plek wat honger mae van die platteland met sy belofte van werk en geld lok?

“Ons plattelandse atmosfeer hier het verander,” sê Waldie Volschenk, nuusredakteur van die gemeenskapskoerant die Rustenburg Herald. “Baie mense het hierheen gekom om vir die myne te werk. Dit was baie mense in ’n kort tydjie, en in ’n kort tydjie het die milieu verander. Die huise het te min geword en die motoriste te veel vir ons infrastruktuur.”

Hulle kom van waar niemand hulle kon help nie na waar niemand hulle kan help nie. Van Nkaneng, Photshaneng, Bokamoso, Thekwane, Mfidikoe en Entabeni, van Boitekong en Chachalaza. Ook armoede is ’n gemene deler.

Noordwes het nie ’n see nie; het nie groot riviere nie. Water kom van die wolke en van bid.

Dis anders by Hartbeespoortdam, daar het die mense water – en geld. Daar kan genade nog gemeet word.

Miskien lê die hart van Noordwes in die biltong van Wolmaransstad, daar waar die beeste heuning gevoer word. Kan dit gevind word op die paaie wat klimtol deur die Magaliesberge, of word dit geberg saam met die platinum van die Bafokeng-koninkryk?

Haar skoonpa het – nes Frik du Preez – ’n stuk grond gekoop om met wild en beeste te boer, sê Annemarie van Rensburg, en toe trek sy en haar man ook maar na dié geweste en begin ’n gastehuis op Bray in die skadu van Botswana.

“Hier weet ons nie van geweld of van die buitewêreld nie. Hier’s geen misdaad nie. Die naaste groot dorpe is Mafikeng en Vryburg, en Mafikeng is 230 km weg. ’n Mens moet leer om groceries vir die week te koop.”

Sy vee oor haar voorkop. “Dis warm, as die reën net wil val, sal dit gaaf wees. Jissie, gister het dit so half begin toetrek...”

Sy bly ’n oomblik stil. “’n Mens raak lief vir hierdie wêreld. Die doringbome is mos hier. Die son sak oor Botswana in die noorde, en dan is alles bloedrooi.

“Ek het hard gehuil toe ek hier aankom, maar as my man iets moet oorkom, sal ek alleen hier agterbly. Ek sal my hele lewe lank hier bly.”

Sy groet. “Jy moet jou storie vir my e-pos, ons kry nie koerante hier in Bray nie.”

Op Makwassie gesels ek met Nadia de Nysschen, ’n 23-jarige vrou met blou oë en swart hare wat soos laatskemer tot onder haar skouers hang. “Dit is so plattelands hier as wat kan kom,” sê sy. “Ek het grootgeword met my fiets in die strate en kaalvoet in die stof. Hier moes jy nog jou verbeelding gebruik om groot te word. Ons het paddavissies gevang en blikaspaai gespeel.”

Dinge het verander, maar net ’n bietjie. “Ons het net een kafee waar als gekoop word, en ons het nou die dag ’n ATM gekry. Die mense was nogal opgewonde daaroor. As my feite reg is, het ons ook die eerste groenboontjie-silo in Suid-Afrika gehad.”

Sy vertel van Peperboom Lodge, die plaaslike uithangplek waar manne met hul vuiste om toegang baklei. Dan vertel sy van die Vaatjies. “Hulle was ’n gesin wat geglo het die Skaapkop-diamant is op hulle plaas. Toe sloop hulle hul huis, net om uit te vind daar is niks!”

Op Vryburg bestuur Elsa en Pieter Jonker al die afgelope agt jaar ’n oudhede-winkel. “Dit is ’n boeregemeenskap,” sê Elsa. “Die dorp is nie ’n plek waar ’n mens kom vakansie hou nie, dit is ’n deurry-dorp vir mense wat op pad is na Namibië, Botswana of Kgadi. Hier was vanoggend mense van die Kaap wat meubels gekoop het.”

Trots sê sy: “Ons het onlangs ’n Ocean Basket gekry, dit is ’n gróót ding vir ons.”

Die mense wat hier bly, is bittereinders, vervolg sy. “Dis semi-Kalahari en dit maak dat jy enige uitdaging kan aanvat.

“Dit is ’n diep gat waarin Vryburg lê, maar hier is mense wat hom daaruit probeer grawe,” sê sy. Sy praat van mense soos Hannes van Aswegen wat die Pick n Pay besit en Herman Swanepoel, die prokureur op die dorp. Hulle probeer Vryburg omskep in iets nuut.

“Maar as jy meer oor die dorp en sy karakters wil uitvind, moet jy met my vriendin Elaine gesels.”

By die Hoërskool Vryburg heet Elaine “Juffrou Du Toit”. Ja, sê sy, in haar meer as dertig jaar op Vryburg, het sy legendes geken.

Mense soos wyle oom Saint Quintin en oom Lem Redelinghuis. “Ek weet nie hoekom het mense hom Saint genoem nie, jy vra my nou vas.” Maar oom Saint het in die Tweede Wêreldoorlog geveg, hy het oorlog geken. “Hy het altyd vir ons vertel van toe Vryburg nog in sy kinderskoene was, van die ou winkelsentrum en die ou prokureurskantore.” Oom Lem was weer ’n onderwyser en het generasies na sy hand grootgemaak.

“In die moeilike of swaar tye staan die mense hier saam op,” sê Elaine. “Hulle bid saam met jou, hulle huil saam, hulle dra jou deur die storie. Dit is óns gemeenskap. Ek sê altyd hierdie is dalk nie die mooiste dorp in die land nie, maar hier bly goud.”

Die storie lui dat toe die Here Suid-Afrika klaar geskilder het en net die noordweste van die land oor was, was daar nie meer berge of riviere op Sy palet oor nie – net die stilte en die rustigheid het oorgebly, en daarmee het hy dié gedeelte van die land gelaat.

Miskien lê die hart van Noordwes op Vryburg en Schweizer-Reneke, op Migdol, Amalia, Salpeterpan en Lykso, op Geluk, Reivilo en Stella.

Miskien lê dit in die boere en die brekers, in oud en jonk, in droogte en dors; in die hoop dat die wag verby sal gaan, en ook, miskien, in die wag.
 
- Bertie Jacobs woon op Potch.
 

Of sal jy dit kry as jy wag by die stasie op Amalia? Foto: Marnus Prinsloo


Is dit in die skadu’s by Bodenstein? Foto: Alan Murdoch


Sal jy dit vind by vergete gehuggies soos Stella? Foto: Lisa Hnatowicz


Die berge en riviere was glo klaar gebruik en op toe Noordwes geskilder is. Al wat oorgebly het vir dié landskap, was die stilte.


Lê dit tussen Ottosdal en Delareyville?

binne die burger

Weather
Lottery
Cpt: 13-20°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bloem: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

.Net Developer

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R300000 - R350000

C# Developer

JHB - Northern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R300000 - R350000

ERP Developer

JHB - Southern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R200000 - R240000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2006
R 74,990.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2005
R 64,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.