Op ’n sportveld in Afrika
2012-01-13 21:00
Toe ek ’n pikkie was, het ek en my pa soos klokslag met sy oudste broer, Boet, die Transvaal/WP-krieketwedstryd oor die Nuwejaarsnaweek op Nuweland bygewoon.
Boet was lid van die WP Cricket Club, met die gevolg dat ons as sy gaste in die ledepaviljoen kon sit – op my aandrang reg langs die paadjie waarlangs die spelers van albei spanne in daardie jare die veld moes op en af. Om binne raakafstand van my helde te wees, was ’n droom wat jaarliks verwesenlik is.
Ná elke dag se spel sou meeue op die veld neersak, in al groter wordende getalle namate Tafelberg se skadu dieper strek in die rigting van die Eike, net soos die herfsblare neerdaal in Fellini se fliek Amarcord. Later stap ons oor Kelvin Grove toe waar Boet eweneens lid is, en geniet aandete in die geselskap van spelers soos Eddie Barlow, Hylton Ackerman en Peter Swart.
Veertig jaar later en ek is wéér op Nuweland. Laas het ons met Boet se motor tot op die gras langs die nette agter die veld gery, nou moet ek ver gaan parkeer; daarna in lang toue staan, eerstens om kaartjies te koop, daarna om deursoek te word. ’n Formidabele lys van verbode artikels binne die stadion pryk oral langs die toegangshekke. Heel anders as toe ek onlangs die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein besoek het, waar daar slegs een kennisgewing by die ingang was: “IS U GEWAPEN?”
Op die eerste dag van die toets stap ek met my kamera en zoemlens rond en neem die toeskouers in hul kleurvolle kostuums af. Kort voor lank, keer een van tallose sekuriteitswagte my voor. Waar het ek toestemming gekry om met dié ding, wys hy na die kamera en lens, rond te stap?
By die hek, antwoord ek.
Wys my jou akkreditasie, beveel hy.
Ek haal my ou Hermanus Times-perskaart uit, wat die wag agterdogtig bekyk.
Jammer, ou maat, hier in die Kaap werk dinge anders.
My protestasies val op dowe ore. Oplaas draai hy sy rug op my en marsjeer weg soos iemand wat versterkings gaan ontbied. “Moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie!”
Wat? Gaan hy die polisie inroep?
Ek maak my uit die voete.
Dag twee. Die hekwag keer my voor. Aikôna, wys hy na die kamera wat soos ’n baba rustig in die kameratas lê en slaap. Ek vertel hom dat baie digitale kameratjies wat wel toegelaat word, miljoene meer pixels kan uitspoeg as hierdie ou ding van my. Hy kyk my oorbluf aan en roep na sy baas. ’n Groot vrou kom aangestap. “SUPERVISOR” staan op haar groen sekuriteitsuniform.
Sy vra hoe groot die lens is. Toe ek begin verduidelik dat dit ’n SLR-zoemlens is wat by 100 mm begin, is sy dadelik tevrede en laat my in. Sy verduidelik aan haar onderdaan dat die lens net nie groter as 200 mm mag wees nie.
’n Man wat twee sitplekke van my af op die paviljoen sit, leun oor sy vrou na my en vra hoe ek dit reggekry het om met dié lens die stadion in te kom. Hy het presies so ’n lens en moes verlede seisoen sy toerusting in die bestuurder se kantoor agterlaat voordat hy die stadion mog betree.
Maklik, antwoord ek, net deurgestap.
Sy vrou, wat nie die indruk wek dat sy enigsins in krieket belangstel nie, slaan die boek wat sy lees, toe, want haar aandag word deur ons gesprek afgelei. Die boek se titel skreeu in my oë: Make Love Like a Porn Star.
Skielik word my groot zoemlens vir my nóg onskuldiger.
Dag drie weifel ’n onervare hekwag of hy die lens mag inlaat. Ek verwys hom na sy supervisor wat my gister deurgelaat het en beduie dat ek haastig is, want vandag wil ek ’n goeie sitplek op die gras van The Snakepit langs die spoorwegpaviljoen kry.
Weldra word ek omring deur studente. Die son bak die hel uit die aarde en hitte in die kom tussen Tafelberg en Nuweland kleef soos gesmelte kougom aan al wat mens is vas. Die studente sluk een bier na die ander af, word mettertyd dronk en val oor my; roomys- en koeldrankverkopers wat skaars in die aanvraag kan voorsien, loop heen en weer, druk tussen die staandes in. Aangesien die uitsig na die kolfblad dus versper word, mik my lens hemelwaarts en vang iets vreemds vas: ’n onvolwasse visarend wat soos ’n aasvoël in sirkels bokant die veld sweef.
Dag vier onder die Eike waar nie eens ’n briesie waai nie, skyn die son nog feller as die 42 °C wat die vorige dag glo aangeteken is. Lywe blink van die sweet en die reuk van sonbrandmiddels hang swaar in die lug – as jy jou oë toemaak, kan jy jou verbeel jy sit op Kampsbaai.
Aan die einde van die vyfde dag stap ek en die talle toeskouers vir oulaas uit die arena, uitgemergel ná dae se sonsteek.
Die supervisor staan by die uitgang om ook seker te maak niks onwettigs word uit die stadion gedra nie. Ek oorweeg dit om haar te gaan wys dat my kameralens eintlik kan uitzoem tot 400 mm...
In teenstelling het ’n fotograaf by rugbywedstryde op die platteland weinig probleme met beamptes. Trouens, diegene verwelkom jou gratis op die veld, omgeboul by wyse van spreke dat iemand hoegenaamd daarin belangstel om húl spanne in aksie af te neem.
En as jy eers op die veld is en saam met die vlagmanne op en af langs die kantlyn nael, waar ook al – Botrivier, Kleinmond, Grabouw, Hawston, Mt. Pleasant, Stanford, Gansbaai – word jy deur luidrugtige geskreeu en gefluit begroet.
Dorpskares is ongelooflik lojaal en ’n paar honderd van hulle kan ’n lawaai opskop wat nie terugstaan vir ’n stadion gevul met derduisende nie. Maar wee jou as jy omdraai en enige aandag aan die rasendes skenk, want jy sal deur tallose juigendes begroet word, hul arms omhoog, monde wyd oopgesper: húlle wil dan so graag afgeneem word.
Die enigste een by dié wedstryde wat op sy hoede moet wees, aangesien sy veiligheid nooit gewaarborg kan word nie, is die skeidsregter. Veral as die twee spanne min of meer dieselfde telling het en die skeidsregter ’n strafskop toeken wat veroorsaak dat die tuisspan in die doodsnikke van die wedstryd verloor.
Eenkeer speel Atlantics tuis op Hermanus teen Caledon en die toeskouers kry algaande die indruk dat die ref hul span bedonder. Ná rustyd ruil die spanne soos gebruiklik hul posisies op die veld om en die skare skree terwyl hulle wys na Walkerbaai wat op die horison blink: “Nou speel ons séé toe, julle binnelanners gaan k...!”
Eindelik is Atlantics voor, en die eindfluitjie moes al geblaas het, maar die ref gee ’n strafskop onder Atlantics se doelpale. Skaars word die bal oorgeskop en Caledon wen dus, of die skare stroom die dun omheinde veld op.
Die skeidsregter vlug vir sy lewe, terwyl talle vuisgevegte tussen spelers en toeskouers uitbreek. Toevallig is daar ’n gepantserde voertuig vol gewapende polisiebeamptes agter die klubhuis – dié dienders is veronderstel om agter perlemoensmokkelaars aan te wees, maar nou vorm hulle ’n kordon om die skeidsregter en vergesel hom na die veiligheid van sy motor. Hy klim in en trek in dolle vaart weg.
Ek was al by wedstryde waar jy al hardlopende die kantlyn af deur daggawalms van rokers langs die veld bars, waar messe uitgepluk word; eenkeer het ’n paar rewolwerskote selfs geklap, maar dié was weens ’n onderonsie tussen toeskouers en die skoot is nie na die skeidsregter gemik nie, hoewel hy instinktief gekoes het.
Plattelandse sokker is ewe opwindend, en rof. Spelers haal álles uit om te wen, en net soos by die rugby is daar min troos vir ’n beseerde wat halfdood op die veld lê en krul van die pyn ná ’n verpletterende stormloop. Hoogstens sal ’n “noodhulpman” met ’n Coke-plastiekbottel vol water opgedraf kom en ’n bietjie van die magiese vloeistof op die sogenaamd beseerde liggaamsdeel uitstort.
In ’n wedstryd op Zwelihle verskyn ’n toeskouer eenkeer met ’n pragtige paar koedoe- horings waarmee hy op en af langs die veld stap as tower- formule teen die teenstanders. Later kom ek ’n ander toeskouer teë wat ’n swart voorwerp geheimsinnig rondswaai. By nadere ondersoek sien ek die voorwerp is die vars afgeslagte stert van ’n rob.
Koedoe teen rob, oftewel Eleven Gladiators teen Mountain Birds – wie se krag is die grootste? Ek neem die twee towenaars met hul onderskeie talismans af. ’n Mooi prentjie, op ’n sportveld in Afrika.
- M.C. Botha was voorheen die redakteur van die Hermanus Times.