Op Camus se spoor

2009-09-05 02:08
Camus

Skrywersfoto's, insluitend dié van Camus, in die klein biblioteek in die middestad van Algiers.

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Vanaf die leeftyd waarop ’n mens gewoonlik jou eerste eksistensiële krisis beleef, was dit op die spore van die skrywer en filosoof Albert Camus dat ek my begewe het. Meer as enigiets of enigiemand anders was dit hý wat my as student Parys toe gedwing het. En toe hy, die meester van die absurde, pas ná my aankoms in die stad, op een van die mees absurde maniere denkbaar in ’n motorongeluk sterf (met in sy aktetassie die onvoltooide manuskrip van Die Eerste Mens – Le Premier Homme – waarmee hy ná jare van skrywersblok sy terugkoms na die wêreld van die literatuur wou vier), het dit sy beeld in my binneste bevestig.

My hele destydse verblyf in Parys het in die teken van Camus gestaan. Maar op ’n manier was Parys ook net ’n voorlopige tuiskoms, want Camus is nie dáár gebore nie, maar in Algerië, in die gehuggie Mondovi buite die hoofstad. En soos dit gepas was dat die groot taalfilosoof van die laat twintigste eeu, Jacques Derrida, insgelyks nie in die metropool gebore is nie, maar daarbuite, juis ook in Algerië (iets wat hom as ’t ware bestem het om nie die “volle wete” te hê nie maar, in N.P. Van Wyk Louw se onvergeetlike kensketsing van die ongedurige meisie, byna-nie-weet nie maar tog “windskeef góéd weet”), so was Camus se buitestanderskap min of meer verseël deur sy geboorte in Algerië.

Sommer met die intrap in Algiers was dit egter duidelik dat dit nie maar ’n kwessie was van “in Camus se voetspore” gaan loop nie. Dit was asof die stad en sy mense saamgesweer het om alle tekens van Camus se lewe weg te steek, selfs uit te wis (iets waaraan Derrida, die meester van “spore”, hom sou verkneukel het).

In een van die enigste twee gidsboeke oor Algerië wat ons vooraf kon bekom – die ander een het hom nie eens verwerdig om Camus te noem nie – beweer die skrywer dat Camus se geboortehuis nou in ’n videowinkel omskep is. Dit was soos toe ons in Parys aankom en moes ontdek dat ons geliefkoosde restaurant, beroemd om sy foie de canard poêlé, nou omgeskep is in ’n bleddie pizzeria.

Toe ek verder oor die huis probeer verneem, moet ek hoor: nee, dis nie meer ’n videowinkel nie, dit is nou hééltemal gesloop, dit bestaan nie meer nie. Gelukkig het ek verseg om tou op te gooi.

En met dié kom ek naderhand af op ’n literatuurkenner wat self as kind die laerskool bygewoon het waar die seunskind Camus hom ’n klompie jare vantevore ook bevind het. En hy begelei ons toe na die Rue de Lyon in die half vervalle volksbuurt Belcourt, waar die woonstelgebou inderwaarheid nog staan.

(Camus is nie daar gebore nie, maar sy ma het hom soontoe saamgeneem toe hy nog ’n baba was. Die pa – le premier homme – was toe al weg oorlog toe.)

Niks besonders omtrent die gebou nie. En tog bly die armoedigheid, die ordinêrheid daarvan, juis in ’n mens se geheue ingeprent. Want dit was dié buurt, dié armoede, wat Camus lewenslank onderskei het van blinkboeties soos Jean-Paul Sartre wat altyd op hom neergesien het omdat hy sommer net ’n armmanskind was, met ’n huisbediende vir ’n ma.

Hierdie ma, Catherine, wat nie eens kon lees of skryf nie, was juis die rede waarom Camus later deur sy geboorteland afgeskryf is – en vandáár die stilswye wat vandag sy naam omgewe. Want in die vryheidsoorlog teen Frank­ryk in die jare vyftig en sestig, toe elke swartvoet (dit wil sê blanke Franse wat in Algerië gebore is) teen wil en dink móés kies en sy lojaliteite bekend maak, het Camus volgehou om te sê dat hy nie geweld van één kant kan veroordeel en van die ander kant kan goedpraat nie. As die terrorisme wat Algiers teister kan meebring dat sy ma moet sterf in ’n bomontploffing op die mark waar sy haar inkopies doen, en dit moet gebeur omdat hy sulke geweld goedgepraat het, dan is hy self aandadig daaraan.
(Vir my was ’n onvergeetlike moment by die simposium waaraan ek op die Panafrika-fees moes deelneem, toe ’n Algeryn in sy dankwoord sê: “Eintlik is André Brink ’n swartvoet, en Camus ’n Boer.”)

Net soos Sint Augustinus – wat ook ’n grondslag vir Camus se werk gelê het – is dit tyd dat Camus volledig as Algeryn erken en gehuldig word.

Gelukkig lyk dit asof die periode van miskenning – of boetedoening? – darem nou aan die verbygaan is. Daar is sprake dat Camus se ma se woonstel in die Rue de Lyon tog nou met ’n plaket geëien gaan word; en bowenal is daar die suil waarna ek in my vorige essay (“Stad van wit en blou”, By, 29 Augustus) verwys het, in die oorblyfsels van die Romeinse dorp by Tipasa, waar die besoeker daaraan herinner word dat dit juis hier was dat Camus gereeld – far from the madding crowd – kom sit en dink of notas maak het, en waar L’étranger ontstaan het. Die inskripsie op die suil is ’n aanhaling uit Camus:

“Dit is hier dat ek verstaan wat mense bedoel met glorie: die reg om bandeloos lief te hê.”

En stadigaan, soos jy verbete bly soek en snuffel, kom jy op ander spore af. Wat veral in ’n mens se hart ’n duik kom maak, is ’n klein bibliotekie in Algiers se middestad, oorspronklik die boekwinkel Les Vraies Richesses (Die Ware Rykdomme) waar Camus gereeld op die smal, steil trap kom sit het om die proewe van sy geskrifte na te sien. Vandag hang daar ’n mooi foto van hom tussen ander beroemde Algeryne – skrywers en skilders – wat oor die jare hier kom verwyl het om boeke uit te neem, te ruil, soms te koop of te verkoop.

Weer die bewussyn van hoe eenvoudig en behoeftig hy grootgeword het. En hoe dit uiteindelik, ná Sartre se rugsteek by die publikasie van Die Rebel (L’Homme Révolté) in 1951 uitgebars het, toe die vername heer te papbroekig was om self ’n negatiewe resensie te skryf en liewer ’n snuiter van ’n student gevra het om Camus namens hom te beswadder. (Gevolg deur die ironie dat die Nobelprys net ’n paar jaar daarna aan Camus toegeken is! Sartre het eers heelwat later in die tou kom staan en dit toe natuurlik ewe snoewerig van die hand gewys.)

Maar die storie het eintlik ’n láng aanloop gehad, wat begin het toe Simone de Beauvoir – wat in weerwil van haar gedugte feministiese werk in die “ware lewe” maar ’n kat op ’n warm sinkplaatdak was – probeer het om Camus in die bed te kry en hy die vermetelheid gehad het om te weier! Dít kon sy en haar skeeloog-dwerg hom nie vergewe nie.

In die bibliotekie kan ’n mens jou verlekker aan die tweedehandse, veel gelese titels van Camus. Op die smal trap gaan sit ek en blaai weer, vol eerbied en onthou, deur die handjievol fiksie waarop soveel van sy roem berus.

Die eerste is L’Étranger, met sy beroemde begin: Mamma is vandag dood. Of dalk gister, ek is nie seker nie. (Hoe treffend die kontras tussen die intiemheid van die “Mamma” en die traak-nie-agtigheid van die res! Teen wil en dank onthou ek die enigste keer dat ek met ’n lid van Camus se familie te doene gehad het, toe ek by sy dogter Catherine moes onderhandel om vir Truk toestemming te vra om Les Justes – Die Regverdiges – in Engels op te voer en sy nooit verwys het na “my pa” of “my vader” nie maar – ontroerend – deurentyd na “Pappa”.)

En dan La Peste, waarin die uitbreek van ’n pesepidemie in die kusstad Oran en die optrede van die geneesheer, dr. Rieux, te midde van die chaos metafoor word vir die “pes” wat ons wêreld in ons tyd bedreig en die rol van “die mens wat meer en dieper sien as ander” belig word.

Die ontstemmende La Chute (Die Val) wat afspeel in Amsterdam waar die “boetedoenende regter”, Clamence, hom in die kroegie Mexico City omring voel deur die gragte soos deur die sirkels van Dante se hel.

Die kortverhale van L’Exil et le Royaume (Ballingskap en Koninkryk) waarin die mens se vreemdelingskap belig word – dalk nêrens so aangrypend nie as in die heel eerste verhaal van Camus wat ek ooit gelees het, “La Femme Adultère” (“Die Owerspelige Vrou”), waarin die verlate vrou van die titel haar ontug pleeg deur haar eenvoudig naak te stroop voor die eindelose niet van die nag in die woestyn.

Dan is daar die paar monumentale essays, beginnende met die beskeie L’Envers et l’Endroit (Kop en Stert), oor sy jeugwêreld in Algiers.

Dit word gevolg deur Le Mythe de Sisyphe (Die Mite van Sisuphos) waarin hy die uitgangspunte van sy absurdisme uiteensit. Nog steeds ’n verstommende boek, wat ’n mens elke keer laat besef waarom dit juis op die leserspubliek van net ná die Tweede Wêreldoorlog so ’n onvergeetlike indruk gemaak en die hele wêreld in sy ban gehou het: Die beeld van Sisuphos wat deur die gode veroordeel is om – nie vir tien of twintig of honderd jaar nie, maar tot in alle ewigheid – sy rots teen die berg uit te beur, net om elke enkele keer te sien hoe dit dan weer afrol, wat hom dwing om van voor af te begin.

Vir ’n mensdom wat toe reeds Dresden en Auschwitz en Hirosjima beleef het, was die merkwaardige nie maar net die verskrikking en troosteloosheid van daardie blik op ons wêreld nie, maar die manier waarop Camus by die hopeloosheid, geweld, vernietiging en sinneloosheid verbygryp, na ’n vreemde heroïek in die mens se onuitroeibaarheid, sy vermoë om nie te gaan lê nie, om nie die uitweg van selfmoord te aanvaar nie, maar bly aanhou.

En dan uit sy “later jare” (toe hy nog nie veertig was nie!) L’Homme Révolté, waar hy van die openingsreël (“Wie is die rebel? Die mens wat Nee sê”) die konsep ondersoek van die Nee: ’n nee aan beuselagtigheid wat eintlik ’n blywende ja is aan alles wat die lewe menswaardig maak – omdat dit net in en deur opstand is dat die mens kan bevestig dat die lewe altyd méér is as wat aan jou toebedeel is, en dat jy daarom jou kreatiewe menslikheid bevestig deur altyd vérder te gaan en altyd méér as middelmatigheid en gewoonheid van die lewe te eis.

En elke enkeling wat sy kettings afgooi, bewys daarmee dat dit die mens se kondisie is om eintlik vry te wees. “Ek rebelleer: daarom is ons.”

Daar is ook die “kleiner” werk: die “Diskoers van Swede”, waarmee hy die Nobelprys aanvaar het en sy lojaliteit betuig aan die groot beginsels waaraan die skrywer trou moet sweer: vryheid, geregtigheid en waarheid.

Nog steeds is het einde niet. Want daar is ook nog die “Briewe aan ’n Duitse Vriend”; die menigte essays en artikels uit die strydvaardige tydskrif Combat waarmee Camus reeds tydens die oorlogsjare “nee” gesê het aan Nazi-oorheersing, die polemieke, die intense, betogende opstelle.

En natuurlik die handvol teaterstukke, onder meer dramatiserings van Faulkner en Dostojewski; en die Caligula, wat by die eerste oogopslag met sy Romeinsheid onvanpas tussen die ander werk lyk, totdat jy besef dat dit keiser Caligula was wat destyds Juba II se seun, Ptolemeus, hier in die maghreb, die noordelike kusgebied van Algerië, laat vermoor het – en jy besef dat juis deur dié oënskynlike afstandneming Camus hom in die hart van die Algerynse geskiedenis (en dus eintlik sy eie geskiedenis) begewe.

En dan Les Justes, wat destyds vir Truk so ’n tameletjie geword het: hulle het mos nie kans gesien om ’n drama oor ’n spul terroriste (die groepie wat in 1905 saamgesweer het om ’n aartshertog te vermoor) tydens die bewind van John Vorster op te voer en dan die vermetelheid te hê om dit “Die Regverdiges” te noem nie. Gevolglik word die stuk toe verdoop na Die Terroriste – presies wat Camus wou bewys hulle nié was nie. Net soos die apartheidsbewind, het al hul tydgenote dié groepie moedige opstandelinge “terroriste” genoem. Maar daar ontmasker die drama toe juis die “eintlike” mense wat terreur saai – die staat en sy handlangers.

Soveel, sóveel herinneringe het daardie uur op Albert Camus se steil trap in die smal bibliotekie teruggebring. En dwarsdeur die hele res van ons besoek aan Algerië het sy gees ons vergesel, om dit een van die rykste reise te maak wat ons ooit saam onderneem het. ’n Reis wat jou nie net neem na landskappe en stede en smake en geure en gesigte en ander waarnemings nie, maar uiteindelik nader aan jou sélf, nader aan menswees en aan die wortels van daardie wees. 

binne die burger

Weather
Lottery
Cpt: 21-31°C Sunny. Warm. Pta: 17-30°C More sun than clouds. Warm.
Jhb: 15-28°C Afternoon clouds. Mild. Bloem: 18-27°C Scattered showers. More clouds than sun. Pleasantly warm.
Dbn: 20-29°C Tstorms late. Mostly cloudy. Warm. PE: 19-22°C Scattered showers. Morning clouds. Cool.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

TOYOTA

Corolla 180i GSX MY02
2003
R 95,990.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 69,995.00

MINI

Cooper Hatch R56 1.6 3-dr
2008
R 149,900.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chill out in Knysna

Spend 2 nights at the Turbine Boutique Hotel & Spa in Knysna's gorgeous Thesen Island for R3058 per person sharing. Includes return flights, taxes, car hire and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

Koop Friends with Benefits en wen

Koop die DVD of Blu-ray en staan ’n kans om 1 van 5 "Love You"-blikke met koekies te wen. Die wedstryd sluit 9 Februarie. Koop dit nou.

Koop 4 romans vir R79,96

Koop enige 4 romantiese verhale vir slegs R79,96 terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Geskenke vir hom

Koop ’n klassieke skuimskeerborsel vir R279 vir die man in jou lewe en kry 15% afslag op ’n uitgesoekte reeks naskeermiddels. Koop dit nou.

Dit is al weer ’n fleurige Valentynsdag!

Daar is fleurige spesiale aanbiedinge by kalahari.com met die gobii eReader, Friends with Benefits, parfuums en rose wat nou beskikbaar is. Koop dit nou.

2 DVD's vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.