Kleinsus is óók die bliksem in
2009-12-05 07:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Iets is fout. Iets is ernstig fout. En dit wás fout lank voordat Boetman selfmoord gepleeg het.
“Dit moet ons tot besinning ruk” was eergister die opskrif van ’n berig in Beeld oor ’n ope brief geskryf ter ondersteuning van Chris Louw en sy stryd teen “die gety van geweld en barbaarsheid” in die land.
As Louw se selfmoord ons “tot besinning” moet ruk, dan weet ek nie waar “ons” was nie. Want as ons híér was, in Suid-Afrika, in Johannesburg waar ek woon, dan behoort “ons” elke dag by elke verkeerslig “tot besinning” geruk te word.
Nie deur “geweld” en “barbaarsheid” nie, maar deur ellende, armoede, desperaatheid – mense wat nie selfmoord gepleeg het nie, maar ook, soos Louw, “geknak het voor die wanhoop”.
Boetman het ’n simbool geword vir ’n generasie; ’n generasie wat tóé kwaad was en nou gatvol is.
Ek is deel van die generasie ná Boetman: die Boetmans se seuns en dogters.
Ons dink ons is baie anders as julle. Ons kan nie verstaan hoe julle deel kon wees van apartheid nie, kon stem vir die ou regering nie, kon toelaat dat swart mense uit blikbekers drink en ander ingange by banke gebruik nie.
Maar as ons generasie mooi en eerlik na onsself kyk, sal ons sien ons is nie veel anders as julle nie. Ons neem gretig en stilswyend deel aan ’n stelsel waaruit steeds net die minderheid voordeel trek.
En dít is hoekom daar ’n “gety van geweld en barbaarsheid” in die land is. Nie omdat Suid-Afrika toevallig meer geweldenaars en barbare as ander lande het nie, maar omdat dekades se onreg nou, ondanks die einde van apartheid, voortgesit word.
Julle het tóé aan daai onreg deelgeneem, en ons doen dit nou. Julle het kommuniste geskiet en vir die NP gestem, ons sê whatever en bestel nog ’n cappuccino.
Julle kan die bliksem in wees tot julle blou is, en ons kan politiek korrek wees tot ons swart is, maar niks gaan in hierdie land verander as óns, dié wat het, nie iets begin dóén vir dié wat nie het nie.
Ons generasie praat baie maklik oor apartheid. “Hoe kon hulle?” vra ons moreel meerderwaardig as ons geskok deur die Apartheidsmuseum stap.
Dan klim ons in ons Yarisse en Clio’s en ry terug na ons woonstelle in ons veiligheidskomplekse met ons DStv en platskerm-TV’s. Op pad terug ry ons verby honderde slagoffers van óns stelsel, van die ewe onmenslike stelsel waaraan óns nóú deelneem.
En ons dink nie aan hoe óns kinders eendag vir ons gaan vra nie: “Hoe kón julle?”
Dikwels praat ons generasie, mense onder 35, oor wat ons sou gedoen het as ons volwassenes was in die 1970’s of 1980’s, as ons geweet het van die onreg wat om ons plaasvind. Ons sou graag wou glo ons sou anti-apartheidsaktiviste gewees het, opgestaan het vir menseregte, saam getoi-toi het, bereid gewees het om tronk toe te gaan vir wat reg is. Baie van ons verklaar openlik ons sou.
Maar sou ons regtig? Nee. As ons tóé sou, sou ons vandag ook. As ons tóé saam met die mense in die townships teen onreg sou baklei het, sou ons vandag ook. Maar ons is baie ver van die townships af, en nog verder van die plakkerskampe.
Ons, en ek sluit myself in, kussing onsself teen die harde werklikheid met ons chocolate croissants, ons DStv; ons sus ons gewete deur ons belasting te betaal en R5 vir die karwag te gee. Ons is politiek korrek, dra “I love Jozi”-T-hemde, vertel mekaar hoe awesome Mandela is en kyk kunsflieks oor menslikheid.
Maar die onreg is steeds hier en dis ewe erg. Armoede stroop mense daagliks van hul menswaardigheid, net soos apartheid destyds.
Dis mos oukei, solank ons mekaar vir lunch in Mandela Square kan kry ...
Afrikaanse koerante word oorval met oproepe en briewe oor Louw se selfmoord. Ja, hulle’s net so gatvol soos hy was, hulle voel ook “genoeg is genoeg”, skryf die briefskrywers, die ander Boetmans. Die land is in sy moer in, die land met al sy barbaarsheid en misdadigheid.
Vir wie sê julle dit? Vir wie skreeu julle so aanhoudend julle is gatvol en die bliksem in? Niemand luister meer nie! Die grysskoene vir wie julle so kwaad is, is dood of tel nie meer nie.
En daai misdadigers, daai mense wat julle as onmense demoniseer, is ’n produk van ’n samelewing waaraan julle én ons help skep het en elke dag nog steeds skep.
Misdaad is nie ’n bose vloek wat deur ’n bonatuurlike bose mag op ons losgelaat is nie. Daai barbare is óns barbare, óns Frankensteins.
Ons ry elke dag verby die grootste denkbare ellende, ons lees van mense wat so honger is dat hulle dierekarkasse van vullishope af eet, en dan is ons baie verbaas en verontwaardig as iemand kom vat wat óns het en hulle nié het nie.
Al vergeet jy van politiek en ideologie, moet jou plain common sense tog vir jou sê daar is groot fout as so baie mense so min het dat ons elektriese drade om ons huise moet span om hulle weg te hou.
Julle, die Boetmans, én ons, julle kinders, moet wakker word. Julle moet ophou kla en kerm oor dinge wat verby is, en ons moet ophou om onsself blind te hou terwyl ons ons naels verf en Facebook dophou.
Dis tyd dat ons almal iets dóén. En ek praat nie van die “ons moet opstaan”- en “ons Afrikaners moet saamstaan”-praatjies nie. Ons land is in soveel moeilikheid dat ons eenvoudig nie net vir onsself kan baklei nie. Soos ’n sosioloog eenkeer vir my gesê het: As dit elkeen vir homself is, is dit ’n oorlog van almal teen almal.
Ons sal moet leer wat liefdadigheid beteken en ons sal dit waaragtig moet begin doen.
Want die sondes gaan ons inhaal. Ons voorvaders s’n, die grysskoene s’n, julle s’n, ons s’n.
Terwyl julle skryf hoe gatvol julle is en hoe julle die regering haat, terwyl ons politiek korrekte praatjies in coffee shops maak, is íémand in Alexandra of Vosloorus of Thokoza besig om meer gatvol te raak as wat julle of ons ooit kan raai.
En daai ou, daai “barbaar”, is besig om met ander te praat en te wonder: Hoekom behoort hierdie land steeds aan die minderheid?
Terwyl julle wroeg oor die grensoorlog en ons die voordele van ’n plasma-TV teenoor ’n LCD opweeg, is ’n nuwe revolusie aan die broei. En iets sê vir my dié een gaan nie bloedloos wees nie.
Boetman wás die bliksem in, Buthi ís die bliksem in. Buthi, wat in Alexandra in vodde staan en sy oë knip teen die glans van Sandton, wat dag ná dag by die Builder’s Warehouse in Woodmead vir piece work wag, hý is die bliksem in.
En hy’t waarskynlik ook ’n AK47, maar hy gaan dit nie teen sy eie kop druk nie.
Die denkers en skrywers wat vandeesweek se ope brief oor Boetman geskryf het, wat om die een of ander rede dink iemand sal homself flenters skiet en sy gesin in smart agterlaat net om ’n punt oor misdaad te maak, is in een opsig reg: Ons móét tot besinning geruk word. Ons moes lankal.
Dalk, as ons ophou met ons selfbeheptheid en kyk hoe swaar ons medemens kry, sal daar iets van hierdie land vir Boetman se kleinkinders oorbly.