Ís Mbeki dan ‘terug’ – en hoe?

2012-01-20 22:27

Nog voor oudpres. Thabo Mbeki se vernederende, en myns insiens onbeskofte, ervaring in Polokwane, is ek gevra om ’n verslag te skryf oor wat afgetrede presidente doen. Dit was ’n insiggewende studie waarna ek kortliks wil verwys.

Oudpresidente was lank nie nuus nie. Dis nou as ’n mens nagaan wat in die media en boeke oor hulle gepubliseer is. Die VSA, waar publisiteit en selfbemarking oorlewing is, is ’n uitsondering.

Maar selfs daar het dit in ’n stadium broekskeur gegaan. Ook met hul pensioene. Thomas Jefferson was min of meer bankrot toe hy die Withuis verlaat het. Hy het toe die Universiteit van Virginia gestig, die geboue ontwerp en ’n nuwe naam (met ’n inkomste!) vir homself gemaak. James Monroe was só sleg daaraan toe dat hy by sy dogter ingetrek het. En die eerste president van die Republiek van die Filippyne, Emilio Aguinaldo (wat in 1901 op 32-jarige leeftyd afgetree het), het sy toekoms probeer verseker deur te gaan boer.

Finansiële kwellings het baie gewese Amerikaanse presidente ’n nuwe regeringsrol laat kies, soos in die gevalle van John Quincy Adams, Andrew Johnson, John Tyler en William Howard Taft. Adams het in die Huis van Verteenwoordigers gedien en was 17 jaar ’n gedugte vegter teen slawerny. Taft, wat die Withuis in 1913 verlaat het, is in 1921 tot hoofregter verkies en het tot 1930 in dié hoedanigheid gedien. Hy was nie net president van sy land nie, maar ook lid van die hoogste hof. Dit was nadat hy aan Yale professor in die regte geword het.

’n Interessante geval is dié van George Washington. President Adams het hom gevra om luitenant-generaal te word en die getransformeerde Amerikaanse weermag te beheer, gegewe ook die spanninge met Frankryk (1798).

Humanitêre betrokkenheid het vir sommige oudpresidente méér roem as hul presidentskap gebring. Jimmy Carter is die beste voorbeeld – sy nieregeringsorganisasie, die Carter- sentrum, is in 1982 gestig, en daarvoor het hy in 2002 die Nobelprys ontvang.

Daar ís nuwe lewe ná ’n presidensiële termyn.

Wat van Afrika?

Die rolprent Amistad vertel dié storie. Toe John Adams aan ’n Afrikaan voorgestel is as die “oudhoofman” van die VSA, het hy gesê dat ’n hoofman nie kan ophou om ’n hoofman te wees nie. In dié fliek is die kwessie van die oorerwing van posisie en status teenoor verkiesing aangeroer.

Charles Onyango-Obbo stel in Maart 1999 in The Monitor ’n interessante vraag: “Why Obote, Museveni aren’t Mandela?” Hy verwys na die mening dat Afrika-presidente net aftree wanneer hulle ’n “good retirement package” en “guarantees against persecution” het.

Hy opper ’n goeie punt: ’n Voortgesette internasionale rol vir Afrika-leiers “requires that one should not rule over a country ravaged by civil war, because it leaves blood on your hands?.?.?.?He can’t be chairman of a world’s children’s body, a famine relief organisation, or a mediation institution which works on peace or mediation, because children died, people starved to death and were killed during his rule.

Dit is in die kol. Dis waarom Nelson Mandela ’n wêreld-ikoon is. En waarom F.W. de Klerk die respek verdien wat hy kry.

Die vestiging en stuur van stigtings is ’n tipiese post-presidensiële “beroep”: Dit help om op ’n nalatenskap voort te bou, die “naam” van die betrokke leier in herinnering te hou en, natuurlik, om geld in te samel. Dit is wat oudpres. Thabo Mbeki ook nou doen, in samewerking met ’n uitstekende leiersprogram aan Unisa.

Hy was intussen ook aktief in Afrika betrokke by baie delikate bemiddelings- en vredesaksies.

Maar wat nou? Nadat Julius Malema hom as ’n Mbeki-pryssanger geopenbaar het en die oudpresident gevra het om weer tot die politiek toe te tree?

Julius Malema, dié groot treiteraar van die politieke elite ná Polokwane, is beslis nie iemand aan wie ek my land se toekoms sal toevertrou nie. Tog gooi hy soms politieke duwweltjies in die skoene van Luthuli-huis se magskliek waaroor ek baie binnepret het.

Sy jongste duwweltjie is ’n juweel: Die ANC sonder Mbeki se bydrae is intellektueel op die afdraande pad. Dis ’n gróót duwweltjie, want die ANC sukkel sedert Polokwane om kredietwaardige swart en ander lede van die nuwe intelligentsia te kry wat hulle openlik met die leierskap en beleidsvoorstelle van die huidige ANC identifiseer. Selfs die pers word vir dié vervreemding geblameer.

Dis nie net Malema wat so dink nie. Dit duik oral by allerhande interessante plekke op. Die nuwe, opkomende swart intellektuele klas, tesame met die opkomende bestuurs- en middelklas (waarvan baie in my klasse aan die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad se bestuurskole was), dink al lank so – van voordat Malema dié lig gesien het. Trouens, ek ervaar dit selfs persoonlik op leierskapkonferensies met oorwegend swart deelnemers.

’n Mens hoef net die sosiale netwerk Facebook te lees en te kyk wat daar geskryf is ná Mbeki se lesing aan die Universiteit Stellenbosch se bestuurskool om die begeerte na intelligente en intellektueel verrykende bydraes te verstaan.

Thabo Mbeki is vir baie swart mense uit veral die opkomende swart middelklas en intelligentsia ’n simboliese rolmodel hiervan; die verpersoonliking van dit waarna hulle ook strewe.
Enige samelewing, party of politieke beweging het intellektuele rolmodelle nodig. En gisborrels!

Dit gaan myns insiens nie soseer om ’n opkomende Mbeki-kultus nie – hy sal dit in elk geval nie toelaat nie.

Ek lees wat nou rondom hom gebeur eerder as ’n protes teen die vlak populistiese politieke kultuur van die huidige ANC en die versugting na rolmodelle wat intellektueel respek afdwing.
Daar is, benewens Mbeki, heelwat van dié rolmodelle. Hul getalle groei. (Dít terwyl dit na my mening in Afrikaner-geledere ietwat sukkelend onder sy intelligentsia en senior joernalistieke meningsvormers gaan.)

Malema se pryssang van Mbeki laat Luthuli-huis se heersersklas vermoedelik teen die mure uitklim. Sal dit Mbeki skade aanrig? Ek twyfel. Mbeki se nuwe aansien is nie van Malema afhanklik nie. Dis ’n proses wat al langer as ’n jaar aan die gang is. As hy ’n grappie met Malema deel, beteken dit nie hy deel Malema se drome of dat hy self nuwe politieke drome koester nie. Hy het dalk tekortkominge, maar hy is nie polities onnosel nie.

Waarheen is hy dan op pad? Word hy soos Jefferson? Carter? Mandela?

Mbeki is nie iemand wat toelaat dat ander namens hom praat nie. Hy is sy eie mens en doen sy eie ding soos en wanneer hy dit goeddink. Alle knap intellektuele het ’n streep eiesinnigheid.
Hy sal egter myns insiens dom wees om binne ANC-verband tot die politiek terug te keer. En ek het hom nog nooit as polities dom(astrant) ervaar nie.

Daarom was hy korrek om hom nie ná sy uittrede met die politiek te bemoei nie en soos ’n “gryse wyse” sy ding in Afrika te doen as bedrewe en gerespekteerde bemiddelaar. Trouens, hy het ná sy uittrede teenoor my gesê: “Dit was ’n demokratiese besluit wat ek geneem het, wat ook al die omstandighede.”

Partypolitieke onbetrokkenheid beteken egter nie openbare stilswye nie. Daarom het ek hom entoesiasties ondersteun in sy reaksie op die openbare uitsprake van adv. Willem Heath. Sy reaksie, met sy stigting as die institusionele platform, moet nie gelees word as dié van ’n gegriefde politikus wat ’n terugkeer wil maak nie.

Dit was ’n belangrike sein: Thabo Mbeki plant sy vlag as ’n openbare meningsvormende intellektueel en leier in diens van ’n demokratiese bestel waaraan hy sy lewe gewy het.

Ja, hy is “terug”. Wat my betref, hopelik as ’n leidende lig binne ’n groeiende nierassige korps openbare meningsvormende intellektuele wat kan bydra om ons swaar verworwe demokrasie te verdiep en te verbreed.

Ek verwag dat hy hier leierskap sal uitoefen wat nie deur die ANC se politieke leierskorps verontagsaam sal kan word nie. Julius Malema besef dit. En ek en Julius kan selfs probeer om saam hieraan te werk!

  • Eindstryd, prof. Willie Esterhuyse se boek oor die agter-die-skerms-gesprekke tussen verbanne ANC-leiers, onder andere Thabo Mbeki, en ’n groepie Afrikaners in die tagtigerjare, sal in Mei op winkelrakke wees.

Daar is gerugte dat oudpres. Thabo Mbeki weer ’n aktiewe rol in die plaaslike politiek gaan speel – is dié bewerings waar? Foto: Waldo Swiegers


binne die burger

Weather
Lottery
Cpt: 13-20°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bloem: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2006
R 74,990.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2005
R 64,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.