Hoe moet ‘whiteys’ in dié vreemde plek leef?
2011-06-25 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Hoe moet wit mense in Suid-Afrika met hul
witheid omgaan? Durf hulle dink wit is die nuwe swart? Moet hulle stilbly of
hulle onttrek; die kop in skaamte hang of laag lê; aanhou beweeg en geraas
maak? EUSEBIUS MCKAISER waag ’n mening.
Hoe moet
ek in hierdie vreemde plek leef?
Dié
misleidend poëtiese vraag vang die eksistensiële reis vas wat ’n wit
Suid-Afrikaanse filosoof en kollega van my, Samantha Vice, onlangs onderneem
het. Sy meen wit Suid- Afrikaners moet skaam voel en spyt wees oor die verlede,
en oor die feit dat hulle steeds – onregverdig – by hul witheid baat vind. Sy
worstel met wat dit vir haar beteken om wit te wees in ’n land wat steeds
uitermate rasgesentreerd, polities en onregverdig is. Haar gedagtes hieroor is
deurspek met ’n intense eerlikheid wat skaars is in die Suid-Afrikaanse
akademie. Dié eerlikheid is ongelukkig ook dikwels afwesig in die lewe van te
veel wit Suid-Afrikaners.
Jy het dalk
nog nooit van Samantha Vice gehoor nie – deels omdat sy nie dink wit mense moet
deelneem aan openbare politieke prosesse in hierdie land nie. Sy is derhalwe
versigtig om haar werk in die openbare sfeer te plaas. Tog het sy binne die
akademie met ’n gesprek hieroor begin, omdat sy glo sy beskik oor die
vaardighede om ’n bydrae te lewer. Sy voel in hierdie ruimte minder belas met
haar witheid as wat sy waarskynlik in die open- bare politieke arena sou wees.
Haar
huiwering om tot die openbare ruimte toe te tree, is ’n aktiewe stilte wat op
’n dramatiese wyse deel van haar redenasie vorm. Maar ek glo ons land het
briljante en eerlike akademici soos Samantha Vice nodig, en dat hul idees in
die openbaar gelug moet word sodat dit die grootste moontlike reikwydte kan hê. Geen onderwerp
verdien hierdie aandag dringender nie as die olifant in enige Suid-Afrikaanse
kamer: ras.
Samantha
meen wit mense se morele self is bevlek deur die onregverdige stelsel waarby
hulle baat gevind het. Vir haar, word witheid geïmpliseer in die ongeregtighede
wat die swart meerderheid steeds – 17 jaar ná die koms van demokrasie – ervaar.
Wit mense behoort skaam te voel en spyt te wees hieroor, en moet vergoed vir
die feit dat hulle onregverdig by hul witheid baat vind. Hulle behoort hulself
aan die politieke sfeer te onttrek en moet “in nederigheid en stilte” leef en
eerder vertrek op ’n persoonlike, introspektiewe reis met die herstel van hul
beskadigde morele kern as einddoel.
Met
“witheid” verwys Samantha na die feit dat ’n wit vel voordele inhou vir die
een wat wit is. Dít is ’n historiese feit. Wit mense het baat gevind by die
stelsel van anti-swart rassisme en apartheid, en witheid het die norm in ons
samelewing geword. Om wit te wees, was in alle
sektore van die samelewing so voordelig soos dit was om ’n man of manlik in die
korporatiewe sektor te wees. Dit was die “norm”, en enigiets wat hiervan sou
afwyk, was dus nie-wit, ’n negatiewe beskrywing wat sou impliseer dat nie-wit
mense defektief is. Om nie-wit te wees, sou so
defektief wees soos dit is om gay of biseksueel te wees in ’n wêreld waar
heteroseksualiteit die norm is.
Samantha
erken baie wit mense voel hierdeur gegrief, omdat hulle nie gekies het om wit
te wees of om daarby baat te vind nie. Inderdaad, sommige wit mense hét
apartheid teengestaan. Maar skaam en spyt is nie emosies wat ’n mens net
behoort te voel as jy self iets verkeerd gedoen het nie. ’n Mens behoort ook
skaam te voel as jy onregverdig by iets baat gevind het. Om
as ’n wit mens skaam te voel, is ’n manier om te erken jy leef in ’n wêreld wat
steeds deurspek is met ongeregtighede wat spruit uit jou witheid. Om skaam te voel, is ’n erkenning dat die wêreld waar- in
jy leef, nie is soos dit behoort te wees nie, naamlik regverdig en nie
rasgesentreerd nie.
Spyt wees
is ook van pas. Samantha is spyt oor haar witheid, nie omdat sy dit gekies het
nie (sy sou nie kon nie), maar omdat haar witheid ’n onregverdige stelsel in
stand hou – ’n stelsel waarin swart mense steeds sosiaal en ekonomies slegter
daaraan toe is as wit mense.
JJJ
Witheid is
nie iets wat net in die geskiedenisboeke bestaan nie. Wit mense vind steeds
baat daarby. Een van Samantha se betekenisvolle waarnemings is dat
Suid-Afrikaanse wit mense onbewustelik gewoond geraak het aan ’n onkritiese
manier van wit wees; dat hulle nie eens kan
erken wit wees is steeds verteenwoordigend van sosiale kapitaal nie.
Net soos ’n seksistiese swart man of homofobiese wit vrou dalk nooit sal
erken hoe hulle by die patriargie of heteronormatiwiteit baat gevind het nie,
doen min wit mense die moeite om te erken watter voordele in wit wees lê.
Sommige sal selfs die vermetelheid hê om te beweer húlle is die slagoffers, die
nuwe “swart mense” van Suid-Afrika.
Hulle sal
sê “die stelsel” het verander, want St.
John’s College
in Houghton het nou ’n swart hoofseun, nuwe BMW’s behoort nou meestal aan swart
professionele mense, en daar is deesdae slagoffers van anti-wit rassisme.
Maar
wanneer die koue, harde feite rondom armoede, ongelykheid en werkloosheid in
terme van ras bekyk word, beklemtoon dit Samantha se eerliker mening: witheid
verteenwoordig steeds onregverdige bevoordeling in die Suid-Afrika ná
apartheid. Witheid is steeds die norm. Om wit
te wees, is steeds in die mode.
Dít is
hoekom dit bewonderenswaardig is dat Samantha skaam voel en spyt is oor haar
witheid.
Haar
waarnemings behoort in die algemeen by wit mense te weerklink, maar dit sal
nie. Dit is moeilik om te erken ’n mens voel skaam en is spyt. Dit is makliker
om die blaam na ander te skuif, om te sê hoe korrup die “swart regering” is, of
hoe moeilik dit vir Johan, die buurman se seun, was om werk te kry ondanks die
feit dat hy ’n graad in ingenieurswese het.
Om
jouself te konfronteer en te erken jy is skaam omdat jy onreg- verdig by jou
velkleur baat vind, is vir baie mense te pynlik.
Die enigste
fout wat Samantha maak, is om haar aan die openbare politieke sfeer te onttrek.
Dit is nie swart Suid-Afrikaners se “beurt” om polities te wees nie; dit is
alle Suid-Afrikaners se plig om in die openbare en privaat sfeer as gelykes met
mekaar om te gaan. Wit mense moet in die
openbaar oor hul witheid nadink.
Ek wil nie
teen witheid beskerm word nie. Ek wil die ruimte gegun word om in die openbaar
as ’n swart Suid-Afrikaner met Samantha se gedagtes om te gaan. Dít is die
enigste manier wat gesonde verhoudings tussen wit en swart mense sal ontwikkel.
Samantha se
raad aan wit mense moet eerder effe anders wees. Dít is wat ek vir hulle sê:
“Jy het die ongekwalifiseerde politieke en etiese reg om betrokke te raak in
die politieke en openbare sfeer van ons land, maar onthou dat jy steeds by jou
witheid baat vind en dat dit aan jou onverdiende voordele gee. Gaan met
nederigheid om met swart Suid-Afrikaners, en moenie die norm van witheid
versterk nie.”
Die reis
sal die moeite werd wees, maar dit vra eerlikheid wat ongemaklik kan wees.
Ons is dit
aan ons nasie-in- wording verskuldig.
Eusebius McKaiser is ’n politieke kommentator
en verbonde aan Wits se Etieksentrum.
WAT DINK JY?
Hoe dink jý
moet wit Suid-Afrikaners hulle vandag in die land oriënteer? Hoe moet hulle met
hul witheid omgaan, en hoe moet hulle daaroor nadink? Moet hulle skaam wees?
Spyt wees? Boete doen? Swyg oor hul worstelinge, of dit met ander deel? Laat
weet ons wat jy dink. Stuur ’n SMS na 0?38595, e-pos na by@beeld.com of ’n
faks na 021?406?3953.