Het ons geleef, sou ek ’n storie kon vertel...
2012-01-13 21:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
’N Swart vlag. Vierkantig, seker so ’n bietjie meer as ’n liniaallengte groot, en effe uitgerafel aan die kante. Die goiing waarmee dit eens aan ’n behelperige “vlagpaal” gebind is, is steeds deur een kant geryg. Dit skyn ’n onbenullige stukkie lap te wees, hier waar dit agter glas in die museum hang.
Maar dit is alles behalwe onbenullig: eens, ’n eeu gelede aan die einders van die aardbol, was hierdie stukkie lap ’n soort graffiti van die dood vir vyf Engelsmanne.
Kyk na die grinterige swart-en-wit foto naas die vlag, en hierdie lappie word onthul as die swart vlag wat Roald Amundsen en sy span êrens rondom 14 Desember 1911 aan ’n sleespoor gebind en in die sneeu geplant het om die Suidpool te merk.
Die eerste ander oë wat dit gesien het, was dié van daardie vyf Engelsmanne onder leiding van kapt. Robert Falcon Scott – Edward Wilson, Henry “Birdie” Bowers, Lawrence “Titus” Oates en Edgar Evans – op 16 Januarie 1912.
In die suidelike somer van 1911-’12 – as “somer” in daardie godverlate woesteny ’n betekenisvolle begrip is – was Scott se Terra Nova-poolekspedisie gewikkel in ’n stryd met die Noorweër, Amundsen, om die eerste mense by die pool te wees; deur die sneeunewels op daardie eindelose ysvlaktes was hierdie vlag en die Noorweërs se agtergelate tent die heroute van Amundsen se triomf.
Scott en sy geselskap was nougesette joernaal- en briefskrywers en op 16 Januarie 1912 verwoord hy hulle teleurstelling: “The worst has happened, or nearly the worst... About the second hour of the march Bowers’ sharp eyes detected what he thought was a cairn... Half an hour later he detected a black speck ahead...” En Wilson dieselfde dag: “The flag was of black bunting tied with string to a fore-and-after which had evidently been taken off a finished-up sledge... The flag was fairly well frayed at the edges”.
Die Suidpool word in Scott se joernaal ’n plek soos daardie oorde van verskrikking in die klassieke mitologie: die poorte van Hades of the smidsoond van Vulkanus.
“Great God! this is an awful place and terrible enough for us to have laboured to it without the reward of priority,” skryf hy op 17 Januarie. Maar hierdie was geen verbeelde plek van die mitologie nie, en hy wonder by homself: “Now for the run home and a desperate struggle. I wonder if we can do it”.
Die eerste persoon wat hierdie woorde sou lees, Apsley Cherry-Garrard, was in November 1912 deel van die ekspedisie om na die oorskot van Terra Nova te gaan soek. Want tydens die terugtog van daardie “aaklige plek” is Scott se voorgevoel bewaarheid en sy ekspedisie het gesink van teleurstelling tot tragedie.
Dit was soos ’n grootse Shakespeariaanse spel: een vir een het die geselskap geswig, totdat die ongenaakbare verhoog van die Wit Kontinent met hul lyke bestrooi gelê het. In hul briewe en joernale het die verdoemdes hul eie drama opgeteken en in die proses het hulle verseker dat geen naam in die panteon van poolreise meer droewig-heldhaftig is as “Scott van Antarktika” nie; deur die dekades het Scott se tragedie Amundsen se triomf oorskadu.
Cherry-Garrard se ekspedisie het Terra Nova se laaste kampplek en Scott se ysgraf gevind en die oorblyfsels van hul laaste futiele stryd teruggebring na Brittanje. Vandag word dit uitgestal in die museum van die Scott-poolnavorsinginstituut in Cambridge.
Scott het ná ’n eeu steeds ’n houvas op die Britse verbeelding as die volkome Britse held, en sy verhaal is ’n bron van fassinering vir oud en jonk.
Dus vind ek daardie relieke van die buiterand van oorlewing hier, tussen ’n jillende groep laerskoolkinders op ’n opvoedkundige besoek.
Benewens daardie swart vlag is daar die klein relieke van hulle vastighede: Scott se swart sakbybel, Wilson se klein eksemplaar van die Book of Common Prayer en sy sketsboek, Bowers se navigasielogboek, die voering van hul laaste beskuitblik, die heupsakkie waarin Scott sy kosbare joernaal gedra het, sigare, vuurhoutjiedose, kameratoerusting, navigasie- toebehore, ’n yspik, ’n kompas, ’n poniehalter, hondekettings, ’n sekstant.
Maar die roerendste toonstukke is die brose, vergeelde bladsye uit Scott se joernaal en die afskeidsbriewe wat die sterwendes vir hulle eie en mekaar se naasbestaandes geskryf het om na te laat in hierdie poste restante van die dooies.
Die gedoemdes se optekening van hulle oorlewingstryd – in potlood, want die ink in penne sou vries – het ’n onwrikbare momentum, soos die kroniek van ’n sterfte voorspel. Op 20 Januarie notuleer Scott: “I think Oates is feeling the cold and fatigue more than most of us”. Vyf dae later merk Wilson op: “We had a lot of drift and wind and very cold. Had ZuSO4 and cocaine in my eyes at night and didn’t get to sleep at all for the pain”.
Op 30 Januarie rapporteer Scott oor Wilson se beseerde ligament en die effek van vriesbrand: “To add to the trouble Evans has dislodged two finger-nails tonight; his hands are really bad, and to my surprise he shows signs of losing heart over it”.
Die vyfmanskap had steeds die energie om periodiek die verwondering van die Wit Kontinent te beleef – op 2 Februarie vergaap Wilson hom aan die ys soos “largely eggshell porcelain, white and glistening like a woodpecker’s egg and as thin” en op 8 Februarie wy Scott sy inskrywing aan die geologiese monsters wat hulle daardie dag kon versamel (dit was na alles in die eerste plek ’n wetenskaplike ekspedisie).
Maar daardie ontoegeeflike plek was besig om sy tol te eis. Op 6 Februarie bely Scott sy kommer oor Evans: “We’ve had a horrid day. Evans is the chief anxiety now; his cuts and wounds suppurate, his nose looks very bad, and altogether he shows considerable signs of being played out.”
Evans sou die eerste wees wat swig. Op 16 Februarie teken Wilson sy agteruitgang op – “after 3½ hours Evans collapses – sick and giddy and unable to walk” – en die volgende dag kom die einde. Scott beskryf hoe hy twee keer agtergeraak en hoe hulle die tweede keer teruggedraai het na hom: “I was first to reach the poor man and shocked by his appearance; he was on his knees with clothing disarranged, hands uncovered and frostbitten and a wild look in his eyes... He showed every sign of complete collapse... we got him into the tent quite comatose. He dies quietly at 12.30 am.”
Die dodelike berekening van oorlewing blyk uit Scott se volgende opmerking: “It is a terrible thing to lose a companion in this way, but calm reflection shows there could not have been a better ending to the terrible anxieties of the past week”.
Dit was egter net die begin. Scott se inskrywings vir die volgende drie weke word ’n katalogus van teëspoed: van temperature benede -40°C, van sneeustorms wat vir dae aaneen woed, van stormwinde, van kwynende proviand, van navigasieprobleme in die onweer, van vlees en gees wat swig voor die aanslag.
Op 2 Maart begin die doodsklok lui vir Oates; in die woorde van Scott: “Titus Oates disclosed his feet, the toes showing very bad indeed, evidently bitten by the late temperatures”. En nege dae later: “Titus Oates is very near the end, one feels. What he, or we, will do, God only knows”.
Oates se toestand lei tot ’n ongemaklike gesprek oor ontbyt, waaroor Scott skryf: “I practically ordered Wilson to hand over the means of ending our troubles to us, so that any one of us may know how to do so...
We have 30 opium tabloids apiece and he is left with a tube of morphine”.
Op 16 of 17 Maart – Scott se joernaal teken aan dat hy tred verloor het met die datum – breek die einde vir Oates aan met ’n kombinasie van digter- like eenvoud en die groot gebaar van die operaverhoog. Scott is die verslaggewer: “He slept through the night before last, hoping not to wake; but he woke in the morning – yesterday. It was blowing a blizzard. He said, ‘I am just going outside and may be some time’. He went out into the blizzard and we have not seen him since... we knew it was the act of a brave man and an English gentleman”.
Wilson skryf in ’n brief aan Oates se moeder: “Your son died a very noble death, God knows... He died like a man and a soldier without a word of regret or complaint except that he hadn’t written to you at the last”.
Hierdie begaandheid vir die behoorlikhede van dapperheid en Engelse jintelmanskap straal uit soveel aspekte van Scott se tragiese ekspedisie: Dit is die begin van die Edwardiaanse kreeftegang van die Empaaier, maar sy leiers en offisiere weet dit nog nie – hulle leef nog die waardes van ’n vergange era (Oates was immers ’n ernstig gewonde veteraan van die Anglo-Boereoorlog).
Daardie belang is ook te vinde in Scott se “Boodskap aan die Publiek”. Hy skryf hulle lot toe aan “misfortune in all risks which had to be undertaken”, eerder as swak beplanning en sluit af: “Had we lived, I should have had a tale to tell of the hardihood, endurance, and courage of my companions which would have stirred the heart of every Englishman. These rough notes and our dead bodies must tell the tale...”
Want teen die tyd dat Oates beswyk het, was dit duidelik dat die skrif aan die muur was. Teen 18 Maart weeklaag Scott – “No human being could face it, and we are worn out nearly. My right foot has gone, nearly all the toes... These are the steps of my downfall” – maar die volgende dag is hulle net 15 myl of drie dae se stap van hulle volgende proviand-depot en die laaste optimisme kruip in Scott se joernaal in, al het hulle net twee dae se kos en een dag se brandstof oor.
Teen 21 Maart is die drie oorlewende lede van die geselskap net 11 myl van die depot, maar sonder dat hulle dit weet, het hulle hul graf bereik.
Op 22 of 23 Maart rapporteer Scott: “Blizzard as bad as ever... no fuel and only one or two of food left – must be near the end. Have decided it shall be natural – we shall march for the depot with or without effects and die in our tracks”.
Maar hulle mars was verby: Die volgende week of wat het die onverpoosde sneeustorm hulle vasgepen in die kampplek en al wat hulle kon doen, was skryf. Hier is Bowers aan sy ma: “When man’s extremity is reached God’s help may put things right & though the end will be painless enough for myself, I should so like to come through for your sake.”
En Wilson aan sy “Most Beloved Wife”: “We have struggled to the end and we have nothing to regret. Our whole journey record is clean, and Scott’s diary gives the account... The Barrier has beaten us – though we got to the Pole... Your little testament and prayer book will be in my hand or in my breast pocket when the end comes. All is well...” Daardie gebedsboekie in die glaskas in Cambridge, dus.
Scott skryf ook aan Wilson se vrou – “I can do not more to comfort you than to tell you that he died as he lived, a brave, true man – the best of comrades and staunchest of friends” – voordat hy sy potlood aan sy vrou rig.
Hy adresseer dit aan “my Wife/Widow” en sy gedagtes is gerig op die toekoms: “I think the last chance has gone. We have decided not to kill ourselves but to fight to the last for that depot, but in fighting there is a painless end, so don’t worry. Make the boy interested in natural history if you can. It is better than games.”
Scott se laaste dagtekening is gedateer 29 Maart: “Since the 21st we have had a continuous gale... We had fuel to make two cups of tea apiece and bare food for two days on the 20th. Every day we have been ready to start for our depot 11 miles away, but outside the door of the tent it remains a scene of whirling drift. I do not think we can hope for any better things now. We shall stick it out to the end, but we are getting weaker, of course, and the end cannot be far. It seems a pity, but I do not think I can write more. Last entry. For God’s sake look after our people.”
In die museum in Cambridge lê Scott se joernaal oopgeslaan by hierdie droewe testament. Met daardie woorde raak sy stem stil – die verhaal van Terra Nova se heldhaftige mislukking kwyn in die sneeu.
Op pad uit die museum word ’n foto teen ’n wit muur geprojekteer van ’n reuse- grys vragvliegtuig op ’n ysige landingstrook in Antarktika.
In die jukstaposisie van daardie beeld met die relieke van Scott en sy kamerade lê die verhaal van die krimpende aardbol opgesom.
’n Eeu gelede het die strewe na een van die laaste groot onbereikbaarhede van die planeet die lewens van hierdie vyf Edwardiaanse Engelsmanne geëis; vandag land vragvliegtuie vol proviand en plesierbote doen die Wit Kontinent aan.

Die Suidpool word in Robert Scott se joernaal ’n plek soos daardie oorde van verskrikking in die klassieke mitologie. FOTO’S: SCOTT-POOLNAVORSINGINSTITUUT

Die Terra Nova is voor die ekspedisie gebruik om walvisse te jag.

Op pad na die Suidpool, was die geselskap toegerus. Maar hulle sou alleen sterf.

Scott en sy poolgeselskap by die Suidpool. Van links is kaptein Lawrence Oates, luitenantHenry Bowers, Scott, dr. Edward Wilson, en onderoffisier Edgar Evans.

Scott se laaste joernaalinskrywing was: “I do not think I can write more. Last entry. For God’s sake look after our people.”