Gebod 1: ‘Wag tot jy die wit van die vyand se oë sien voordat jy vuur’

2012-01-20 22:27

Hy het “behoort aan die skool van geharde beroepsoldate” in teenstelling met die ander “langhaar-seuns”.

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Sewentig jaar gelede was hy in die kollig as een van die Geallieerdes se grootste helde in die Tweede Wêreldoorlog. Agter die stuurstang van ’n Spitfire het hy die reputasie van die Duitse Luftwaffe flenters geskiet. Hy is met Britse, Belgiese, Franse en Tsjeggiese dapperheidstoekennings vereer. Sy geskrewe reëls vir luggevegte was jare lank wêreldwyd die “tien gebooie” vir vegvlieëniers. In die oorlogfliekBattle of Britain is een van die hoofkarakters op hom gegrond.

Tog het die meerderheid Afrikaanssprekendes van daardie tyd hul neuse opgetrek vir dié prestasies van een van hul bloedbroers – Adolph Gysbert “Sailor” Malan, ’n plaasseun van Wellington in die Boland.

Die krytdampe van die stryd tussen Boer en Brit in die Anglo-Boereoorlog het bykans veertig jaar gelede al gaan lê, maar die Britse vernietiging van boereplase en wandade in die konsentrasiekampe was nog vlak in die Afrikaner-geheue. Hul simpatie het gedurende die Tweede Wêreldoorlog dikwels by die Duitsers gelê. Die Britte was steeds die “vyand” en Sailor Malan en sy mede-landgenote wat in die oorlog teen fascisme baklei het, is neerhalend as “rooilussies” gebrandmerk.

Die feit dat Malan die Britse premier, Winston Churchill, gevra het om die peetpa van sy seun Jonathan Winston Frazer te wees, het hom ook nie veel gehelp om heldestatus onder sy mede-Afrikaners te verwerf nie. Ook nie die feit dat hy ná die oorlog ’n tyd lank ’n handlanger van die Oppenheimers by Anglo American was nie. Laasgenoemde was destyds een van die simbole van Joodse geldmag en die vooroordele was tekenend van die tyd. En toe Malan in 1951 leier word van die Torch Commando, ’n beweging van oorlogsveterane wat die regerende Nasionale Party die stryd aangesê het, het die Afrikanerdom finaal die rug op hom gekeer.

Só erg dat selfs sy suster, Marjorie Nortje, alle kontak in dié tyd met hom verbreek het. Sy het in later jare erken dat sy verkeerd was en dat “die oogklappe van Afrikaner- nasionalisme my visie destyds erg belemmer het”.

Maar wat het Malan, wat grootliks in sy geboorteland misken is, só uitsonderlik gemaak dat historici oor die wêreld heen vandag nog van hom praat wanneer hulle groot vegtershelde in herinnering roep?

Sailor Malan het sy eerste lewenslig op 3 Oktober 1910 op Wellington in die Boland aanskou. Sy pa was ’n boer, Willem “Willie” Malan, en sy ma ’n Brits-gebore nooi, Evelyn Ford Jordan. Sy ma se ouers, Alfred en Frances Jordan, het in 1889 per skip vanuit Brittanje met hul gesin Suid-Afrika aangedoen op pad na Wellington in Nieu-Seeland. In Kaapstad het hulle gehoor dat Suid-Afrika ook met ’n Wellington spog en uit nuuskierigheid dié dorp besoek.

Alfred, ’n skoenmaker van beroep, het gehou van wat hy gesien het en besluit om hom in Suid-Afrika te vestig. Dit was die begin van die bekende Jordan-skoenfabriek in Suid-Afrika.
Malan het aanvanklik sy skoolopleiding op Wellington gekry, maar ná standerd ses het die drang na avontuur sterk geroep en het hy aangesluit as ’n kadet by die Suid-Afrikaanse opleidingskip Louis Botha. Hy het sy loopbaan op see voortgesit op die Union Castle van die International Mercantile Marine Co. – dit was juis as gevolg van sy loopbaan as seeman dat hy later die bynaam “Sailor” by sy mede-vlieëniers gekry het.

Hy wou dolgraag vlieg, maar was in daardie stadium te oud vir toelating by die Britse lugmag, die Royal Air Force (RAF). In 1935 het die dreigende oorlogswolke oor Europa die RAF laat besluit om sy vlieënierskorps vinnig uit te brei en die toetree-ouderdom na 25 opgeskuif. Malan het hom in dieselfde jaar by die RAF gaan aansluit. Hier het hy by ’n elementêre vliegskool in ’n Tiger Moth leer vlieg en in Januarie 1936 vir sy eerste vlug opgestyg. Sy destydse instrukteur was nie beïndruk met die Suid-Afrikaner se vaardighede nie. In ’n verslag skryf hy: “Die vlieënier is geneig om lomp en ongeduldig te wees wanneer hy agter die kontrole sit.”

Dié instrukteur het egter nie Malan se onverskrokkenheid en uitsonderlike skerpskuttersvermoë in ag geneem nie. As jong plaasseun het Malan nie juis belanggestel om bokke te skiet nie, maar verkies om na voëls te korrel “omdat hulle bewegende teikens was”. Dié aangeleerde kuns om geveerdes in die lug te klits, het hom later goed te pas gekom as vegvlieënier.

Hy is op 20 Desember 1936 by Eskader 74 ingedeel. In Augustus 1937 het hy waarnemende bevelvoerder van die A-vlug van die eskader geword, en kort daarna is hy tot vlugluitenant bevorder.

Malan het een van die eerste Spitfires uit die fabriek gaan haal. Hy was opgewonde oor dié oorlogswapen en het opgemerk: “Die Spitfire is ’n moordenaar. Dit het ons geweet die oomblik toe ons al agt sy kanonne op ’n grondteiken gemik het. Hy was boonop ’n perfekte heer. Hy het geen ondeugde gehad nie. Jy kon met hom duik totdat dit voel asof jou oë uit jou kop wou peul, maar sy vlerke was nog daar; jy kon geduik het totdat dit gevoel het jou binneste smelt, maar hy het gehoor gegee aan die fynste drukkie van jou vingerpunte.”

Maar Malan se loopbaan as Spitfire-lugvegter het katastrofies weggespring. Op 6 September 1939 is A-vlug van Eskader 74 opdrag gegee om vermoedelik vyandelike vliegtuie te onderskep. Dit was inderwaarheid RAF-Hurricanes van Eskader 56. Malan het geglo dat dit Duitse vliegtuie was en sy mede-vlieëniers opdrag gegee om aan te val. In dié proses het hulle ’n Hurricane afgeskiet en dit het tot die dood van ’n RAF-vlieënier gelei. Die krygsraad het oor dié voorval gesit en bevind dat dit ’n “ongelukkige fout” was en dat Malan nie daarvoor verantwoordelik gehou kon word nie.

Malan en Eskader 74 het egter gou hul reputasie in ere herstel in ’n woeste geveg op 28 Julie 1940 tydens die ontruiming van Dunkirk. Hier het Malan sy vaardigheid en onverskrokkenheid as vegvlieënier ten toon gestel en vyf Duitse vliegtuie afgeskiet, waarvoor hy die Distinguised Flying Cross (DFC) ontvang het. In een van die voorvalle tydens dié geveg het Malan koel en kalm een van die gloeilampies in sy geweervisier omgeruil, terwyl die skote om hom geklap het. In dieselfde maand het hy nog twee Duitse vliegtuie (Heinkel-bomwerpers) afgeskiet, waarvoor ’n balkie tot sy DFC gevoeg is.

Sy versekeringsmaatskappy was van die eerstes wat hom gelukgewens het met dié toekenning vir dapperheid. Hy het droog opgemerk dat enige korrespondensie van dié maatskappy hom gewoonlik “bang gemaak het” en vervolg: “Dié kere wat hulle met my gekorrespondeer het, was om my te herinner dat ek agterstallig was met die betaling van my premies. Dié keer het hulle nie melding gemaak van enige skuld nie.”

Op 8 Augustus 1940 is Malan tydens die toppunt van die Slag van Brittanje, die sogenaamde Battle of Britain, as waarnemende leier van Eskader 74 aangestel. Op 11 Augustus het die aksie om 07:00 begin toe Eskader 74 gestuur is om vyandelike vliegtuie oor Dover te onderskep. Dit was die eerste van vier luggevegte met verskeie Duitse eskaders wat die hele dag geduur het. Eskader 74 het 38 Duitse vliegtuie afgeskiet en die dag is gedoop tot “Sailor’s August the Eleventh”. Malan se enigste kommentaar hierop was: “Só het ’n baie suksesvolle gevegsoggend ten einde geloop.”

Daar is vele staaltjies oor Malan se onverskrokkenheid. Een van die bekendstes is toe hy een nag op die Honchurch-basis wakker geword het van loeiende sirenes, wat die aankoms van Duitse vegvliegtuie aangekondig het. Sailor het na die bevelvoerder se kamer gegaan en toestemming gevra om die Duitsers man-alleen in die lug te konfronteer. Die bevelvoerder wou aanvanklik niks weet nie, die hele gebied het gewemel van Britse flak-kanonne wat op die Duitsers gevuur het en Malan sou ook ’n teiken wees.

Maar Malan was ’n hardkoppige man en het sy sin gekry. Toe grondbemanning sy Spitfire uitstoot op die aanloopbaan, het ’n Duitse Heinkel op hul afgeduik. Daar naby was ’n loopgraaf wat die oggend net sowat 46?cm diep was. Sailor het daarin geduik, onwetend dat iemand dit in die dag amper 2?m dieper gegrawe het. Hy het op sy skouer geval en sy neus so hard gestamp dat dit gebloei het. Die grondbemanning moes die beseerde Malan in sy Spitfire inhelp.

Die oomblik toe hy in die lug was, het die vegter in hom oorgeneem. Hy het geklim tot 8 000 voet waar die Heinkels beweeg het. “Ek het tot agter hulle gekom en van 200 tot 50 tree op hulle losgebrand,” het hy aan ’n vriend vertel. “Die koeëls het soos kwaai brommers teen die Heinkels vasgeslaan. Olie het op my Spitfire se windskerm gespuit van ’n beskadigde Heinkel voor my. Ek het vinnig geduik en die wind het my ruit skoongevee. Toe klim ek na 12?000?voet. Ek het ’n ander Heinkel gesien en hom bekruip.”

Malan se vegverslag oor dié vliegtuig het gelui: “Op 250 tree losgetrek. Twee sarsies van 5 sekondes gevuur. Gesien dat koeëls al langs die romp ontplof. Ek het die vallende Heinkel gevolg totdat hy in vlamme op die grond neergestort het.” Toe die res van die eskader die oggend om halfvyf opstyg vir die nuwe dag se patrollies, was Malan weer vooraan; sy kamerade het eers later uitgevind dat hy in die nagtelike ure met ’n paar vyande klaargespeel het.

’n Vliegtuigpasser het in dié tyd aan Malan se ouers in Suid-Afrika geskryf: “Ek het baie ure bestee om sy Spitfire ná operasies weer vlieggereed te kry (twee keer is vlerke vervang en een keer die stert). Dan het ek weer eens onder die indruk gekom van watter noue ontkomings hy in die lug moes gehad het. Hoewel sy Spitfire elke keer rammelend teruggekeer het, het hy geweier om dit vir ’n nuwe en moderne een te verruil.”


Sailor Malan is by geleentheid gevra hoe hy gevoel het wanneer hy ’n Duitse lewe geneem het. “Niks nie,” was sy kil antwoord, “ek het net gedink dat dit een Duitser minder is wat sy bomme op Londen wou werp.”
Malan was ouer as die meeste ander vlieëniers (in 1940 was hy 30 in vergelyking met die gemiddelde ouderdom van 25 van die ander). Volgens ’n vriend het hy “behoort aan die skool van geharde beroepsoldate” in teenstelling met die meeste ander vegvlieëniers wat beskryf is as die “langhaar-seuns wat oor naweke vir die plesier gaan vlieg het, sportmotor- fanatici was, meestal fuifende ongegradueerdes wat genot geput het uit die nuwe kliektaal en die ‘speelgoed’ van vegvlieëniers.”

Volgens ’n kollega het Malan nooit meegedoen aan die kaperjolle van die jonger garde nie. “As die lugmagmanne in die kroeg ontspan, is daar gesing en geraas. Een vlieënier het op sy kop gestaan terwyl hy ’n bier uit ’n glas probeer opslurp het, ’n ander het ogies gemaak vir die kroegmeisie agter die toonbank. Malan het eenkant in ’n hoek gesit, sy een hand op ’n glas bier, terwyl die ander die kop van Peter, sy foksterriër, gestreel het. Hy het hul manewales gewoonlik net met ’n glimlag gade geslaan.”

Dié basterbrakkie Peter was op die basis altyd aan Malan se sy. Daar word vertel dat Peter die dreuning van Malan se Spitfire bo die ander kon uitken en dat hy sy baas menigmaal tegemoet gehardloop het wanneer hy van ’n operasie teruggekeer het. ’n Eksklusiewe restaurant in West End wou Peter eenkeer uitgooi, maar Malan se RAF-kollegas het gedreig dat hulle die plek sou “afbreek” as iemand aan Peter raak.

Iets wat in die meeste geskrifte in dié tyd oor Malan verswyg word, is dat hy ’n dobbelaar was wat van sy mede-vlieëniers en onderdane geld geskuld het.
As lugvegter toon hy egter geen swak plekke in sy mondering nie, en op 24 Desember 1940 is hy met die Distinguised Service Order (DSO) vereer. Op 22 Julie 1941 word ’n balkie tot dié dekorasie toegevoeg.

Hy het ook Belgiese, Franse en Tsjeggiese oorlogskruise vir sy heldedade ontvang.
Op 10 Maart 1941 is hy aangestel as een van die eerste vleuelleiers vir die aanvalsoperasies, waartydens hy die Biggin Hill-vleuel tot Augustus gelei het. Hy het sy aktiewe gevegsloopbaan aan die einde van daardie jaar beëindig, en is toe bestempel as Brittanje se voorste RAF-vegvlieënier.

Vandag word hy steeds beskou as een van die suksesvolste vegvlieëniers van die Tweede Wêreldoorlog.


Malan het ’n eenvoudige stel reëls vir vegvlieëniers opgestel, en dit is tydens die oorlog in elke Britse lugmagbasis teen ’n muur opgeplak. Dit het bekend gestaan as die “Tien reëls van luggevegte” en was die “tien gebooie” (soos dit later herdoop is) vir generasies vegvlieëniers ná hom. Sy eerste gebod was: “Wag totdat jy die wit van die vyand se oë sien voordat jy vuur.”

In 1946 het Malan die RAF vaarwel toegeroep en na Suid-Afrika teruggekeer. Ná ’n draai by Anglo American, het hy op ’n plaas in die Kimberley-distrik gaan boer. Hy het aangesluit by die Torch Commando, ’n organisasie vir oorlogsveterane, en later president hiervan geword.

In Malan se eie woorde was die doel van dié organisasie “om die polisiestaat, die misbruik van mag, die sensuur, rassisme, die verwydering van die kleurling-stemreg en ander onderdrukkende manifestasies van die kruipende fascisme van die Nasionale Party-regime teen te staan.”

Die NP was onrustig hieroor, en wetgewing is aanvaar wat staatsamptenare en militêre personeel verbied het om lid van dié organisasie te word. Daar is na Malan verwys as iemand wat met sy leierskap van die Torch Commando bloot daarna hunker om sy gloriejare van die oorlog te probeer herleef, en die Commando is beskryf as ’n “amper-fascistiese organisasie wat bereid was om met geweld beheer van die land oor te neem”. Die Commando kon dié aanslae nie oorleef nie.

Malan het hom van 1956 heeltyds op sy veeboerdery buite Kimberley toegespits. In 1963 is hy aan Parkinson se siekte oorlede.
Hoewel hy in sy lewe deur “sy mense” verguis is, word hy vandag onthou vir sy heldedade in die Tweede Wêreldoorlog en vir sy werk as anti-apartheids-aktivis.

  • Rudie van Rensburg het weens ’n aangetroude familieverbintenis toegang verkry tot Sailor Malan se oorlogsbriewe aan sy ouers en tot 71 plaaslike en Britse koerantknipsels oor Malan wat sedert die oorlog behoue gebly het.
  • Bykomende bronne: The Second World War deur John Keegan; Sailor Malan deur Oliver Walker; Wikipedia.


Sailor Malan was een van die mees gevierde vegvlieëniers van die Tweede Wêreldoorlog en het 35 Duitsers afgeskiet.





binne die burger

Weather
Lottery
Cpt: 13-20°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bloem: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Database Administrator

JHB - Northern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R500000 - R550000

DBA

JHB - Northern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R500000 - R550000

SQL Developer

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R400000 - R420000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2006
R 74,990.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2005
R 64,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.