Fritz Deelman ontmoet Anna Atoom
2012-02-10 21:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
In 1956 het Leon Rousseau kinders laat regop sit met ’n fris Afrikaanse luitenant wat boewe op hul herrie gee. Vandag is dit Anna Atoom van Elizabeth Wasserman wat die verbeelding aangryp met haar avonture op ’n eiland in die Stille Oseaan. Met bykans sestig jaar tussen hulle, het dié snuiter en Fritz Deelman oor e-pos gesels – goed, met die hulp van hul onderskeie “peetouers”.
Beste luitenant Frits Deelman,
My naam is Anna Atoom en ek bly op ’n eiland in die Indiese Oseaan, oos van Afrika. My ouers is wetenskaplikes en hoewel ek al baie ander slim mense ontmoet het, is jy my held. Eendag wil ek ook ’n speurder wees. Dink jy ek kan ook vir die Internasionale Veiligheidspolisie kom werk?
Beste Anna,
Baie dankie vir jou kort brief. Ek was besonder bly om van jou te hoor, want ek het pas die eerste boek gelees wat jou peetma, prof. Wasserman, oor jou merkwaardige avonture geskryf het, en dadelik ’n bewonderaar geword.
My eie peetpa, Leon Rousseau, sê jy is my literêre nasaat. Al wat die meeste mense van my weet, is wat in die agt boeke oor my geskryf staan. Hulle is nogal lank gelede geskryf.
Ek is nie meer ’n luitenant nie. Toe ek my opdraggewer, genl. Heyns, opgevolg het, het ek ’n generaal geword en my opwindende lewe noodgedwonge verruil vir die saaie lewe in die hoofkwartier op Tafelberg. Pasop dat iets van dié aard nie met jou gebeur nie.
Nog voordat jy gebore is, was ek ’n week in die Seychelle. Ek beny jou, want dis seker die wonderlikste plek op aarde om te woon.
As jy weer wil skryf, noem my asseblief sommer Fritz. (Ek moes eintlik Frits gewees het, soos my oupa, maar my pa het my Fritz laat doop omdat dit glo kragdadiger klink.)
Hallo Frits/z,
Jammer oor die spelfout in jou naam – ek gee seker nie genoeg aandag aan hoe ek skryf nie. Daar is veel meer interessante dinge om te doen! Aan titels steur ek my ook nie veel nie.
My ma is ’n professor en my pa ’n admiraal, maar nie een van hulle twee is so intelligent soos ons superslim rekenaar nie en sy naam is sommer net Maks.
Hy kan praat, maar ek is seker hy kan ook nie goed spel nie – sy grammatikaprogramme werk nie mooi nie. Maar sy werk is om die aarde se klimaat dop te hou en dit doen hy uitstekend.
Wat my die meeste frustreer, is skool. Dit is interessanter om in die see te swem of om boeke te lees oor interessante mense soos jy, en al jou avonture.
Ek sal graag ook speurwerk wil doen. Die eilande is wonderlik, maar ek wil graag ook die res van die wêreld sien.
F.D.: Jy het ’n punt daar beet. Thomas Edison, die grootste uitvinder van alle tye (met die moontlike uitsondering van Leonardo da Vinci, wat sy tyd so ver vooruit was, dat niks van sy uitvindings kon kom nie), kon glad nie spel nie.
Jy sal veel vinniger as ek op die internet voorbeelde van sy spelling in sy briewe aan sy ma ontdek. En wat skool betref, Einstein was maar ’n middelmatige leerder.
Jy sê jy wil die res van die wêreld sien. Het ek dan nie ’n voëltjie hoor fluit dat jou peetma onlangs in New York was nie? Jy was tog seker saam?
A.A.: Nee, sy het agter Speurhond Willem aangeloop om te kyk wat hy daar aanvang. My hond, Brak, is ’n robot en in die algemeen meer gehoorsaam as Willem.
Hy kan ook beter toertjies doen. Hy was onlangs onsigbaar, en dit was ’n gemors. Dit was toe ons by die Noordpool was (daardie storie word vertel in Anna Atoom en die magnetiese meermin, wat later vanjaar in boekvorm verskyn).
Jy was al op die Suidpool – ek verstaan dit is nog kouer daar. As ek nooit weer sneeu sien nie, is dit ook goed. Die Noordpool se ys is besig om te smelt, maar daar is steeds te veel vir my.
F.D.: Elke ding op sy plek. Daar is niks soos ys in ’n gin & tonic nie. (Hokaai, dit mag jy eers oor ses jaar begin beproef.) Ja, ek was in Antarktika, maar die boewe het ons so besig gehou, dat ek nooit kans gehad het om koud te kry nie.
Ek was ook op my dag in Tibet, in Amasonia, in die Sahara en op Mars. En o ja, herhaaldelik onder die see. Dis waar ek in my element voel, synde ’n Aquarius. Ek raai jy is seker ’n Pisces. Alles opwindend.
Die enigste ding wat ek nie wil terughê nie, is die papierwerk ... Ek was bly om daarvan weg te kom toe ek afgetree het.
Ek het Anna Atoom en die seerower se dolk gelees en ek kan nie wag om die nuwe boek te kry nie. Verbeel ek my of is daar ook ’n derde aan die kom? Vertel wat jy op MonPetit doen.
A.A.: Jy is reg. Ek is in Maart gebore en val dus onder die sterreteken van Pisces. My ouers en die ander wetenskaplikes van GROEN sê ek moet my nie steur aan astrologie nie, eerder aan astronomie! Ek dink albei is interessant.
Jy kan gerus kom kuier. Ek hou ’n versameling seeslakke aan in die baai onder ons huis. Ons het twee mak dodo’s wat gedurig amok maak in Ton se groentetuin.
Jy sal hou van die Onderwater Verkenner. Dit is ’n klein duikboot wat eintlik bedoel is vir wetenskaplike waarneming, maar dit is sommer net lekker om daarin rond te ry in die see rondom die eiland.
Ek kan die Verkenner self bestuur. Doodmaklik. En o ja, ek het ’n spaar waterlong wat jy kan gebruik. Dit is maklik om daarmee te duik. Haaie is ’n bietjie van ’n probleem as jy bang is vir hulle.
Die derde boek? Ek kan jou sê dat dit iets met vuurspuwende berge te doen het, maar vir die res sal jy eers moet wag ...
F.D.: Laat my probeer raai. Boewe kry dit op die een of ander manier reg om tektoniese plate voortydig oor mekaar te laat skuif en dit veroorsaak ’n moewiese vulkaan wat dreig om ’n jarelange vulkaanwinter oor die hele aarde te veroorsaak, natuurlik met katastrofale gevolge vir die mensdom. Die motief kan ek egter nie raai nie.
Is jy ernstig oor die kuier? Ek is na die Swart See genooi, maar ek kan verskoning maak as jy net sal bevestig dat jou ma van die uitnodiging weet.
Haaie? Net dwase is nie bang vir die grootwit nie, maar daar is maniere om hom te ontmoedig. Op my dag het ek van allerlei tegnologiese nuwighede gebruik gemaak, maar ek sien uit na ’n waterlong wat sy suurstof sommer uit die see haal. Veel meer onderseetyd.
Daai duikboot klink fantasties. Ek sal gou moet kom, voordat die noordwestelike moeson ophou waai. (Dis nou om te seil.) Wanneer het jy vakansie? Laat weet gou! Ek pak solank ...

Fritz Deelman op ’n helder neon-omslag uit die jare sewentig.

Dié skets van Anna is deur Elizabeth gemaak en vir die boek aangepas deur Michelle Staples.
Leon Rousseau oor Fritz
Die eerste Fritz Deelmansis in opwindende tye bedroom. Dit was maar enkele jare ná die Tweede Wêreldoorlog en wetenskapfiksie-skrywers wêreldwyd was gaande oor ruimtereise.
Ek het Ray Bradbury gelees, daardie meester van atmosfeerskepping. En Isaac Asimov, wat vir sy eie karakters en vir die mensdom van die toekoms die wette uitgewerk het waaraan robotte onderhewig sou wees.
Daar was Robert Heinlein, dalk droër as die ander, maar met baie noukeurige tegniese inligting. En – miskien baas bo baas – die Engelsman Arthur C. Clarke.
Die eerste Fritz Deelman was dus Fritz Deelman en die skepe van Mars.
Die storie het in Die Jongspan verskyn, maar is vir publikasie in boekvorm eers uitgebrei en bygewerk sodat Fritz Deelman en die swart eiland (1956) die eerste was wat as boek verskyn het.
Vir styl en benadering moet ek my skatplig betuig teenoor jeugblaaie soos Gemen Magnet, wat ek as kind gelees het.
Leon Rousseau is die skrywer van onder meer Die Groot Verlange oor Eugène Marais en die stigter en oud-uitgewer van Human & Rousseau.

Elizabeth Wasserman oor Anna
Daardie onversadigbare nuuskierigheid wat die klein outjies tot vervelens toe vrae laat stel, boomtoppe en modderplasse verken en elke gebruik vir ’n konfytblik uitprobeer – wanneer verdwyn dit? En hoekom?
Met Anna se stories probeer ek jong lesers vashou in dié wêreld waar alles moontlik is. Dit werk lekker vir skryf, want wetenskap en tegnologie is wonderliker as towerkuns. Jy moet net jou oë oophou.
Anna se stories het ’n bewaringstema. Wat is die gevolge van ons interaksie met die omgewing? Hoe kan ons tegnologie gebruik om rampspoedige gebeure soos aardverwarming en tsoenami’s te voorspel en te voorkom?
Anna se wêreld laat ons vooruit dink, maar ek skryf dit so dat avontuur en aksie hoofsaak bly.
Wasserman is professor en hoof van die afdeling geneeskundige mikrobiologie van die departement patologie, Universiteit Stellenbosch en National Health Laboratory Services.