Die maat vanwaansin
2012-01-20 22:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Toe ek oorkant die lang, lenige Miles Keylock gaan sit op die stoep van Greens, meld ’n paar bekende reëls van Joni Mitchell by my aan:
“The last time I saw Richard was Detroit in ’68 / And he told me all romantics meet the same fate someday / Cynical and drunk and boring someone in some dark café.”
In die laaste paar jaar het ek dikwels gewonder of daardie Richard op Mitchell se klassieke Blue (1971) dalk reg is. Maar Miles, die redakteur van die Suid-Afrikaanse Rolling Stone wat sedert 23 November 2011 met ons is, ondergrawe dié veralgemening met ’n aansteeklike mengsel van kinderlike entoesiasme en belese gesag.
Die man met die woeste grys kuif is klaarblyklik ’n gebore romantikus, maar sinies, dronk of vervelig is hy nie. Greens is ook allesbehalwe ’n donker kroegie. Inteendeel, op dié restaurantstoep straal die Kaapse somerson met soveel selfvertroue dat Miles se rock ’n’ roll-donkerbril enige oogkundige se goedkeuring sou wegdra.
Miles steek ’n tweede sigaret op met die woorde: “Uitstekend! Ek kan hier rook.”
Ek het gehoor Miles het die ander euwels sinoniem met rock – drank en dwelms – vaarwel toegeroep. “Geruime tyd al,” beaam hy. “Daardie leefstyl – die uithang met muso’s tot in die vroeë oggendure – dis lekker, maar dis uiteindelik ’n mors van tyd. En namate jy ouer word, neem die herstelperiode toe. Jy kry eenvoudig meer gedoen as jy op een of twee ondeugde fokus. Vir my is dit koffie en sigarette. Ons het ’n ongelooflike masjien in die kantoor.
Een van daai Lavazza-outjies. Jy druk net ’n knoppie en dan vloei die espresso. Ek probeer darem om nie meer as tien koppies per dag te doen nie.”
Die Suid-Afrikaanse Rolling Stone-hoofkwartier, of dalk liewer oopplan-bendehuis vir Peter Pans met ’n passie vir musiek, popkultuur en woorde, lyk inderdaad na ’n lekker plek om speel-speel te werk. Dis geleë in Jamiesonstraat net agter die e.tv-gebou en die Vida e Caffè in Kloofstraat waar vele van die Kaap se trendies met rugsak- toeriste skouers skuur.
Hoe het dit gebeur dat die Rolling Stone-tydskriffamilie nou ook ’n Suid-Afrikaanse boetie ryker is? “Man, die hele storie het in April 2011 begin.” (Miles sê baie “man” en “jy weet” – waarskynlik sodat sy kop kan inhaal by sy koorsige mond, want hy praat soos ’n deelnemer aan Flinkdink se snelvuur-afdeling.)
“Ek was in die Pepper Club Hotel besig om die Kaapstadse Jazzfees vir die Mail & Guardian te dek toe ek ’n oproep ontvang. ‘Jy’s glo die man om mee te praat oor musiek in Suid-Afrika,’ het ’n onbekende stem gesê. Vyf dae later word ’n nie-openbaarmakingsverklaring voor my neergesit, en toe ek omblaai, sien ek die Rolling Stone- mashoof en ek dag: interessant!
“Ek en ’n paar geesgenote slaan toe ’n voorlegging aanmekaar, en in Junie stuur ons vir Rolling Stone in Amerika ’n dokument van 300 bladsye met projeksies, syfers, uitlegte – man, ’n hele kamma-tydskrif. Hulle sê dis die omvattendste voorlegging wat hulle tot nog toe gekry het. En toe vlieg hulle ons oor.”
Na New York? “Ja, na daai wonderlike kantore van hulle in die Avenue of the Americas. Jy stap daarin en jou kop ontplof – al die geskiedenis wat daar versamel is. Jy loop in hierdie gang-galery af waar elke liewe Rolling Stone-voorblad vanaf die heel eerste uitgawe hang. En dan’s daar die portrette van al die fenomenale fotograwe wat deur die jare vir hulle gewerk het – Annie Leibovitz se ikoniese John Lennon en Yoko Ono-foto’s, Mick Rock se Iggy Pop-goed. Die Stones, waar jy kyk. Dylan, oral. Oorspronklike afdrukke!
“En toe gesels ons letterlik ’n paar dae lank – oor musiek en Suid-Afrika en hoekom ons dink Rolling Stone hier so belangrik kan wees. Ek meen, ons het al hierdie fantastiese musiek en kultuur, maar nie ’n plek om in diepte daaroor te skryf nie.
“Kort daarna nooi hulle ons na hul tweejaarlikse internasionale konferensie waar die redakteurs, uitgewers en kreatiewe mense van al 16?tydskrifte in die Rolling Stone- familie van reg oor die wêreld bymekaarkom.”
Miles en sy span het ook Jann Wenner ontmoet, die tydskrif se stigter-redakteur wat Leibovitz en Hunter S. Thompson die kans gegee het om kultushelde te word.
“Ons eerste ontmoeting was op dag een van die konferensie. Ons is genooi om Blondie in die Highline Ballroom te gaan kyk. Toe ons motor voor die Highline stilhou, sien ek ’n klein mannetjie wat gaan sit om ’n sigaret te geniet, en ek besef dis Jann! Toe ons groet, weet hy wragtie wie ons is. Hy het ’n vonkel in sy oë. Almal wat ek al ontmoet het wat ná dekades steeds kompromisloos hul ding doen, het daai vonkel.”
Maar kan ’n nistydskrif soos Rolling Stone werk in die huidige ekonomiese klimaat? En kan ’n mens oor kleur- en taalgrense heen skryf oor die diep verdeelde Suid-Afrikaanse musiek- en popkultuur? ’n Besoek aan Oppikoppi wys jou rock bly ’n wit ding, en op ’n kwaito-jol is daar nie juis bleekgesigte nie. Dat Miles en kie. op ’n veeltalige en -rassige aanslag besluit het, is egter duidelik. Hugh Masekela en die plaaslike popsensasie Zahara was die voorbladgesigte van hul eerste twee uitgawes, maar binne het jy artikels gevind oor almal van internasionale sterre soos die Red Hot Chili Peppers en Lil Wayne tot die Afrikaanse rockers Van Coke Kartel en die rapper Jack Parow. Werk dit?
“Ek dink dit begin werk. Ons word oorval met CV’s en navrae van musikante. Op die konferensie in Amerika het mense ons gevra: Wat beteken rock waar julle vandaan kom? En ek het gesê: Man, Lester was reg. [Lester Bangs was die kultus-rockskrywer vir onder meer die tydskrif Creem.] Rock is nie ’n genre nie, dis ’n lewenshouding. Lester het die spyker op die kop geslaan in daai klassieke stuk van hom, ‘A Reasonable Guide to Horrible Noise’: ‘There are many here among us for whom the life force is best represented by the livid twitching of one tortured nerve, or even a full-scale anxiety attack. I do not subscribe to this point of view 100%, but I understand it, have lived it. Thus the shriek, the caterwaul, the chainsaw gnarlgnashing, the yowl and the whizz that decapitates, may be reheard by the adventurous or emotionally damaged as melli- fluous bursts of unarguable affirmation.’?”
(Miles haal dié mondvol so te sê 100% korrek uit sy kop aan.)
“En dis waaroor dit vir my gaan: Ons kan in Suid-Afrika ook met nuwe ore op ’n lewensbejaende manier na die waansin om ons luister. Ons woon in ’n mal land, maar dis nie nodig om deur die ou narratief van ewige verval ingesluk te word nie. Ek sê, kom ons hoor die malligheid as iets wat ons kan aanvuur om nuwe gesprekke te voer en nuwe goed te skep.”
Met ander woorde, Suid-Afrika ís rock ’n’ roll? “Ja! Toe ek in Amerika vertel van Zuma en ‘Umshini Wami’ en Juju en ‘Skiet die Boer’, was die reaksie van verskeie mense: ‘Hel, dis pure rock ’n’ roll.’ Die interaksie tussen musiek, politiek en kultuur wat in Suid-Afrika plaasvind, is waaroor Rolling Stone nog altyd gegaan het.”
Maar wie gaan die tydskrif koop? Marknavorsing wys mense tussen 18 en 25 jaar stel nie meer in die drukmedia belang nie, en baie tydskrifte sluit hul deure.
“Ek dink nie ’n mens moet jou teen marknavorsing en statistieke blindstaar nie. ’n Goeie produk skep ’n mark, al is dit nie noodwendig ’n groot een nie. Maar ons het dieselfde vraag aan Jann gestel. Hy’t gesê: ‘Nee, man, die gedrukte woord is nie dood nie. Druk- media en die internet is twee verskillende domeine. Die internet is nie ’n plek waar jy regtig lees nie – jy surf dit vir klankgrepe, beriggies en multimediale interaksie. Dis hiper-aandagafleibaar. In ’n tydskrif duik jy in en raak weg.’
“In die media wêreldwyd is daar ’n gat-oor-kop-benadering. Redakteurs probeer nou die internet in tydskrifte en koerante reproduseer. Malligheid! Wat kan jy nou eintlik in 800 woorde oor ’n kunstenaar sê behalwe dat hy nou in is en klink soos dié of daai? Ons het musiek-ikone met belangrike, roerende stories wat vra om plek – mense soos Piet Botha, Ray Phiri en David Kramer.”
Maar wat gaan van musiekskrywers word? Deesdae kan enigiemand in sy blog-kommentaar musiek resenseer.
“Volgens die verbruikersmodel is elkeen ’n kritikus, maar dis twak. Weens dié houding kan ’n mens met reg vra of ons nog enigsins ’n kultuur van kuns-kritiek het. Die Afrikaanse media respekteer blykbaar nog die kulturele waarde van kritiek, maar die Engelse media hier het skandalig vervlak.
“Ek het die belang van kritiek op Ikeys geleer waar ek nege jaar lank gestudeer en klas gegee het – deels omdat ek nie in die laat 80’s wou diensplig doen nie. In die Engels-departement was ’n klomp jong dosente wat ons begeester het vir die werk van mense soos Derrida, Foucault en Frederic Jameson. Hulle het my laat besef kritiek is ’n manier om die wêreld te lees. ’n Goeie musiekresensie kan dieselfde doen.
“Ek weet dis ambisieus, maar hoekom nie? Wat’s verkeerd met ’n klein utopiese visie in hierdie donker dae?”