Die kopstorie van ’n rolbalspeler
2011-09-16 20:35
‘Toe die uitgewer bel om te sê hulle aanvaar my manuskrip, was dit ’n week voor my vrou se dood.”
Sy donkerbril is ’n skans voor sy oë. Sy stem is ingehoue, sag. Net sy hande, gewoonlik netjies inmekaar gevou, soek oor die kaal tafeloppervlak.
Daardie dag het Zain Eckleton nog nie geweet sy vrou sou sterf nie. Net dat hy op 53 sou debuteer. “Jy kry so ’n stil gevoel,” onthou hy. “Jy voel nie te opgewonde of ekstaties nie. Dis net daai bevrediging: Dis gedoen.”
Hy glimlag skamerig. “Ek is nie ’n ou wat uitermate kan uiting gee aan my gevoelens nie – miskien omdat ek ’n baie swaar pad geloop het. Ek het geleer elke dag is ’n uitdaging.”
Vandag is Zain ’n enkelouer van twee dogters, Soraya (11) en Tazneem (6). In Hannoverstraat in Highbury Park, Kuilsrivier, waar hy en sy dogters in ’n eenvoudige tweeslaapkamerhuis woon, vat hy vir Soraya aan die elmboog en stoot haar liggies voor hom uit. Die bure staan nuuskierig nader terwyl die fotograaf se kamera kiek. “Dis oor my boek wat pas verskyn het,” sê Zain trots. Die bure maak vir hom ’n pad oop.
Terug by die eetkamertafel wys hy na sy oudste. “Hierdie enetjie wou by wees vandag, want sy was deel van die hele proses. Sy wil alles eerstehands beleef. Sy’s my regterhand.”
Soraya was immers ’n onmisbare deel van Zain se debuutroman, Die Rolbalspeler. Haar pa is met die oorerflike siekte retinitis pigmentosa gebore. Hy woon in ’n “nagmerriewêreld tussen blind en amper blind”, waar hy slegs onder gunstige omstandighede tussen lig en donker kan onderskei.
“Ek weet nie wat kleur is nie,” verduidelik hy. “Ek sou raai my sig is minder as 1%. Ek sien net ’n silhoeët van ’n mens. Ek kan nie sien of jy vet of maer is nie, en die lig moet reg wees voordat ek enigiets kan uitmaak.”
Bedags werk hy as telefonis by die Kuilsrivier-polisie, waar hy met die hulp van gespesialiseerde rekenaartoerusting duisende oproepe in ’n verdonkerde vertrek kanaliseer.
Tuis kan hy nie hierdie hulpmiddels bekostig nie. Sy rekenaar in sy slaapkamer is slegs aangepas sodat hy ’n donker agtergrond sien met wit letters. Die lettertipe is drie maal die normale grootte, maar selfs met sy oë teen die skerm, neem dit ’n halwe leeftyd om ’n woord te lees. “As ek navorsing doen op die internet of my e-posse nagaan, lees my dogtertjie dit vir my. Ek kan tik, maar ek kan nie teruglees wat ek geskryf het nie.”
Hy lag. “Sy kos my baie geld, want elke stuk wat sy lees, kos R5. ’n Skrywer moet mos oorskryf en oorskryf. As ek klaar is met ’n weergawe, lees sy dit op band, dan kan ek terugluister waar ek wil verbeter. Daai soekery na die regte plek op die rekenaar is net ’n ander frustrasie, maar jy moet deur die ding loop. As die uitgewer vir jou sê jy’t ’n week om ’n stuk klaar te maak, kan jy nie vir hulle sê jy sukkel, jy kan nie die deadline maak nie. Ek moes soms regdeur die nag werk.”
Dié nagwerkery ten spyt moes Zain steeds soggens tien voor vier aan die gang kom om homself en sy dogters gereed te kry. Halfses in die môre stop die skoolbus voor sy huis om vir Soraya en Tazneem op te pik, en tien voor ses kom Dial-a-Ride, wat hom polisiestasie toe neem.
“Soggens moet ek vinnig skarrel,” sê hy. “Ek moet vir my klaarmaak, dan vir hulle. Die babatjie moet nog gewas word en ek moet hulle skoolbrood regkry, en ontbyt.”
Hy lag. “Hulle gooi mos ogies na mekaar as hulle kattekwaad aanvang. Ek het ’n aanvoeling wanneer hulle stout is. Ek vra: ‘Tazneem, wat maak jy?’, en as sy sê ‘niks, Daddy,’ weet ek klaar sy’s skuldig. Hierna moet ek vasstel wat het hulle aangevang, maar daai’s nie altyd moontlik nie.”
Sy stem is gelate: “Dinge is moeilik as jy vaskyk teen probleme, maar ek vind altyd ’n oplossing. As die kinders iets soek wat nie te kry is nie, maak ek ’n plan. Die groot ding is moenie panic nie, en ek panic nooit.”
Sy eie kindertyd begin in die laat jare vyftig in Goodwood, waar hy as die oudste van drie kinders gebore is. “My ma was ’n skoonmaker by ’n haarsalon; my pa was ’n ongeletterde handyman wat ’n klomp goed gelyk kon doen.”
Sy gesin swerf rond op die Kaapse Vlakte, waar hulle meestal in “bywonershutte” woon: sinkhutjies in agterplase.
“Ek was in ’n skool vir normale kinders in Elsiesrivier omdat ek en my ouers en my onderwysers onkundig was oor my oogtoestand. Ek het net geweet ek het ’n probleem en ek sukkel, maar ek het nie geweet wat dit is om blind te wees nie.”
Sy laerskoolonderwysers ondersteun hom so ver as moontlik, want hy’s ’n “slimkoppie wat gereeld eerste gestaan het in die klas”. In standerd ses maak sy oogtoestand dit egter vir hom al hoe moeiliker om by te hou.
“My pa het ons gelos toe ek 13 jaar oud was,” sê hy sag. “Ek as die oudste seun moes toe maar die skool verlaat en inspring om te werk. Albei my broers kan sien, maar ek het op 13 die pa geword in die huis. My ma moes ook later die werk los, want sy was ’n diabeet. Ek het toe eintlik die steunpilaar geword, al was ek die gestremde. Destyds het ek seker sowat 4% sig gehad – met hulpmiddels en in die regte weersomstandighede.”
Die jare ná skool is sy “wegkwynjare”. “Ek het hoofsaaklik fabriekwerk gedoen, maar ek het baie swaargekry. Ek het byvoorbeeld vir CNA se warehouse gewerk, waar ons die boeke verpak het. Nou staan jy drie of vier man in ’n ry, dan gooi hulle die parcel na jou toe, en jy gooi dit na die volgende ou, maar hulle het my gereeld omgegooi. Soms is jou ritme uit, dan vang jy mis.
En ek kon nooit binne die container pak nie, want dis donker binne. Ek moes altyd ’n plek in die lyn buitekant probeer kry. Op die ou end moes ek dit los. Ek was die broodwinner, maar ek kon nie cope nie.”
Sy hande klem stywer om die tafeloppervlak. “Ek was in ’n gat. Ek kon nie uit nie. Niemand kon my help of verstaan nie.”
Die advertensie op Springbok-radio was soos ’n roepstem in die skimmeryk. “Ek onthou die woorde was: ‘Daar’s lig aan die einde van die tonnel vir blindes’. Ek het gedink as ek die mense nóú kontak, sal ek oor ’n maand kan sien, so wanhopig was ek om myself te help.”
Die League of Friends of the Blind (Lofob) in Grassy Park op die Kaapse Vlakte kon nou wel nie toor nie, maar hulle het hom geleer hoe om in sy skaduwêreld te leef .
“Op die ouderdom van 30 het ek by Lofob gaan bly vanaf 1987 tot 1993. In daardie periode het hulle my gerehabiliteer en ek het my studie hervat.”
Snags leer hy, en bedags vleg hy mandjies by die Vereniging vir Blindes in Soutrivier. Nadat hy sy standerd-agt-jaar voltooi, kry hy tegniese opleiding by die Optima-kollege in Pretoria. Hierna kwalifiseer hy as maatskaplike hulpwerker.
Tussendeur speel hy nes Hans Meintjies, die hoofkarakter in sy roman, rolbal. “Ek is net soos Hans ’n Springbok-kampioen,” sê hy trots. “Ek het my kleure gekry en als. Op die Wêreldrolbalbyeenkoms vir blindes in Johannesburg het Suid-Afrika die toernooi gewen. Ek het goud gewen in die pare en brons in die enkels.”
Hy’t rolbal gekies, want hy’s ’n “konserwatiewe outjie”, lag hy. “Ek is stadig en op my plek. Rolbal is nie so fisiek nie; dis ’n kopstorie. Die groot ding van die sport is dit gaan oor die verhouding tussen die blinde speler en sy (siende) afrigter.”
In sy roman ontvou ’n soortgelyke verhaal: Hans het ’n sigpersentasie van ongeveer twee persent onder gunstige omstandighede, maar tog is hy die broodwinner vir sy ma en broer in Bishop Lavis. Bedags vleg hy rottangmandjies in Soutrivier en snags droom hy van teruggaan skool toe. Maar toe help ’n blondine hom op pad werk toe oor Voortrekkerweg, en stadig maar seker vind hy sy voete.
Dié blondine, Erika, nooi hom om te kom rolbal speel en sy word sy afrigter. Dié spel word ’n deurlopende motief in hulle verhouding en ’n dryfveer vir albei om die kruin te bereik.
Zain raak egter nie soos Hans Meintjies in sy roman verlief op sy blonde afrigter nie. Hy aarsel. “Kan ek maar vertel, Soraya?”
Sy knik.
“Omdat ek geleer het my blindheid is ongeneeslik, het ek destyds besluit ek gaan nie trou nie, want my kinders sou die toestand erf.”
Maar toe ontmoet hy vir Gadija, ’n rottangwerker by die Vereniging vir Blindes in Soutrivier. Sy’t sowat 10% sig gehad, en boonop was sy hardhorend en ’n diabeet.
“Ek was in dié tyd maatskaplike hulpwerker by die vereniging en ek moes probleempies uitsorteer. Aanvanklik het ek en haar vriendin verlief geraak, maar sy was ’n wille enetjie en ek was ’n rustige outjie. Gadija was nie die tipe meisie waarin baie ander mans sou belang gestel het nie. Sy was baie teruggetrokke, maar ek het kwaliteite in haar gesien waarvan ek gehou het.”
Skamerig: “Ek onthou nogal toe hulle die huweliksformulier lees, toe huil ek. En toe my eerste dogter gebore is, was dit die tweede groot ding in my lewe. Ek het so geskrik, maar dit was ’n baie nice skrik gewees.”
Van meet af aan het sy dogters ook spesiale behoeftes. “Soraya kan 80% sien. Tazneem het net sowat 10% sig. Sy sukkel om te lees wat op die swartbord staan, en die hospitaal het aanbeveel dat ons haar in ’n spesiale skool sit, maar ek besluit nog wat my te doen staan.”
Soos hul pa laat hulle nie toe dat hul gestremdheid in hul pad staan nie.
Zain vertel hoe hy begin skryf het. Sy eerste kortverhaal het reeds in 1986 in Huisgenoot verskyn.
“Destyds kon ek nie juis leesgoed vind waarmee ek kon identifiseer nie. Die boeke in die biblioteek was uit die oogpunt van wit skrywers geskryf en ek wou graag lees oor kinders op die Kaapse Vlakte.”
Hy sug. “Ek het besef daar’s nie plek vir bruin skrywers in die normale publikasiewêreld nie en ek het nie gehou van hoe Adam Small bruin mense uitbeeld nie. Almal weet van District Six, die musical. Dis nice, dis lekker humor en so aan, maar dis net ’n baie klein deel van die bruin kultuur. Dis waar my skrywery begin het, want ek wou ’n ware weergawe gee van bruin mense in Suid-Afrika.”
Keer op keer loop hy hom egter vas teen die voorskrifte van uitgewers.
“Ek het drie manuskripte voorgelê wat afgekeur is. Hulle het gesê bruin mense het humor, hulle praat van ‘djy en djou’, maar ek het geweet bruin mense praat baie verskillende soorte Afrikaans.”
Weereens is dit vir hom ’n openbaring toe hy ’n radiopraatjie hoor van Nèlleke de Jager by Kwêla. “Ná die praatjie bel ek haar, want sy het bruin skrywers genooi om te kom voorlê. Ek het gesê ek wil skryf vanuit my kultuur, sonder om stereotipes aan te blaas en sy het gesê ek moet skryf soos wat ek moet skryf.”
Hy glimlag. “Sy het nie aan my taal probeer verander nie, en ek is baie bly daaroor. Dit was vir my belangrik om my storie so te skryf dat dit albei kante toe sny. Ek wou hê bruin mense én wit mense moes daarmee identifiseer.”
Terwyl hy aan die manuskrip werk, verswak sy vrou se gesondheid by die dag. “Ons het eintlik verwag sy sou dit nie maak nie. Haar hoofsiekte was diabetes, maar sy het ’n familiegeskiedenis van hartprobleme, en uiteindelik is sy verlede jaar op 13 Oktober weens ’n hartaanval dood.
“Dit was vir my ’n geweldige slag. Die een dag het ek nog ’n kontrak met die uitgewers geteken vir die publikasie van my boek; die volgende dag is my vrou oorlede. Sy was nog die aand baie opgewonde. Ek het haar vertel van my onderhoud met die uitgewers, en daar was geen teken dat sy sou sterf nie.”
Hy bly ’n oomblik stil. “In die periode vandat die manuskrip aanvaar is totdat dit gepubliseer is, kon ek nie treur nie, want daar was nie tyd nie. Dit het my gehelp om deur te kom.”
Ja, Hans se storie is in ’n groot mate sy storie. “Daar’s baie goete wat ek wil sê met my skryfwerk, maar hoe sê ek dit as ek nie my eie ondervinding gebruik nie? Omdat ek die verhaal wou laat werk, het ek goed gebruik soos rolbal en diabetes waarvan ek eerstehandse kennis dra.”
Maar hoewel die fokus op Hans is, vertel Zain, gaan die storie eintlik oor sy afrigter, Erika. “Sonder iemand wat hom die hand vat, gaan Hans dit nie maak nie. Ek het baie sulke mense in my lewe gehad, en dis wat my laat survive. Om gestremd te wees in vandag se lewe is nogal hectic. As jy iets bereik, word jy nog meer in ’n hoek gedruk as normale mense.
“Jy kry mense wat dink dis entertaining om gestremde mense te abuse. Veral in my gemeenskap is daar baie sulke groepe, en as jy in so ’n groep beland, is dit nag. Die mense wat regtig uitreik na jou, is ’n bonus.”
Hy kom orent, sy figuur ’n penregop silhoeët voor die venster. “Die eintlike boodskap in die boek is jy moet aanvaar wat jy is. As ’n ander ou dit nie kan aanvaar nie, tough luck, maar jy bly nog steeds jouself.”
- Drie lesers kan elk ’n eksemplaar van Zain se boek wen. SMS jou naam, adres en nommer na 0 38595, of stuur ’n e-pos na by@dieburger.com of faks na 0 021 406 3953 voor 21 September om 18:00. Begin elke inskrywing met die naam “Zain”.