Die droë dele en die dieper dors
2011-11-25 22:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Geluk is ’n glas Kaapse wit en ’n rib wat op die kole sis terwyl die son oor dorre vlaktes sak. Die ys moet tog net nie op raak nie. Die reisskrywer JOHAN BAKKES is ’n rekenmeester en professor, maar hy is op niks so trots soos op sy weermagkleure nie. Sy jongste bundel stories, Oepse Daisy, is pas uitgegee.
Wat doen jy op Saterdae?
Niks anners as wat ek anner dae doen nie – probeer leef met oorgawe!
Hoe lyk jou gemoedstoestand vandag?
Flippen uitstekend. Ek sit en teug aan ’n yskoue vinho verde in ’n Angolees-Portugese restaurant en luister na fado terwyl ek dié vraelysie voltooi.
Wat behels aardse geluk?
Die nóú en ’n glas koue Kaapse wit, ’n dikrib sissend op die kole en die son wat iewers in Suidwes sak.
Wat is die diepste put van ellende?
’n Vlug van 23?uur na Katmandoe – oorlat ek nie my pyp kan brandmaak nie.
Waar woon jy, en waar sou jy eerder wou woon?
Inni Pêrel in. Nêrens – maar ek sal gaan aftree op Uis in Namibië.
Wat is jou grootste tekort- kominge?
Rusteloosheid.
Met watter tekortkominge in ander kan jy saamleef?
Die doodgewone swakheid van menswees.
Wat kan jy nie verduur nie?
As my naby-mense siek of seer het.
En wie kan jy nie verduur nie?
Onegte en snobistiese mense.
Wat is vir jou snaaks?
’n Suksesvolle verdwaal.
Wie is jou lewende held?
My pa.
Wie is jou fiksiehelde?
Spencer (van Robert B. Parker), Bennie Griessel (van Deon Meyer) en Dave Robicheaux (van James Lee Burke), al drie strewende “gerehabiliteerde” alkoholiste.
Wie is jou gunsteling- historiese figure?
Napoleon Bonaparte en Roald Amundsen.
En jou gunsteling-musikant of -komponis?
Nana Mouskouri en Sinéad O’Connor (en natuurlik Heino).
Wanneer en waar was jy op jou gelukkigste?
Gereeld alleen in my bakkie op ’n grondpad iewers in die dor wêrelde (Namibië/Karoo) met ’n koue bier tussen die bene en Heino wat oor die karspelertjie blêr.
Watter oorsese stad sou jy graag nog wou besoek, en hoekom?
Sint Petersburg, omdat ek nog nie daar was nie (ek hoop, as ons die lewe hou, om op 20 Januarie 2012 in die Oelitsa Newski af te stap).
Wie sou jy die graagste vir ete wou nooi?
(Die Griekse sangeres, aktrise en politikus) Melina Mercouri.
Wat sou jy dan vir ete maak?
Saganaki en Griekse lamsboud.
Watter eienskappe bewonder jy die meeste in ’n man?
Lojaliteit, en hy moet gebou wees vir ongerief (met ander woorde, hy moenie van popstront aanmekaargesit wees nie).
Watter eienskappe bewonder jy die meeste in ’n vrou?
Vrouwees.
Wat waardeer jy die meeste in vriende?
Lojaliteit en dat hulle jou rug beskerm.
Watter deugde beïndruk jou?
Om nie uit vel uit te hardloop nie.
En watter deugde laat jou koud?
Hel, enige deug is ’n pluspunt!
Waarmee verwyl jy die graagste jou tyd?
Lees en reis.
Wat verveel jou?
Vergaderings.
Wat is jou mees kenmerkende eienskap?
Magtag, ek weet nie – vra die mense wat my ken.
Wat is jou grootste vrees?
Dat die ys sal op raak.
Waaroor is jy spyt?
Niks.
Wie is jou gunsteling-skrywers?
Robert B. Parker, James Lee Burke en Andrew Vachss.
Wie is jou gunsteling-digters, en wat is jou heel gunsteling- versreël?
Gert Vlok Nel en Koos du Plessis.
En:
In die lapakring is daar drie –
’n swanger weduwee.
– W. van Deventer
Wat is jou gunsteling-name?
Cara en Marc (uitgespreek met ’n “k”).
Wat is jou gunsteling-voël?
Ek’s nie ’n “voëlkyker” nie.
Oor watter gawe sou jy die graagste wou beskik?
Geduld en rustigheid.
Wat is jou heel grootste uitspattigheid?
Neste en neste CD’s.
Wat is jou kosbaarste besitting?
Kosbare besittings het ek nie. Die kosbaarste in my lewe is my twee kinders, maar hulle is nie besittings nie.
Wie of wat is of was die liefde van jou lewe?
Die kosbaarste in my lewe en hul ma.
Wat is of was jou grootste prestasie?
Ek was (en is) ’n kaptein in die ou Suid-Afrikaanse weermag. Om ’n professor of CA te wees, kom nie naby daaraan nie.
Hoe sou jy eendag wou sterf?
Soos ’n ou olifantbul – iewers alleen in die bos.
Wat is jou lewensleuse?
“The proper function of man is to live, not to exist.
I shall not waste my days in trying to prolong them.
I shall use my time,”
sê Jack London.