Constitutionally speaking en ander reguit praatjies
2012-01-13 21:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Dis net ná een en die grondwet- kenner prof. Pierre de Vos is laat. Dis nie in sy geaardheid nie – soos ek hom ken, al jare lank, is hy áltyd stiptelik betyds. Hy is ’n bedagsame man, ’n agtermekaar kêrel.
Ek sit en wag in die effens beligte Vasco da Gama Taverne in Groenpunt, Kaapstad, met sy donker houtinterieur, kanariegeel vensters, ronde sinjaalrooi stoeltjies en verslete Formika- tafels. Die plek is die toonbeeld van jare se rinkink. Dit is een van die stad se oudste kroeë (dit is al meer as 40?jaar lank hier), en smulpape wat hier aandoen noem die legendariese eetplek liefdevol die Portugese Ambassade.
Deesdae is dit die uithangplek van slangdun hipsters en mode-junkies, ou mans sonder besittings en menseliefde, en argitekte en skrywers wie se blink ogies in die duister flits.
Vandag sit die digter Daniel Hugo hoeka by een van die tafels. Hy is ’n al meer as 20?jaar ’n akoliet van die Vasco. “Dis ’n plek waar ’n mens heerlik melancholies kan wees; ’n gawe ruimte vir Weltschmertz,” sê hy.
Net toe begin Tina Turner luidkeels sing: “Big wheel keep on turning / Proud Mary keep on burning / And we’re rolling, rolling / Rolling on the river.”
En daar kom Pierre ingestap – ’n warrelende tolbos met sy vinnige bene en lang lyf. Groot oë, byna permanente glimlag, kiertsregop postuur.
“Ai, die traumas en vreugdes van middelklas-woonbuurte,” spot hy verskonend. “Daar is by die mense bo my ingebreek en ek moes nuwe veiligheidshekke laat insit.”
’n Paar jaar gelede is hy en sy destydse lewensmaat in die einste woonstelgebou in Bantrybaai vasgebind en in die bad- kamer toegesluit terwyl rampokkers die plek rot en kaal besteel het.
Selfs toe was hy voor vriende soos ’n verleë harlekyn wanneer hy oor die misdaad-aan-eie- boesem sou praat. Die meeste mense sou knaende klaagpsalms oor ’n inbraak by hul huis sing, maar nie Pierre nie.
Maar ons is nie vandag hier om met die witbrood onder die arm oor aardse goed te kla nie. Ook nie om te kibbel oor bek- gevegte uit die verlede of klankgrepe uit die media weer soos koue oorskiet op te dis nie. Pierre het verlede jaar die woede van ’n hele paar mense op die hals gehaal toe hy hom sterk uitgespreek het in die debatte oor welvaartbelasting en die plek van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch.
Oor welvaartbelasting vir wit Suid-Afrikaners het hy gesê dit is ’n welkome idee wat deur alle regdenkende Suid-Afrikaners met ’n greintjie gewete en gesonde verstand ondersteun behoort te word. Toe hy tot die taaldebat toetree, het hy die kampvegters vir Afrikaans aan die US “stompsinnige taalbulle” genoem, en gesê die universiteit word deur swart studente steeds as ’n “dominante wit Afrikanerinstelling” beskou.
Ondanks die hoofopskrifte wat dié bekgevegte gekry het, is hy nie iemand wat hom verlekker in konflik nie. Inteendeel, hy is spyt oor die herrie. “Dit was vir my jammer dat die taaldebat verlede jaar so lelik uitgerafel het. ’n Mens wil nie altyd met almal so onnodig in die modder rol nie. Ons het verby mekaar gepraat,” sê hy.
Maar vandag gaan ons nie ou koeie uit die sloot grawe nie, ek vra eerder: Wie is die man wat mense so woedend kan maak – en ook verwoed kan terugbaklei – wanneer hy nie in die koerant verskyn nie, maar agter die skerms is?
Prof. Pierre de Vos beklee deesdae die Claude Leon-stigting se leerstoel in grondwetlike regering by die Universiteit van Kaapstad, en sy gewilde blog, constitutionallyspeaking.co.za, is een van daardie webwerwe waar meningsvormers, ingeligtes, joernaliste en intellektuele gereeld gaan aanklop. Op dié webblad skryf hy vanuit ’n grondwetlike perspektief oor sosiaal-politieke kwessies waarmee die land spartel.
Dis tyd om te bestel – garnale vir Pierre omdat dit hom herinner aan sy besoek aan die destydse Lourenço Marques (Maputo) saam met sy ouers toe hy klein was, beef trinchado vir my, Zonnebloem Blanc de Blanc om dit af te spoel. Ek kies en bestel laasgenoemde, want anders werk Pierre weer eers ure lank soos ’n wafferse aficionado deur die spyskaart.
Pierre is gebore op 29 Junie 1963 in Messina (nou Musina) in Limpopo as die enigste seun van sy ouers se vyf kinders. Die regte vloei sterk deur die gesin se bloed – twee van Pierre se susters werk soos hy in dié veld, en pa Pierre was ook ’n prokureur. Hy en ma Trinka is reeds oorlede.
“Ons het gelukkige kinderjare gehad?.?.?.” begin Pierre. Maar daar was ook ’n skadukant – sy pa was ’n alkoholis. “Uit die aard van die saak het sy drink-ery soms moeilike gevolge gehad.”
Hy huiwer; onseker oor of hy uit die huis moet praat. “Tussen my ma en my vier susters het dinge gewoonlik mooi uitgewerk,” beskerm hy sy gesin.
“Soms was dinge maar broekskeur, en dan het die balju van die hof ons meubels kom wegvat. Daarom het ek tot vandag toe ’n vae vrees dat ek een dag nie skoene sal kan bekostig nie.
“En liefdevol soos my pa was, kon hy moeilik raak as die voggies trek, en hy het gereeld met werkgewers uitgeval.”
Daarom dat die De Vos-gesin soos sigeuners gereeld die pad moes vat agter pa se nuwe werk aan. Weens die trekkery het Pierre verskeie skole bygewoon: eers die Laerskool Gerrit Maritz in Pietermaritzburg (waar hy met ’n pet op die kop moes skoolgaan), later die Laerskool Hennenman en toe die Laerskool Randhart in Alberton, waar Sonja Herholdt toe ’n onderwyser was.
Vandaar is hy vort na die Hoërskool Pietersburg. “Hier het ek vyfde span rugby gespeel en elke Saterdagaand langarm gedans in motorhuise versier met ballonne en gekleurde papier, alles op die maat van Abba en Boney M. Maar tuis het ek geluister na David Kramer se plaat Bakgat en sommer al die woorde uit my kop geleer.”
Pierre het ná skool twee jaar diensplig gedoen in Potchefstroom, en hy het in dié tyd “besef dat brute mag en onderdrukking my walg”.
En toe? “Stellenbosch toe vir regte. Ek weet nie hoekom ek regte gaan swot het nie. Dalk omdat ek flou word as ek bloed sien en nie dokter kon word nie.”
Hy was in die koshuis Wilgenhof en is as assistent-redakteur van die universiteitskoerant Die Matie byna geskors omdat die destydse rektor, Mike de Vries, woedend was toe Pierre die universiteit se kanselier, oudpres. P.W. Botha, in ’n rubriek ’n nar genoem het.
“Gee my één goeie rede hoekom u môre nog ’n student aan hierdie universiteit moet wees!” het De Vries volgens Pierre gebulder. “My antwoord was dat ek dit nie kan help as Botha geen humorsin het nie, en dat die moeilikheid maar sal gebeur as ’n mens só ’n omstrede politikus as kanselier kies.”
Ná sy studies was hy ’n jaar lank joernalis by Die Suid- Afrikaan. In dié tyd, het hy onder meer saam met Dok Danie Craven in ’n klein vliegtuigie van die een plek na die ander gevlieg om oor rugby verslag te doen. Elke aand moes hulle betyds by die hotel wees sodat Dok die sepie Loving kon kyk.
In die vroeë jare negentig het Pierre in New York aan die universiteit van Colombia vir sy LLM-graad in die regte studeer en ’n jaar lank deur Europa gereis. In dié tyd het hy ’n roman, Slegs Blankes /Whites Only, die lig laat sien.
Ná sy terugkeer uit die buiteland, was hy 15?jaar lank ’n dosent by die Universiteit van Wes-Kaapland, waar hy ook sy doktorsgraad in die regte behaal het.
Daar was ook uitdagings. Toe Pierre ’n paar jaar gelede sproei in sy keel ontwikkel, het hy vir ’n reeks doktersondersoeke gegaan, onder meer vir ’n MIV-toets. “Toe sy my sélf bel en vra dat ek haar moet kom sien, toe weet ek. Om voor haar te sit en die woorde te hoor dat ek positief is, was verskriklik. Ek het gedink dis verby, ek gaan dood. Ek het beangs gewonder: Wat gaan die mense sê? Ek was skaam dat ek so dom kon wees. Jou swaap, hoekom was jy nie versigtiger nie?”
Daarna het hy in sy motor geklim en in ’n doodse stilte huis toe gery. Sy ouers was dood, hulle kon hy nie bel nie. Hy moes eers met sy lewensmaat praat voordat hy die nuus met sy susters kon deel, en dié was oorsee. Twee dae en twee nagte lank moes hy die nuus alleen verwerk.
Eindelik was sy lewensmaat terug uit Londen. “En toe ek sit om vir hom te vertel, val alles uitmekaar. Hy was natuurlik ontsteld. En toe disintegreer die verhouding van sewe jaar.”
Ek onthou die dag toe Pierre my gebel en gevra het ek moet hom by die restaurant La Perla in Seepunt ontmoet, hy moet my iets vertel. Ons het buite gesit onder die somerson, die seelug vars. Hy was skaam, woedend, hartseer, verbyster.
Maar dit was toe. Want as MIV reg bestuur word, is dit nie meer ’n doodsvonnis nie. “Dit gaan goed met die blog, by die werk, met my privaat lewe,” sê hy.
“Ek was lanklaas so gelukkig.”