Broekvroue

2010-02-27 02:00

Só lyk van die gedaantes wat Antoinette Kellermann aanneem as Max Gericke in As die Broek Pas. Foto: Marthinus basson

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Op die Stellenbosse Woordfees en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees vertolk Antoinette Kellermann die rol van Max Gericke in die toneelstuk As die Broek Pas. 

Willemien Brümmer het met hierdie legendariese aktrise gepraat oor vroue wat mansrolle vertolk. 

‘Ich bin ein deutscher Mann,” blaf Antoinette Kellermann met ’n brutale klank in haar stem.

Geklee in ’n grys broek en wit hemp, staan sy vrou-alleen op die plankvloer van ’n repetisielokaal in die dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch.

Sy’t ’n byna volledige transformasie ondergaan: Haar weerbarstige silwerwit lokke is kort afgesny, haar skouers en heupe is subtiel vorentoe gebuig. Haar altstem, wat al soveel teatergangers en TV-kykers geroer het, dreun ietwat bruusker as gewoonlik in haar bors.

Dis eers wanneer sy in ’n intieme oomblik die grys broek uittrek, dat jy sien hoe weerloos die wit van haar vel is, hoe gekneus die waai van haar been.

Want vir haar jongste rol as Max Gericke in Willem Anker se Afrikaanse vertaling van Jacke wie Hose deur Manfred Karge, speel sy ’n Duitse vrou wat vir meer as veertig jaar moes voorgee sy’s ’n man.

Ná die dood van haar eggenoot neem sy sy werk as hyskraanoperateur oor en dus ook sy paspoort en sy naam.

Van die depressiejare in die vroeë 1930’s, regdeur die Derde Ryk tot in die sewentigerjare moet sy uit noodweer haar lyf en identiteit verwring.

Dis net soms, wanneer sy haar oë toemaak, dat sy droom van ’n prins wat by ’n graf kniel. Sy droom Sneeuwitjie stof die grond af van haar lyf en ontrafel die wortels wat haar omsnoer.

“Al is sy ’n vrou, wórd sy ’n man,” beduie Antoinette (58) die volgende oggend in die einste dramadepartement waar sy agter die breë lessenaar van haar kollega, teater-sielsgenoot en regisseur Marthinus Basson sit.

Met ontsetting verduidelik sy hoedat die implikasies, “die wérklike implikasies van Max Gericke se lewe” nou die aand op haar afgedonder het.

“Haar hele lewe lank moes sy altyd ’n fasade voorsit. Tog het sy seksuele behoeftes en die desperate verlange om ’n kind te hê. Die vroulike aspek is dáár in haar, but she has to suppress it , en sy kan dit nóóit uithaal of wys nie.”

Sy sug, stut haar kakebeen op haar hande. “Dit moet die aakligste ding in die wêreld wees.”

Soos dikwels in die derde week van repetisies, teug hierdie voorvrou van die teater naarstig aan haar Camel Filters.

Haar woorde en gedagtes vat hier grond, vlieg dáár weg. In haar fleurige romp en pienk hemp lyk sy aansienlik vrouliker as die vorige aand. Tog het sommige van die spraakpatrone bly vassteek.

Die hoër infleksies is skaarser in haar stem en jy wil jou verbeel haar liggaamstaal is meer ingehoue.

“Die derde week van repetisietyd is gewoonlik vir my die ergste. Margot Luyt noem dit my geboortegee-week. Dan twyfel ek in alles en ek twyfel in myself en ek kry niks reg nie. Dis die krisis waardeur ek nou gaan. Ewe skielik besef jy die realiteit kom al nader. Jy moet perform . Die lekkerte van skep en speel en ontdek is vir ’n paar dae weg.”

Sy vertel hoe sy haar meestersgraad-tesis oor vroulike aktrises in “broekrolle” aangepak het by die dramadepartement waar sy die afgelope vyf jaar doseer.

Sy gaan haal die storie doer, nadat sy weg is by Kruik, aan die einde van sewe besonderse maer jare in Johannesburg.

“Martiens (Marthinus Basson) was hieronder in die Kaap en ek was daarbo. Dit het slég gegaan met my. Toe bel Martiens en sê Breyten Breytenbach het ’n toneelstuk geskryf, Boklied , en sou ek daarin belangstel om die rol van die man te speel?

Ek het gedink ek gee nie om of ek ’n voël of ’n aartappel moet speel nie. Ek sal my voortande gee om te werk, en om saam met Martiens te werk.”

As die vreemdeling Farenj moes sy benewens die geslagsomwenteling ’n brabbeltaal leer. S y moes ook vir haarself ’n storielyn skep om sin te maak uit hierdie ritualistiese teks wat gehore nog lank na antwoorde sou laat gryp.

“Jy’t geen emosionele konteks of storielyn om aan te hang nie. Ek wou nie die gewone ding doen van tussen jou bene of in jou boude krap of op ’n sekere manier sit nie.

Aanvanklik het ek gedink ek moet gaan vir hipnose, dat hulle my kop kan verander sodat ek in ’n manswêreld kon ingaan.

Later het ek net besluit my eie kop kan geprogrammeer word om ’n man te raak.”

Sy leun vertroulik vorentoe.

“Ek het onderbewustelik begin op-dress soos ’n man en hulle het hulle doodgelag toe ek vir Grethe Fox, wat die vrou gespeel het, begin deure oopmaak. Weet jy hoe het ek ná die tyd gesukkel om dit af te leer? Jy dra mos ’n karakter saam met jou. Dis in jou weefsel, jy weet.”

Haar volgende broekrol was in nog ’n Breytenbach-drama, Die Toneelstuk , waarin sy dié keer die rol van Marthinus self moes speel. Soos met Boklied het sy nie gevoel sy kon “werklik deurgrond wat dit beteken om ’n man te wees” nie.

“Jy speel ’n man, maar jy kry nooit werklik kans om die innerlike milieu en landskap van ’n man te ontgin nie, want jy’s te ingestel op die uiterlike skepping van daai manswêreld.”

Volgende aan die beurt was die uitgeweke hertog Prospero in Die Storm (’n Afrikaanse vertaling van Shakespeare se The Tempest ), waarin sy ten aanskoue van die gehoor van vrou na man verander het.

“Jy kan enigiets op die verhoog doen, en die gehoor glo dit omdat dit ’n magiese ruimte is.

“Met Prospero het ek gevoel ek ontgin die wêreld van pa en van ’n man ten opsigte van verraad wat teenoor hom gepleeg is, maar dis van toepassing op mans én vroue. Dis ’n emosionele wêreld wat in almal van ons is.”

En toe, sowat twee jaar gelede, begin sy flankeer met die idee om ’n meestersgraad te doen. Antoinette maak die diep, rokerige stem van dr. Marie Kruger, voorsitter van die dramadepartement, na: “Netta, jy’t dan nou al sóveel mansrolle gespeel.”

Sy lag diep uit haar maag. “Toe vra sy (Marie Kruger) vir my: ‘Hoekom fokus jy nie op vroue wat mansrolle vertolk en vergelyk dit dan met jou eie ervaring nie? Begin navorsing doen en skryf daaroor’.”

’n Siddering loop deur haar lyf oor dié reusetaak.

“Daar’s ’n horde vroue wat in broekrolle, oftewel breeches parts, ingegaan het om verskillende redes. Weens die erotiese uitdaging of omdat hulle (ná die ophef van die verbod op vroue op die Britse verhoog) uiteindelik vry was om op die verhoog te speel en daar slegs ’n beperkte aantal vrouerolle was.

“Dit was ook omdat hulle so lank gekorset was as vroue binne daai sosiale milieu. Oorspronklik het dit baie te doen gehad met die seksuele aantrekkingskrag van vroue in mansklere.

Vrouelywe was altyd geklee in al hierdie rokke en ewe skielik as jy breeches dra, sien jy die vroulike figuur.”

Sy vertel van die drie broekvroue uit die geskiedenis wat sy gekies het ten einde hul ervaring met haar eie te vergelyk.

Hulle is die agtiende eeuse Britse aktrise en skrywer Charlotte Charke wat sedert haar sewentiende verjaardag hoofsaaklik in broekrolle naam gemaak het en selfs in die werklike lewe die mansnaam “Charles Brown” aangeneem het.

In die negentiende eeu het haar keuse geval op die Amerikaanse aktrise Charlotte Cushman wat eweneens ’n voorliefde vir mansrolle gehad het en derdens móés sy die legendariese Franse aktrise Sarah Bernhardt kies weens haar opspraakwekkende Hamlet in die 1880’s.

“Dis ’n ongelooflike wêreld! Die navorsing is die lekkerste ding – jy lees!” Sy fluister. “Jy mag dit vir niémand sê nie, maar toe ontdek ek vir die eerste keer die rekenaar. Die internet is ’n wonderwêreld!”

Sy vertel hoe haar studieleier, dr. Petrus du Preez, op ’n dag gevra het: “Hoekom doen jy nie ’n praktiese komponent sodat jy weer ’n speelkans kry nie?”

Sy glimlag sodat daardie wye mond lyk asof hy haar hele gesig in beslag neem.


“Ek het ’n paar jaar gelede ’n uittreksel van Man to Man (die Engelse vertaling van Jacke wie Hose) by die Universiteit van Kaapstad gesien en dit het my geboei.

Later het ek weer daarvan bewus geword toe Elzabé Zietsman dit in Johannesburg gedoen het. Ek het een oggend net hier ingestap, en al weet ek Marthinus raak soms verveeld met one man shows, het ek gevra: ‘Sou jy belangstel om die regie te doen?’”

Die glimlag word selfs wyer.

“Toe hy jaaaa sê, hy’s so opgewonde, het ek besef nóú het ek myself lelik in die ore gedinges.

Ek het gehoop hy sou sê: ‘Ag Here, Netta, nee’, maar toe hou (die vervaardiger) Hugo Theart ook baie daarvan en Willem Anker is gek daaroor en toe kón ek nie meer kop uittrek nie.”

Vroeg in Desember het sy die vertaalde teks gekry en op haar verjaarsdag, 22 Januarie, het sy haar woorde geken.

Soggens vyfuur, voordat sy van haar en haar man, Anton van der Linde, se huis in Woodstock Stellenbosch toe ry, oefen sy twee uur lank op haar eie. En saans en naweke repeteer sy saam met Marthinus.

Haar stem is triomfantelik.

“In hierdie stuk is dit die eerste keer dat ek werklik die emosionele wêreld van ’n man probeer ontgin. Daai dualiteit is in elk geval in almal van ons en ek dink sonder dat jy daarvan weet, stoot jou onderbewussyn die manlike na vore.”

Sy aarsel wanneer jy vra of sy diep in haarself moes grawe om ’n emosionele verbintenis te vind.

Toe: “Ek kan nie vir jou sê daar is iets in my persoonlike lewe waaraan ek dit kan gaan haak nie. Maar ek dink daar is tog aspekte van ’n mens se lewe wat jy altyd wegsteek, wat niemand ooit sien nie. Dis my parallel met haar.

Soos sy haar vroulikheid moet wegsteek, steek almal van ons tog baie goed weg wat jy nie vir mense wys nie.”

En die grootste uitdaging aan die rol?

Sy klink of sy bieg, en “nee moenie dit skryf nie”, smeek sy: “Ek is ’n sleg Christen, maar die één ding waarvoor ek altyd vra is dat ek reg sal laat geskied aan die karakter. Jy maak dit vir jouself moeilik, maar ek dink dis enige kunstenaar se doel om daai werklike waarheid te ontdek.”

’n Stilte: “Ek sê nooit ’n toneelstuk is vir my nie, maar ek dink dis die eerste keer dat ek sê ek doen dit vir my. Dis ’n uitdaging om ’n man te speel en ’n man te wórd.

Jy moet alles wat jy het, al jou tegniek wat jy geleer het, jou hele emosionele scope ... álles moet jy soort van gebruik.”

Sy beklemtoon elke woord. “If everybody hates it, I will die.”

En ja, sê sy, daar ís nog ander broekrolle wat sy sou wou aanpak: Orlando in Virginia Woolf se gelyknamige semi-biografiese roman, gegrond op die lewe van Woolf se intieme vriendin Vita Sackville-West. Of dalk eendag iets oor die lewe van die lesbiese Kanadese popster k.d. lang ...

Dromerig: “En (Shakespeare se) Koning Lear. As ek nog woorde kan onthou, I’d like to play Lear. Maar ek wil nie hê daar moet eendag op my grafsteen staan: ‘Hier rus Antoinette Kellermann, vertolker van mansrolle’ nie.”

Meteens is die aardse, amper wulpse klank terug in haar stem. “I wanna be a woman! Ek wil nog te veel vrouerolle speel wat ek dalk nooit die kans sal hê om te speel nie, en dalk nooit sál speel nie.

Daar’s soveel persentrolle vir ’n vrou: Moeder Courage (van Bertolt Brecht); Besoek van die Ou Dame (Friedrich Dürrenmatt); sommige van die Shakespeare-vrouerolle ...”

Sy word ongewoon stil vir iemand wat gewoonlik so bekkig is. Jy vra of sy voel sy’t nou haar teaterkruin bereik. Haar antwoord is hartverskeurend: “Nee.”

Sy kyk by die venster uit, na ’n groep studente wat raserig hul woorde leer. “My droom is om elke oggend op te staan en te gaan repeteer. Ek wil aan ’n toneelstuk werk elke dag van my lewe. Ek vóél nie soos ’n professionele speler nie. Op die oomblik steel jy tyd saans, Saterdae heeldag, Sondae ...

“Maar om bedags te kan kom repeteer, om saans huis toe te gaan, jou werk by die huis te doen en jou familie te versorg en jou navorsing te doen ... Ek droom van die dag wanneer ons weer geselskappe sal hê, en speelvakke en ’n teatertuiste.”

Sedert die ontbinding van die voormalige streekdiensterade is veral Afrikaanse teater meestal tot feeste beperk. En selfs die kolosse van die verhoog kan nie van brood en teater alleen leef nie.

Sy sug. “Ek mág nie nou eintlik gespeel het nie, omdat ek moet werk aan daai stuk papier (haar tesis). Ek het nie tyd nie, hoor. Ek het rêrig nie tyd nie. Boonop gaan ek so elke drie maande en gaan speel in ’n sepie (Villa Rosa). Om geld te maak, móét ek dit doen.”

Die doseerwerk ervaar sy as ’n groeiproses. “Aanvanklik het ek groot tweespalt beleef, maar dan besef jy hoe waardevol dit is wat jy doen. Nie net vir die studente nie, maar vir jouself ook.”

Sy dink na. “Ons kán nie akteurs oplei nie. Daar’s te min werk. Maar jy’s ook besig om mense te help vorm, en dít is baie spesiaal.”

Ons loop deur na haar eie kantoor, “so groot soos ’n besemkas” wat sy met die aktrise Susanne Beyers deel. Die een muur is haar sogenaamde “vriendskapsmuur”, met onder meer ’n foto van haar en Marthinus Basson uit die Kruik-dae.
 
Die oorkantste muur is haar “performance wall”.

Sy onthou hoe sy meer as drie dekades gelede aan dieselfde dramadepartement gestudeer het. In haar tweede jaar het sy weggeloop toe sy die vak spraak gedruip het.

Eers toe W.E.G. Louw haar sien speel het in Die Vaalkoestertjie van Eugène Marais het hy sy boesemvriend Fred le Roux, toe die hoof van die dramadepartement, oortuig om haar terug te neem.

“Hy (W.E.G. Louw) het ook vir my klasgegee, en hy roep my eendag uit die klas uit en sê: ‘Ek het klaar met prof. Le Roux gepraat, juffrou. Jy gaan terug.’ Ek het gesê ek kan nie; ek is al twee maande weg. En toe sê hy: ‘Jy gáán terug. Jy moet gebruik wat jy gekry het.’”

Sy knik. “Ek het dit gedoen. Ek móés.”

Sy huiwer, vertel toe van ’n gesprek wat sy vroeër die oggend met dr. Marie Kruger gehad het.

“Jy weet, ek sê vanoggend vir haar ek is moeg en ek raak siek en ek is mal; ’n mens gáán mos maar deur daai prosesse voordat jy op die verhoog moet gaan. Sy vra toe vir my: ‘Maar hóékom het jy die mal perd opgesaal?’”

Antoinette antwoord asof dit die mees vanselfsprekende ding op aarde is: “Ek het gesê dis omdat ek móét speel. Ek móét toneelspeel. I will die if I don’t.”

As die Broek Pas is op Maandag 1 Maart en op Vrydag 5 Maart op die Woordfees op Stellenbosch te sien. Van 1 tot 5 April is daar daagliks een opvoering op die KKNK.

binne die burger

Weather
Lottery
Cpt: 21-31°C Sunny. Warm. Pta: 17-30°C More sun than clouds. Warm.
Jhb: 15-28°C Afternoon clouds. Mild. Bloem: 18-27°C Scattered showers. More clouds than sun. Pleasantly warm.
Dbn: 20-29°C Tstorms late. Mostly cloudy. Warm. PE: 19-22°C Scattered showers. Morning clouds. Cool.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

TOYOTA

Corolla 180i GSX MY02
2003
R 95,990.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 69,995.00

MINI

Cooper Hatch R56 1.6 3-dr
2008
R 149,900.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chill out in Knysna

Spend 2 nights at the Turbine Boutique Hotel & Spa in Knysna's gorgeous Thesen Island for R3058 per person sharing. Includes return flights, taxes, car hire and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

Koop Friends with Benefits en wen

Koop die DVD of Blu-ray en staan ’n kans om 1 van 5 "Love You"-blikke met koekies te wen. Die wedstryd sluit 9 Februarie. Koop dit nou.

Koop 4 romans vir R79,96

Koop enige 4 romantiese verhale vir slegs R79,96 terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Geskenke vir hom

Koop ’n klassieke skuimskeerborsel vir R279 vir die man in jou lewe en kry 15% afslag op ’n uitgesoekte reeks naskeermiddels. Koop dit nou.

Dit is al weer ’n fleurige Valentynsdag!

Daar is fleurige spesiale aanbiedinge by kalahari.com met die gobii eReader, Friends with Benefits, parfuums en rose wat nou beskikbaar is. Koop dit nou.

2 DVD's vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.