Tanika: Ligvoets op die Kogelbaai-branders
2012-02-07 11:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kogelbaai se branders het rof gelyk. Maar toe sien ek skielik ’n vlindertjie wat oor die kruin van die branders dartel. Wie kon dit wees? skryf EBEN HUMAN.
Kogelbaai – gevaarlik, maar lekker. Baie studente sal jou vertel van wonderlike dae wat hier sorgvry en soms gevaarlik beleef is.
Hier gryp ’n stroom jou maklik, en die lys van drenkelinge is al oneindig lank. Dit is juis hier by Dappat Se Gat waar die lyfplankryers op ’n Saterdagoggend om Boland-titels meegeding het.
Manne soos Len Bradford, Marcel Habets en Frans Lombard het my gou welkom laat voel. Dit was lekker om saam met hulle die aksie in die branders met die kamera te volg.
Die Bolanders het uitgehaal, maar my hoogtepunt van die dag was daardie vlinder op die branders. Sy het so ligvoets soos ’n kat op haar branderplank oor die branders geswiep.
Daar is vlugtig met Tanika Hoffman op die strand kontak gemaak, en ons het ’n onderhoud in die vooruitsig gestel.
Tanika is een van die Kaap se voorste internasionale branderplankryers, maar in Desember was sy om ’n heel ander rede in die nuus. Dié 19-jarige was op Tweede Kersdag op Glen Beach in Kampsbaai toe sy bewus geraak het van ’n gedoente in die water terwyl sy op die strand was.
’n Pa en drie kinders was in die moeilikheid terwyl ’n stroom hulle diepsee toe gesleep het. Tanika, wat skaars 50?kg weeg, het ingestorm om te gaan help.
“Ek dink die pa was reeds bewusteloos toe ek hulle bereik het. Hy was heelwat groter as ek, en dit sou gevaarlik wees om hom te probeer help,” het Tanika in ’n telefoniese onderhoud gesê. Toe swem sy met die een meisie op haar rug uit na die strand.
Die kinders is gered, maar die pa, ’n man van Bellville, het verdrink. Oor haar heldedaad is die klein vrou met die groot hart heel beskeie. Sy wou maar net ’n medemens help.
Tanika sê sy boer al van kleintyd in die water. Sy het eers met ’n lyfplank begin speel by Muizenberg, en toe lyk die branderry vir haar baie aantreklik. Op laerskool het sy nog van swem, veldlope en sokker gehou, maar toe sy eers branders begin ry, het sy nie meer tyd daarvoor gehad nie.
Die Kapenaar was skaars 12?jaar oud toe sy haar eerste kompetisie in Port Elizabeth gewen het. Die volgende jaar was sy reeds ’n Suid-Afrikaanse o.14-kampioen en is ’n blink toekoms vir haar voorspel.
In 2010 was Tanika ’n Suid-Afrikaanse junior kampioen.
Deesdae neem sy gereeld oorsee deel. Verlede jaar was sy in Portugal, Spanje en Réunion, maar dit was haar negende plek op die ISA-Wêreldbyeenkoms in Panama wat almal aan die praat gehou het.
Sy het ’n fiksheidsafrigter wat haar in die Instituut vir Sportwetenskap in Nuweland help. Sy besoek die instituut drie keer per week en probeer twee keer per dag branders ry.
Die ander belangrike man in haar lewe is Spider Murphy. Hy vervaardig haar spesiaal ontwerpte branderplanke. Later vanjaar gaan Tanika weer gereeld in Europa en in ander plekke in die wêreld