’n Lekker dag vir boomklim
2012-01-24 14:48
WildWoods Tree Adventures het ’n hoog-in-die-lug boomhindernisbaan in die dennebos agter Timberlake uitgelê.
Die interessante baan naby Sedgefield is ontwerp met die hulp van ’n groep Franse bergklimmers wat bergklimtegnieke vir Jan en alleman toegankliker wou maak.
Die konsep was so suksesvol in hul tuisland dat hulle dit nou na Suid-Afrika gebring het.
Nadat hulle ’n baan in Johannesburg gevestig het, het hulle ’n geskikte plek in die Tuinroete gesoek – omdat dit “die mooiste plek in die land is”.
Timberlake Village is ideaal, want die lede van die gesin wat nie avontuurlustig voel nie, kan tyd verwyl in winkeltjies, by die kwekery of in die speelparkie en koffieplekkies.
Timberlake Village het die Franse welkom geheet deur ’n klomp plaaslike joernaliste te nooi om te kom boomklim.
Nou ja, ek is altyd ’n bok vir avontuur.
Maar ek is darem nie meer die fikse, ratse vrou wat in Januarie 1981 by die Vroueleërkollege op George vir vrywillige diensplig aangemeld het nie.
Helaas, die meeste van my vriendinne giggel senuagtig en onthou skielik ander, dringender afsprake toe ek hulle saamnooi.
So tree ons een Vrydagmiddag drie-uur by Timberlake Village aan. Daar is Span Willewragtig: Emile en Callum is albei rats, voortvarend en het tussen hulle nie ’n enkele bang haar op hul klipkoppe nie. Span Tienerprinses is sag op die oog, meer bedaard, maar heel brutaal in hul uitsprake oor of hul dierbare moeders – Span Grys en Wys – dit selfs tot bo in die eerste boom sal maak. Snuiters.
Uitdaging nommer een was die harnasse: ’n Mens klim daarin. Nou, as jy groter as ’n nommer 14-broek dra, maak jou reg vir ’n harnas-dans – jy pas in, maar jy moet maar ’n bietjie wikkel en boude rol, en dit terwyl ’n Pragtige Jong Instrukteur (PJI) jou simpatiek staan en dophou.
Aan die harnas vas is twee groot bergklimknippe en ’n foefieslide-roller. Die PJI verduidelik vir ons wat om daarmee te maak en beklemtoon die goue reël in die boomklim-vir-beginners-handboek: Jy moet heeltyd met albei knippe aan die veiligheidskabels geheg wees.
Dis ’n stadige spul: Die knippery vat tyd en konsentrasie. Die hindernisse loop van boom tot boom met ’n smal platform om elke boom waar jy ’n oomblik lank, vasgeknip, kan asem skep, jou bibberboude kan laat rus en die uitsig bewonder as jy nie bang is vir hoogtes nie.
Die hindernisse sluit in plankbruggies, enkelkabels waaroor ’n mens moet loop of waaraan ’n mens moet gly, houtkonstruksies waar ’n mens moet deur, nette waaraan jy kan hang en toue waaraan ’n mens van boom tot boom moet swaai á la Tarzan.
’n Paar lewenslesse het hier goed te pas gekom.
Les 1: As jy alle veiligheidsmaatreëls getref het, alle risiko’s oorweeg het en besluit het om voort te gaan, doen dit dan sonder huiwering.
Les 2: As jy te veel konsentreer op die hoogte van die berg (of boom) wat jy moet oor, raak jy bang. Konsentreer dan liewer net op die volgende tree – so is ’n mens halfpad berg-op as jy weer kyk en raak die onmoontlike makliker.
Op die boomklim-baan werk dié riglyn goed: As ’n mens net op jou knippe en voete konsentreer, vergeet jy dat jy hoog in die lug is.
bespreek hier
Hoe om daar te kom:
Timberlake Village is reg langs die N2 halfpad tussen Wildernis en Sedgefield. Dis duidelik gemerk.
Draai af en hou dan links na die verste parkeergebied. Meld aan by die WildWoods-kantoor.
Kontakbesonderhede: 078 251 4458 of wildwoods@acrobranch. co.za.