VIDEO: Kaapstadse veearts spring weg in Egipte
2012-01-17 14:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die Kaapse veearts Alan Emerton het Saterdag in Kaïro suidwaarts begin trap in die jaarlikse Tour d’Afrique-fietstoer. Altesame 12 000 km sal afgelê word.
Lang en stowwerige paaie wag op almal. Dit is egter ’n besonderse avontuur, waaroor al die deelnemers opgewonde is.
Altesame 45 ryers het in die tiende toer weggespring. Ander Suid-Afrikaners wat dié slag saam trap, is Miguel Teixeira van Johannesburg en sy vriendin, Shona Bell, asook Steve Smith.
Emerton wil met sy fietstog van vier maande meer mense van die lot van troeteldiere bewus maak. Hy is sedert 1998 by The People’s Dispensary for Sick Animals (PDSA) in Kaapstad betrokke. Verlede jaar het dié organisasie meer as 235 000 diere in sy drie hospitale behandel. Die ander twee hospitale is op George en in Soweto.
Die ryers kan weer ’n groot ontvangs verwag wanneer hulle in Mei in die Moederstad klaarmaak.
Hulle het Saterdagaand in die Sinai-woestyn gekamp.
Die volgende paar dae word op geplaveide paaie deur Egipte gery.
Sondag was die eerste amptelike skof, en toe moes daar 160 km afgelê word.