Sak en pak deur die Klein-Karoo
2012-02-07 06:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Dit is ’n wonderlike gevoel om so selfversorgend deur die Klein-Karoo te toer.
Terwyl die massas op Nuwejaarsdag op die strande gelê en braai het, het ek saam met twee vriende, Lorraine en Dave, op ons eie reis gegaan.
Halfses die oggend is ons weg uit Knysna op pad na Buffelsnek (35). Ons trap toe via Simola en Gouna vir ons eerste koffiestop. Jip, dis een van die lekker dinge van so toer: Jy kan stop net waar jy wil en koffie maak.
Van daar het ons aangery na Uniondale oor die Prins Alfredpas, met die 15 km-klim vanaf De Vlugt onder in die pas na bo wat gesorg het ons werk vir ons aandete ná die dag se skof van 95 km.
Dag twee se roete het geloop van Uniondale na De Rust, al langs die Kammanassieberge af op die grondpad wat na Deyselsdorp gaan. Dan draai ’n mens regs vir die laaste 10 km of so na De Rust.
Dit was ’n warm dag, en die roete het baie golwende heuwels. Daar is nie groot klimme nie, maar dit is heeltyd op en af.
Teen die einde van nog ’n 95?km-dag het ons besef dat sulke groot afstande met 25 kg ekstra gewig aan jou fiets nie so maklik is nie. Daarom is die aand in De Rust eers hewig kajuitraad gehou by Harry se Plek oor hoe om die afstande aan te pas.
Die oorspronklike plan was om weer in Knysna te eindig, maar met korter afstande/skofte sou dit nie moontlik wees nie.
Daar is toe besluit om 60 km per dag af te lê en op Oudtshoorn klaar te maak, waar ons dan opgelaai sou word deur familie wat van Knysna af deurry as ’n uitstappie.
Van De Rust het ons ’n entjie teruggery soos ons gekom het, en toe afgedraai op die Oudemuragie-grondpad wat teen die berge in ’n westelike rigting loop en tussen Oudtshoorn en die Swartbergpas op die teerpad uitkom.
Ons bestemming vir die dag was De Hoek se kampeerterrein aan die voet van die Swartberge, 58 km weg.
Teen die derde dag was ons lekker gewoond aan 04:30 opstaan en 05:00 begin ry om die hitte van die dae vry te spring.
Ons was toe mooi vroeg by De Hoek en kon selfs ’n lekker ontbyt geniet by die padstal net voor die Kangogrotte.
Dag vier het begin met ’n kort teerpadklimmetjie uit De Hoek uit, waarna ons afgedraai het op die Matjiesrivier-Groenfontein-grondpad wat na Calitzdorp gaan (sowat 60 km).
Dit is regtig ’n mooi roete met wonderlike uitsigte en riviere. Nadat ons vroegerig in Calitzdorp aangekom het, het ons ontbyt geëet by Die Handelshuis, ’n koffierestaurant wat vriende van ons besit en ’n moet is op ’n besoek aan Calitzdorp.
Ons volgende stilhouplek was Calitzdorp se warmwaterbron. Die 20 km daarheen was baie gelyk pad.
Hier kon ons lekker ontspan in die koue en warm swembaddens, en is ons amper weggewaai deur ’n orkaan wat heel geheimsinnig die aand om seweuur gaan lê het asof iemand ’n skakelaar afgesit het.
Op die vyfde en laaste dag was die roete baie gelyk – 55 km na Oudtshoorn.
Genadiglik was dit vir die eerste deel bewolk en is ons die Karoo-son, wat ons die vorige vier dae gebak het, gespaar.
Ek het die hele toer op my iPhone gedokumenteer (van die foto’s sien jy by die artikel), aangesien my gewone kameratoerusting te veel ekstra gewig sou bysit.
Dit bewys iets wat gou vergeet word: Die beste kamera is die een wat jy by jou het, en die persoon agter die kamera bepaal die gehalte van die foto.
Bespreek hier
Ons het nie vooruit bespreek nie, juis omdat dit sake interessant sou maak, maar besprekings is aan te beveel. Ons het mos ons tente gehad en kon dus enige plek uitspan.
Toerusting
Drie bergfietse, twee Y-Frame-waentjies en droë sakke om ons bagasie in te sit en bo-op die waentjie vas te maak. Alles waarmee jy gewoonlik gaan voetslaan, soos ’n tent, kampstofie, slaapsak, warm goed en ’n grondseil.
Brandstof
Verniet, maar as jy al die kos tel wat ons geëet het, seker nie so goedkoop nie! Die totale koste van die toer was ongeveer R1 300 per persoon.
Blyplekke
Uniondale: Kampeerterrein – R85 vir ‘n staanplek.
De Rust: Olivier’s Rust-selfsorgeenhede – R450 per eenheid (4 mense)
044 241 2258
Web: www.oliviersrust.co.za
e-pos: info@oliviersrust.co.za
De Hoek: Kampeerterrein – R150 vir ‘n tentstaanplek (4 mense)
044 272 8214
Web: www.dehoekmountainresort.co.za
E-pos: kontakvorm op webtuiste
Calitzdorp Spa: R200 vir staanplek met krag (4 mense)
044 213 3371
Web: www.calitzdorpspa.co.za

’n Pragtige grondpad deur die Klein-Karoo naby Calitzdorp. Die daaglikse afstande is verkort op hierdie gemaklike fietstoer. Foto: Cornelius Muller
