Program leer kinders hengel en bewaar
2012-01-31 12:33
As hengelaars hul sport wil laat oorleef, moet Jan Alleman se houding teenoor dié sport verander.
Dít is die boodskap van Pierre du Preez, president van die SA Kushengelvereniging. Voorligting kan die antwoord wees.
Met dié motivering is ’n enorme hengelprogram die afgelope week in Valsbaai deur die WP-kushengelvereniging (WPSAA) aan die gang gesit.
WP-hengelklubs sal elk ’n skool aanneem, en met hulp van die bewaringsowerheid en die Olimpiese Komitee sal hengelaars op skoolvlak opgelei word.
Die jeug sal nie net leer om te hengel nie, maar hoe om ook die land se natuurskatte te beskerm.
Die program sluit tussenskoolse kragmetings en hengelkompetisies in, asook die rol van vroue, ouers en bejaardes vir wie ’n kompetisieprogram reeds die naweek aan die Weskus tydens ’n Mini-liga van stapel gestuur is.
Buite het verlede week die eerste “klaskamer” op die sand langs die Strandse skeepshelling bygewoon waar leerders van die Primêre Skool Rusthof na hul onderwysers geluister het en toe deur die wyses van die WPSAA onder hande geneem is.
Me. Tamzyn Zweig van Hermanus se haaibewaringsorganisasie was een van die “onnies” en het die kinders gewys hoe die toerusting lyk waarmee hulle visse merk en bestudeer.
Die leerders sal haar voortaan meer dikwels by die klasse sien. Een outjie het haar klaar “daai Tannie Haai” gedoop.
Die kleintjies het gehoor hoe om ’n vis só te vang dat hulle hom anderdag weer kan vang en hoe om hul ledige uurtjies met hengel te verwyl pleks daarvan om by disko’s rond te hang.
Dwelm-, vigs- en sosiale voorligting is deel van die klasse.
Du Preez het sy eweknie mnr. Malcolm Paul, president van die WPSAA, gelukgewens met die ywer en deeglikheid waarmee die projek opgestel is.
Dit was ook die opening van die SA junior kampioenskapsbyeenkoms waar skoolkinders van reg oor die land Valsbaai toe gebring is om deur die keurders vir Protea-kleure onder oë geneem te word.
Met dié 80 seuns het dit goed gegaan waar hulle by Macassar ook ’n bronshaai van 130 kg gevang en gelos het.
En Saterdag het die reuse-projek tydens die Mini-liga omtrent momentum gekry aan die Weskus met ma, pa, oupa en kinders wat kon inskryf en soos professionele hengelaars onder die hand van gidse die sport kon geniet.
- Vir Katonkel se lesers wat wag om te hoor waar die vis loop, is daar min nuus. Die “spookstorie” doen die ronde dat vis aan die Suid-Kaap en digby Hermanus half verlam uitspoel weens hoë watertemperature.
Dit is veral harders wat in die slag bly.
Hengelaars wat weet dat die vis wat nog skop, eetbaar is, het emmersvol weggedra.
Gawie Vermeulen van Sasko in die Paarl vertel dat ’n vriend van hom die water verlede naweek op 24 grade Celsius gemeet het.
Volgens Johan Britz van Witsand speel hoë lugdruk ook ’n rol. Hy het kleintyd by die legendariese Nicky Beukes van Witsand geleer om ’n goudvissie aan te hou.
Wanneer die vissie lusteloos is, moet jy notas maak. So kan jy toets of die visse dié dag in die rivier gaan byt of nie.
Aan die Weskus vertel Org du Toit dat die steenbrasse in die Langebaan-strandmeer nou so goed loop omdat die temperature hulle pas. Die vis is baie naby aan die wal.
- Stuur jou hengelnuus en foto’s per e-pos aan Katonkel by katonkel@dieburger.com.