Orcas jag walvisse aan ons kus
2012-01-31 11:21
Dit is die jaar 1997. Lloyd Edwards vaar uit na Bird-eiland in Algoabaai.
Dié eiland is 76 km seewaarts van die Port Elizabeth-hawe en bevat die wêreld se grootste malgasbevolking en naasgrootste Afrika-pikkewynkolonie.
Sowat vyf kilometer van die eiland rek sy oë – in die water voor hom maak ses orcas jag op brydes-walvisse (bultrugwalvisse).
Dit was die eerste keer in sy lewe dat Lloyd, ’n marienelewe-verslaafde met jare se seemyle al agter die rug, dié “manjifieke seeroofdiere”, soos hy hulle noem, in Algoabaai se water kon beleef.
“Eers het dit gelyk asof ’n klein dolfyntjie saam met hulle swem, maar toe sien ek die orcas speel ’n soort see-sokker met die arme ding.”
Die moordwalvis jag volgens Lloyd “feitlik enige vorm van mariene lewe – ander walvisse, dolfyne, vis. Noem maar op.”
Die grootte van die prooi, voeg Lloyd by, skrik ook geen orca af nie.
“Neem nou die bultrugwalvis. Hy is 16 m lank. Daarteenoor is die orca ‘net’ 8 m lank, maar hy jag die bryde!”
In 2003 was Lloyd gelukkig genoeg om wéér drie moordwalvisse in Algoabaai te kry. Dié keer was dit naby die St. Croix-eiland, nader aan die kus.
“Hulle het dolfyne gejag. Toe ons om die eiland vaar, was dit aangrypend om te sien hoe ’n klomp dolfyne daar vir hul jagters probeer wegkruip.”
’n Mens sou dink dat só iets die mariene liefhebber ’n soort weersin in die moordwalvis sal gee. Tog fassineer dié “leeus van see” hom geweldig.
“Dit is die opperste mariene roofdiere. Hy vat ’n witdoodshaai en slaan hom stukkend op die water. Hulle kan so vinnig as 50 km per uur swem.”
Wat Lloyd aanbetref, is die orca ook die intelligentste van al die walvisspesies.
“Net so vreesaanjaend soos hulle kan wees, só kan hulle ook baie saggeaard wees – hulle kan selfs met mense in ’n soort waterspel op die diepsee betrokke raak.”
Vir hom is daar byna niks meer betowerend as om sulke tye toeskouer te wees nie, dié dat hy altyd op die uitkyk vir moordwalvisse sal bly, met sy kamera byderhand.
Sedert 2003 sien Lloyd hulle so twee keer ’n jaar in Algoabaai se water omdat hy altyd dadelik reageer as vissermanne of ander hom van hul teenwoordigheid in kennis stel.
Dit wil vir sommiges voorkom asof die moordwalvis al hoe meer sy verskyning in Suid-Afrikaanse kuswaters maak.
Lloyd reken egter dit hou meer verband daarmee dat al hoe meer mense beter kameras het en vissermanne meer daarop bedag is om walviskykers per selfoon te laat weet as hulle dié roofdiere waarneem.
Onlangs was dit sy verloofde, die pikkewynkenner dr. Lorien Pichegru, wat dié grotes naby hul huis in Seaview gewaar het.
Sy het dadelik die kameras en 100 liter brandstof gegryp en haar saam met haar broer Thomas (hier op besoek uit Bolivië) na die Algoabaai-seiljagklub gehaas, waar Lloyd op haar gewag het.
Lloyd het nog so ewe die kroeg se klok gelui en uitgeroep daar is orcas.
“Maar die ouens het gesê dit kan nie wees nie.”
Toe vaar hy, Lorien en Thomas uit en vind hulle naby Schoenmakerskop. Ma-, pa- en kalfie-orca.
“Die bul het nadergekom en eers na ons geloer. So van, wat maak julle hierso?”
Edwards mog wél daar wees – hy is die enigste operateur in Algoabaai met ’n walvisbesigtigingspermit. Hy bedryf sy onderneming onder die naam Raggy Charters.
Naderhand het die bul sy lyf met allerhande bolmakiesies, stert-klap en spoggerige spronge akrobaat begin hou.
“Die koei het later ook kom saamspeel, maar ma en pa orca het gesorg dat hul kalfie ver van die boot bly.”
Vir die drie mense in die boot, Lloyd, Lorien en Thomas, was dit ’n dag om nooit te vergeet nie.
’n Hoogs ingenome Lloyd het bygevoeg: “Dit was die beste orca-foto’s wat ek nog geneem het!”
Lloyd het al die boek Scenes of Algoa Bay: A Photographic Guide to the Marine Mammals and Seabirds of Port Elizabeth uitgegee.
Dié boek sal seker nou herdruk moet word sodat sy nuutste orca-foto’s óók daarin kan verskyn...
- Mariska Spoormaker is ’n joernalis van Port Elizabeth.
Moordwalvisse
Lloyd Edwards het die volgende interessante feite uitgelig:
- Die naam orca kom van Orcus, die Romeinse god van die onderwêreld, wat mense wat in lewe verkeerd opgetree het, in die hiernamaals martel.
- Moordwalvisse kom wydverspreid voor – van die Arktiese na die Antarktiese oseane, en tot die trope.
- Moordwalvisse kan orals aan die Suider-Afrikaanse kus gesien word, veral rondom Algoabaai en Plettenbergbaai.
- Hul verskynings is onvoorspelbaar – gewoonlik nie meer as twee keer per jaar nie. Sommige jare bly hulle heeltemal weg.
- Hul spyskaart sluit 20 spesies van die walvisagtige groep (dolfyne, walvisse en tornyne) in, asook 14 spesies van robbe, die doegong, see-otters, 11 spesies beenvisse, 12 spesies van die haaigroep, voëls, skilpaaie, inkvis en selfs groot bokke wat dit te na aan die kuswater waag.
- Hulle kan die vorm van hul lense verander en het dus ook buite die water uitstekende sig.
- Die koeie kan tot 90 jaar oud word, terwyl die bulle selde ouer as 60 word.
- Die Antarktiese moordwalvis-bevolking het in die 1980’s op nagenoeg 80 000 gestaan omdat walvisjagters hulle in die verlede nie te veel geteiken het nie. In 1979-’80 het Russiese walvisjagters 916 moordwalvisse in die Suidelike Halfrond doodgemaak. Suid-Afrika is self nie so onskuldig nie, want tussen 1971 en 1975 is 36 moordwalvisse by Durban se walvis-verwerkingsaanleg ingeneem.
- Die Burger