Manser, Skinstad roei om Ysland
2011-02-22 07:14
Riaan Manser skryf in sy eerste boek ná sy fietsavontuur, Around Africa on my bicycle, “Hoe moes dit vir ontdekkers gevoel het om op ’n boot na die onbekende te vaar?
“In die meeste gevalle het hulle staatgemaak op ’n boot wat dryf, die wind wat waai, terwyl hulle dinge vat soos dit kom. Ek het vir myself gesê dat ek in ’n gunstiger situasie is, want ek het moontlik geweet waarheen ek op pad is.”
Nou het Manser en Dan Skinstad weer een doel voor oë – om 5 000 km binne vier maande om Ysland af te lê. Dit staan bekend as die Rondom Ysland Inspirasie.
Dié twee sportmanne vlieg op 16 Maart na hul bestemming om aan die einde van die maand met die vaart te begin.
Nes met Manser se besluite en uitvoering van sy vorige seges – hy was in 2009 die eerste mens wat 37 000 km oor 34 lande in Afrika op ’n fiets afgelê het en ook 5 000 km om Madagaskar in ’n kajak geroei het – het Manser binne 20 sekondes geweet hy wil dié Ysland-avontuur by die horings pak.
’n Boek getiteldAround Madagascar on my kayak oor sy avontuur is reeds uitgereik.
“Ek wil altyd iets buitengewoon doen, iets waarna my kleinkinders eendag kan opkyk,” het ’n songebruinde Manser by ’n perskonferensie in Sandton gesê.
“Dit neem my nie langer as 20 sekondes om op ’n uitdaging te besluit nie.”
Dan Skinstad, die Springbok-rugbyspeler Bobby, se jonger broer, wou ook iets groots aanpak. “Ek het net daardie gevoel gekry dat ek iets groots moet aanpak,” sê hy.
Die tweé aantreklike manne, Manser wat soos ’n donker Simson of Goliat lyk en Dan Skinstad wat effens op Robert Pattinson met ’n sonbrand trek, het toe besluit om hul kajakspiere saam te bult.
“Ons grootste uitdaging is om so vinnig as moontlik in die wit kajak te kom as dit omslaan.
“Ons moet ook gesond bly,” sê Manser.
Hy spot hoe hy en Skinstad tydens hul voorbereidings in Kalkbaai kajak geroei het, en so vinnig as moontlik in die kajak moes klim om nie haaikos te word nie.
’n Fliekspan van ses mense wat ’n dokumentêr gaan maak, sal materiaal van die land af skiet, maar sal die Manser-Skinstad-kombinasie geensins help nie.
“Ek kan niks verloor nie. Vir iemand wat bereid was om al twee keer sy lewe te verloor tydens die vorige ekspedisies, het jy nie veel meer motivering nodig nie,” sê Manser.
Die twee kajakkers sal by die kusdorpie Husavik aan die noordooste van Ysland vertrek en kloksgewys om beweeg.
“ ’n Geleentheid soos hierdie sal goed wees vir die land wat onder die puin van die Eyjafjallajokull-vulkaan gebuk gegaan het,” sê Manser.
Is Dan se Ouboet bekommerd?
“Ja, albei my boeties, Bob en Andy, is bekommerd, maar dis eerder ’n ondersteunende angs. Hulle weet ek is saam met die beste dude, ’n alpha-man wat nie onverskillig is nie.”
Volgens Manser lê die grootste verskil tussen sy fietsry-ekspedisie en die kajak-avontuur in die warm weer en die koue van -20 °C wat hulle moet aandurf.
“Ons is ook voorbereid op klipperige strande en nat klere. Maar ons sal seker maak dat ons warm slaap,” sê Manser.
Manser spot dat hy Skinstad voor in die kajak sit, wat beteken hy sal die eerste man wees wat om Ysland vaar.
“Die wêreld waarin ons leef, is honger vir inspirasie. Almal wil opkyk na iemand wat iets met hul lewe doen.
“Ons wil daardie bron van inspirasie wees,” het Manser gesê.