Hier hou luiperds van kese
2012-01-17 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Vir Gareth Mann het die luiperds van die Klein-Karoo baie bekoring, maar ook ’n spesiale betekenis. Dit is tans die tema van sy doktorale studie aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad.
“Ek het in Kaapstad grootgeword en was altyd betower deur die gedagte dat lede van een van die Groot Vyf hier in die berge rondloop en ons weet eintlik niks van hulle nie.
“Dit is lekker om nou self navorsing te doen oor die luiperds in CapeNature se Gamkaberg-natuurreservaat. Nou verstaan ek hoekom ’n mens so min van hulle weet – sonder moderne tegnologie dit is bykans onmoontlik om meer van hulle te leer.”
Mann werk vir die Kaapse Luiperdtrust en maak gebruik van kameras wat aangebring word weerskante van ’n paadjie waar luiperds loop.
“Die kameras se infrarooi-strale registreer beweging. Wanneer ’n dier verbyloop, gaan die flits af en word ’n foto geneem.
“Só kan ek vasstel of en waar luiperds voorkom, hoe dikwels hulle op dié pad loop en watter ander diere ook daar verbyloop.”
Die belangrikste bevinding tot dusver is dat die luiperds wydverspreid in die berge van die Klein-Karoo voorkom.
“Hulle kom oral in ’n geskikte habitat voor, en daar is geen teken dat hulle buite die bergagtige gebiede rondloop nie,” het hy gesê.
Daarna het hy bygevoeg: “Die opwindendste bevinding tot dusver is dat luiperds hier bobbejane vang, wat nogal buitengewoon is.
“Daar is min wetenskaplike bewyse dat luiperds gereeld bobbejane vang, maar hier is dit die geval.”
Mann het weer bevestig dat luiperds hier heelwat kleiner as in die noordelike provinsies is. Bobbejane met hul langer slagtande is vir hulle gevaarlike prooi.
Van die luiperds op die foto’s het inderdaad wonde of littekens wat op ’n skermutseling met ’n bobbejaan dui.
Dit is moeilik om te sê hoeveel luiperds hier in die berge voorkom.
“Ek gebruik 50 kameras om ’n gebied van sowat 3 000 km2 te bestudeer, en dit wil voorkom asof die luiperdbevolking yl versprei is. Elke luiperd het ’n groot loopgebied wat hy of sy teen indringers beskerm,” het Mann gesê.
Die Kaapse Luiperdtrust het in die Sederberge bevind daar kom gemiddeld een luiperd elke 100 km2 voor, en hy vermoed dit is dieselfde in die Gamkaberg.
Die navorsing van dr. Quintin Martins in die Sederberge is ’n goeie verwysingsraamwerk vir die interpretasie van sy bevindinge. “Dit sal help wanneer ons ’n bestuursplan opstel vir die bewaring van luiperds in die Wes-Kaap.”
Dit is dan ook die doel van die navorsing waarmee in September 2007 hier begin is en wat Mann sedert begin verlede jaar ’n stappie verder voer. Hy hoop om sy navorsing einde vanjaar te voltooi.
’n Deel van sy werk was om verlede jaar in die winter luiperds te vang om vir die diere ’n halsband met ’n radiosender aan te sit.
Wanneer die sender wys ’n luiperd vertoef ’n ruk op een plek, is dit gewoonlik ’n aanduiding van ’n vangs.
Dan moet Mann soontoe om die prooi te soek, want alles vorm deel van die groter prentjie.
“Dié jaar gaan ek nie nuwe luiperds vang nie, maar net die drie wat reeds ’n halsband het, sodat die bande verwyder kan word.”
Dit is nogal ’n kwaai taak wanneer die berge wit van die sneeu lê en ’n mens in die middel van die nag vanghokke moet nagaan.
Mann loop ook kilometers agter die kameras aan om die foto’s op die rekenaar af te laai en die kameras se batterye te vervang.
Toe ek hom in die Groenfontein-gebied van die Gamkaberg teëkom, het hy juis geloop met ’n kamera wat deur bobbejane van die plank afgebreek is.
Hy praat ook gereeld met grondeienaars om vas te stel watter skade luiperds, bobbejane, jakkalse en ystervarke aanrig, en wat die boere doen om die probleem te bekamp.
Wanneer Mann sy navorsing afgehandel het, sal hy graag die inligting met die grondeienaars deel.
“Die meeste mense hou daarvan dat daar luiperds op hul grond voorkom. Die inligting sal hulle help om die skade wat luiperds aanrig, te beperk.”
Een van die Gamkaberg se luiperds wat met ’n versteekte kamera afgeneem is. Die luiperds vang in dié gebied bobbejane.Foto: Kaapse Luiperdtrust
Bobbejane is gevaarlik, en luiperds val hulle nie graag aan nie. Daar is egter vasgestel dat hulle in Gamkaberg hoog op die spyskaart is.