Groentjies kan ook in die Wieg ’n perd opsaal
2012-01-26 11:42
Op Gauteng se aarde het die mensevoete al oral getrap.
Só anders as die Oos-Kaap, waar jy jou skaars ’n halfuur uit Port Elizabeth in ongerepte wêreld kan bevind.
Maar Desember druk ek my “groen” voete in netjiese skoene en klim op die vliegtuig na Johannesburg. My dogter betree die werkwêreld in daardie besige plek, haar woonstel moet leefbaar gemaak word.
Vyf dae lank hou ek dit uit tussen die vol paaie, vol sypaadjies en vol winkels. Toe skel my siel só hard, ek begin dink aan Johannesburg se groot groen vyf: die botaniese tuine by die Emmerentia-dam; die Dieretuinmeer; Delta-park; Aasvoëlkoppie bo Northcliff wat ’n uitsig oor die grootste mensgemaakte oerwoud met sy nagenoeg ses miljoen bome (die meeste aangeplant) bied; en die Renoster-en-leeu-natuurreservaat naby Miesies Ples se oorspronklike blyplek.
Tog, Megan Wentzel se grootmensdroom van “ek wil eendag die wêreld se beste perdryer word, tannie” roep die hardste.
Ja, dit kan ek doen. Daar by Tjaart en Amie de Wet se Croc River Trails.
In my voormalige Johannesburg-jare was niks so lekker soos om saam met hulle op hul arabier-perde die veld in te vaar nie.
Toe was hulle nog in Swartkops, nader aan Muldersdrift; nou is hulle met hul 48 perde op ’n 180 ha-plaas naby die Wieg van die Mensdom.
Daar waar jy nou tussen wuiwende graslande, teen heuwels en koppies verby die blouwildebees, sebra, blesbok en waterbok kan ry.
Verder is Tjaart en sy 73-jarige pa, Amie, Springbokke in perde-uithouritte.
Kyk ’n mens na Amie se “perdeklok”, sal jy sien hy het al 23 000 km mededingend gery.
Boonop is hy ’n mens met ’n diep siel vir ’n perd én enige mens wat ook van perde hou. Of jy nou grasgroen en nog perdbevrees is en of jy nou al ’n knap ruiter is.
Sy hart klop ook sag vir kinders. “Al val jy af, jy kry nie seer nie,” het ’n jongeling eendag opgemerk nadat sy van haar perd afgeval het en Amie haar dadelik gerusgestel het.
Die sewejarige Megan het nog net een keer vantevore perd gery – én die perd het haar afgegooi.
Nou, as só ’n enetjie steeds daarvan droom om die wêreld se beste “perdryer” te word, dan verdien sy ’n tweede kans.
Met Amie.
“So jy wil ’n goeie perdryer word?” Hy vryf oor haar blonde koppie. Sy kyk baie ernstig op na hom. “Ja.”
Sy is voor my op haar perd en is sommer klaar reg vir die wegtrek. Amie kom nader met ’n lang blou leiband, maak die een punt aan haar perd se halter vas en hou die ander punt in sy hand.
Skaars uit teen die eerste koppie vra Megan om alleen, sonder die leisel tussen hulle, te ry.
Sy kry haar sin, want Amie het haar vernuf lankal opgesom, maar hy maak seker sy en haar perd bly op sy hakke.
’n Driekwart uur later begin ek droom van ’n saal met shocks, maar Megan wil net hardloop met haar perd.
Anderhalf uur later kom ons weer by die eindpunt.
“Ek wil weer ry!”
Ek wil swig onder die kind se blou smekende oë, maar my agterstewe voel soos ’n klaskamerskryfbord.
Heeltemal volgeskryf. Met hierdie stamp, daardie stoot, dié draffie en daai galop.
Die volgende dag loop ek wydsbeen deur die mal mensemassas in ’n oorvol Cresta-winkelsentrum.
Maar dis oukei, ek loop op “groen” brandstof.
Ná Kersfees se overdaad het ons weer gaan perdry. Daarna het die hele Gauteng weer só reg gelyk, al lê die mensespore oral.
- Croc River Horse Trails is op die Kromdraaipad naby die Wieg van die Mensdom geleë.
- Die verversings en water moet self voorsien word.
- Onthou die sonhoed en sonbrandmiddel!
- Daar word voldoen aan versoeke vir net stap met die perd, of stap en draf of galop.
- Enkel- of groepbesprekings kan gedoen word. Die maksimum-grootte vir ’n groep is elf. Sou daar meer in dieselfde groep wees wat wil ry, sal twee groepe, elk met sy eie ruiter-leier van Croc River Horse Trails, gevorm word.
- Dit kos R200 per persoon vir 90 minute se ry deur die reservaat van 180 ha. Groep-afslag (meer as elf mense) geld.
- Vir meer besonderhede kan Tjaart de Wet by 082 777 7174 gebel word.