VIDEO: Doodsklokke begin lui vir tjakkies
2012-01-10 06:00
Bestaansvissers. Op plekke soos Houtbaai, Kalkbaai, Struisbaai, St. Helenabaai en Waenhuiskrans het hulle jou altyd nostalgies aan die goeie ou dae laat terugdink.
Mense wat lief is vir seekos en dit goed ken, sal jou vertel die lekkerste is dit wat jy vars uit die see kry. Sulke seekosliefhebbers gaan eet ook nie graag by ’n restaurant nie.
’n Kreef of vis wat eers lank bevrore was, smaak net nie dieselfde nie, al doen die sjef sy bes om jou met lekker souse te verlei.
Die handjievol bestaansvissers wat jy vandag nog by Struisbaai sal vind, moet egter teen besoekers met baie vinniger en moderne skibote om oorlewing meeding.
Gesels jy met ’n jong plaaslike visserman soos Stuart du Plessis, begin jy besef hoe moeilik dit nou geraak het om kop bo water te hou as jy met visvang jou brood wil verdien.
Volgens Du Plessis kan die ou vissersbote, plaaslik bekend as tjakkies, se ontstaan teruggevoer word na die Tweede Wêreldoorlog. Die Struisbaaihawe soos hy nou daar uitsien, is in 1959 gebou.
Die tjakkies was aanvanklik swaar houtbote. Party van hulle is deur Brian Noble en ander manne plaaslik gebou en van hulle het later veselrompe gekry, het Du Plessis gesê.
In ’n tyd waarin almal na ’n skoner omgewing mik, is die tjakkies morsjorse van ’n vergange tyd.
Du Plessis sê die vissermanne moet ook moderniseer en aanpas – maar waar gaan die geld daarvoor vandaan kom?
Daar is intussen nog sowat agt tjakkies wat heeltyds in Struisbaai in gebruik is, volgens Du Plessis. Diesel vir ’n dag se visvang kan R1 500 tot R2 000 kos.
“Die koste kan verder styg met ’n swaar vrag en wind,” het Du Plessis verduidelik.
Vissers konsentreer meestal op drie banke. Die Vyfmylbank is regoor Kaap Agulhas se vuurtoring.
Die Sesmylbank is reg oos van Struisbaai en staan ook bekend as Blougansie.
“Met ’n tjakkie moet jy ’n keuse maak. As jy die oggend na Blougansie gaan en nie vis kry nie, is dit te laat om na Twaalfmylbank te gaan,” het Du Plessis gesê.
Vir ’n tjakkie kan dit twee tot drie uur duur om van Twaalfmylbank terug te keer na Struisbaaihawe. ’n Vinnige skiboot lê die afstand in 40?minute af, wat beteken dat die skiboothengelaar baie langer kan visvang.
Die regering gee ook aandag aan bestaansvissers se saak. As die tjakkie-manne skielik almal skibote kry, gaan dit nog groter druk op die visbronne plaas, waarsku party mense.
Du Plessis het gesê nuwe wetgewing kan bestaansvissers uiteindelik help om hul inkomste met kreef en perlemoen aan te vul.
Die vissermanne kyk intussen angstig na die ontwikkelaar, mnr. Johan Roodt, se planne om ’n hotel langs die hawe te ontwikkel.
Tot nou was die Struisbaaihawe se fokus sy tjakkies.
Daar sal nie voor aanstaande jaar met bouwerk aan die hotel begin word nie.
As die bouwerk eers voltooi is, kan die Struisbaaiers skielik vind dat hul hawe se fokuspunt nou ’n nuwe waterfront-ontwikkeling is. Die romantiek van ’n vissershawe kan dan verlore gaan.
Roodt sê hy het geen seggenskap oor of enige belange in die hawe nie. Hy het ’n stuk grond aangrensend tot die hawe gekoop en die afgelope vyf jaar sy planne met almal bespreek.
Baie kritiek is uitgespreek oor veral die omvang van die aanvanklike plan.
“Ek het geluister wat die mense wou hê en baie afgeskaal,” het die ontwikkelaar gesê.
In die huidige ekonomiese klimaat is dit moontlik dat Roodt sy bouplanne nog ’n lang tyd kan uitstel.
As die teerpad van Gansbaai se kant uiteindelik tot by Kaap Agulhas voltooi kan word terwyl daar ’n nuwe hotel kom, kan dit die suidelikste punt van Afrika ’n groot ekonomiese inspuiting gee.
Roodt en baie ander meen dat ’n gereelde stroom toeriste kan help om die ou tjakkies te laat oorleef. Hulle kan dan vir ekstra inkomste in die toerismebedryf aangewend word.
Roodt sê egter ook sonder die tjakkies sal Struisbaaihawe nie dieselfde wees nie. Sy vrou, Joey, sê die tjakkies was nog altyd deel van die vissershawe en sy bekoring kan ’n knou kry as hulle skielik sou verdwyn.
Een visserman, Robert Colin, het gesê hy dink ’n nuwe ontwikkeling sal die atmosfeer bederf en hul werksomstandighede sal nie meer dieselfde wees nie.
’n Ander een het gesê die vernuwing kan dalk ’n baie goeie ding tot almal se voordeel wees.
Stefano Schoonees, eienaar van ’n hengelwinkel by die hawe, het gesê hy het gemengde gevoelens.
“Ek hou van Struisbaaihawe soos hy is. Die ontwikkeling kan egter groot ekonomiese voordele vir almal bring,” het hy gesê.

Moderne skibote. Hulle kom vinniger by die banke as die veel stadiger tjakkies.

Die tradisionele vissersbote, bekend as tjakkies, kan die volgende paar jaar uit Struisbaaihawe verdwyn. Moderne skibote en ’n nuwe hotel langs die hawe kan die nuwe fokuspunte word. Foto’s: EBEN HUMAN