Bloed loop op taai fietstoer
2012-01-17 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die sesde Attakwas-fietstoer was, soos vorige toere, baie taai. Van die ryers het geval dat dat die nerwe waai en die bloed loop.
Saterdagoggend halfses het die ryers in drie groepe drie minute uitmekaar by die wild-en-volstruis-plaas Chandelier 10 km buite Oudtshoorn weggespring. ’n Raps meer as vyf uur later het die voorlopers by die eindpunt op Groot-Brakrivier aangekom.
Die roete voer die ryers 121 km deur die Doringrivier-reservaat en private grond, oor die Mosselbaaipad en by die Sonop-restaurant-en-padstal verby, deur die Attakwa-natuurreservaat.
Daar is ook gery deur die vakansieplaas Bonniedale, by Botlierskop verby en tot by die vakansieoord Pine Creek aan die oewer van die Groot-Brakrivier.
Vanjaar het 680 mans en vroue van alle ouderdomme en van oor die hele land ingeskryf. Net 538 het klaargemaak, want dit was waaragtig nie maklik nie.
Katot Meyer, met sy boskaas grys hare en kaal voete, het die roete uitgelê op kontoere waar mense eers sleë en later togwaens getrek deur osse gebruik het om die binneland te verken.
Die reën einde verlede jaar het die roete sleg verspoel.
Teen Selfmoordheuwel, ’n lang afdraand met los klippe wat oopgespoel het, het tot 40 ryers met ’n gekletter hul moses teëgekom.
“Ek beduie vir hulle hulle moet staaaadig,” het Peter van der Laan verduidelik. Hy is ’n paramedikus wat al ses jaar betrokke is.
“Maar hulle luister nie. Hulle dink seker ek staan verniet my arms so en swaai.”
Die beseerdes kom met bloeiende elmboë en knieë by die aalwynbos op die bult oorkant Selfmoordheuwel by dr. Jaco Jordaan aan. Hy spuit ontsmettingsmiddel en blaas dit droog, deel Rennies uit teen krampe, praat moed in.
Aan die bokant van Selfmoordheuwel het die belowende jong ryer Ruan du Toit sy gesig kwaai beseer met ’n slegte val.
Nie baie later nie het Ferdie Myburgh se voorwiel ’n klip op Bonniedale se ruwe roete getref. Toe Meyer daar verbykom, het Myburgh in pyn langs die pad gesit met ’n gebreekte skouer. Van der Laan het soos ’n engel uit die niet op die rooi viertrekmotorfiets opgedaag en Myburgh se skouer met ’n driehoekverband verbind. Meyer het hom daarna tot op Bonniedale gebring.
Soos Du Toit is Myburgh van daar af na die Bayview-hospitaal in Mosselbaai.
“Die tweede helfte, van Bonniedale tot by Groot-Brakrivier, is nag – dis taai af in die gate, en dis taai weer uit die gate,” het Benito Groenewald van Gansbaai gesê.
“Dit bring ’n ander dimensie aan fietsry omdat dit so taai is,” het Ian Wessels, ’n vriend van Groenewald, beaam.
“Dis tawwer as wat ek gedink het,” het M.C. Wessels van Pretoria gesê nadat hy die eerste keer saam getrap het.
Hy het toe bygevoeg: “Vra my oor ’n week of ek sal terugkom...”
- Tisha Steyn is ’n vryskut-skrywer van Oudtshoorn.