Vertaling gee goeie beeld
2009-09-28 13:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die Vlaamse digter Herman de Coninck (1944-1997) is nie ’n onbekende in
Suid-Afrika nie. In 1996 was hy lid van ’n groep skrywers uit die Lae Lande wat
ná die kulturele boikot weer die hand kom reik het.
Met sy beskeie, sensitiewe voordrag en toeganklike poësie het hy
toehoorders geboei. In sy essaybundel De cowboybroek van Maria
Magdalena vertel hy van sy daaropvolgende reise deur die land, onder
meer na Witsand by die mond van die Breërivier én Witsand in die Noord-Kaap.
Hy was die prins van die Vlaamse poësie, as digter en kritikus. Die
Afrikaanse vertaling van sy gedigte, Liefde miskien (1996), was
só ’n sukses dat dit nou ’n uitgebreider uitgawe moontlik maak. Ek verwys na
Die lenige liefde, ’n bloemlesing uit al die digter se
bundels, weer eens vertaal deur die gesoute Daniel Hugo. Dit bevat 20 van die
eerste vertalings plus 30 nuwes. De Coninck was een van die “Vlaamse
Neo-Realiste” wat omstreeks 1970 op die literêre toneel verskyn het. Hulle
reageer teen die ingewikkelde “eksperimentele” werk van hul voorgangers en
probeer poësie terugbring na die gewone lewe en die omgangstaal. Een van sy
bekendste gedigte uit dié tyd word in ’n ráák vertaling deur Hugo
opgeneem:
Denkend aan vroeëre gedigte
Ons was jonk, ons het die taal
soos ’n perd bestyg en uitdagend
oor die velde gery, lasso’s
van woorde geslinger na alles
wat ons wou verower: O,
dit was dolle, roekelose ritte. Wees tog
maar versigtig, het die kritici agter ons aan geroep
En saans het die taal nog gestaan en natril,
op stal in ’n gedig, runnikend
van heimwee na die maan
en na die verste betekenisse.
Ek vind dit jammer dat die vertaler in sy interessante tegnies
georiënteerde inleiding nie ook sy keuse motiveer nie. Geen vertaling kan
volkome reg laat geskied aan poësie se “heimwee” “na die verste betekenisse”
nie.
Die bloemlesing plaas die Nederlandse tekste telkens teenoor die
Afrikaanse vertaling. So ’n vergelyking laat inderdaad plek-plek my wenkboue
lig. ’n Resensie bied nie ruimte vir uitgebreide vergelykings nie. Vergun my
wel die volgende ten opsigte van twee reëls uit “Vingerafdrukke op die
venster”: Nederlands: “Dochter naast me voor het raam. Van haar houden / is de
gemakkelijkste manier om dit alles te onthouden”. Afrikaans: “My dogter langs my
voor die venster. Om van haar te hou / is die maklikste manier om dit alles te
onthou”. “Houden van” is een van die wat Hugo self al genoem het “valse
vriende” in Nederlands.
Dit lyk na Afrikaans, maar beteken nie dieselfde nie. In dié
geval hou dit veel intenser emosie in as die Afrikaanse “hou van”, en ’n
vertaling met die volle gevoelswaarde is veel eerder “om vir haar lief te
wees”. Toegegee die rym en klankassosiasie by die handhaaf van “hou” in
Afrikaans is verleidelik, maar dit weeg nie op teen die verlies nie.
De lenige liefde gee desondanks ’n goeie beeld van
de digter se werk. ’n Mens kan Hugo spesiaal dankbaar wees vir die een,
uitstekend vertaalde, vers wat hy ook nog uit die “nagelate gedigte” insluit.
Dit verwoord onder meer die speelse huiwering van die woordwerker by die
gedagte dat hy mag sterf terwyl hy die spelling van “doodskis” kontroleer:
“?’n Mooi dood: om te sterf tydens die woord self”.?.?. De Coninck is onverwags
oorlede tydens ’n voordragreis.
)?PROTEA
BOEKHUIS, PRETORIA. (SAGTEBAND, 132 BLADSYE, ISBN 978-1-86919-302-7.)
)?wium
van zyl is verbonde aan die departement afrikaans en nederlands van
uwk.
’’