“De Edele Comp., de Loffelijke Compagnie, the Notedest Company in
the Universe (sir William Temple, 1676)” – as iemand wonder watter maatskappy
só opgehemel word, maak Karel Schoeman dit in Handelsryk in die
Ooste, die tweede deel van sy vyfdelige reeks Kolonie aan die Kaap, op
uitgebreide en wonderlike interessante wyse bekend.
Hy slaag goed daarin om ’n duidelike, afgeronde beeld van die
omvang, mag en internasionale invloed oor te dra van die Verenigde
Oost-Indische Compagnie (1602-1795), wat met die millennium-wisseling in 2000
uitgesonder is, met Ford Motors en Microsoft, as maatskappye wat die mensdom die
meeste beïnvloed het.
Die ongeveer 450 titels van die bronnelys is geskiedenisse,
tesisse, reisjoernale, gepubliseerde tydgenootlike dokumente, woordeboeke en
biografieë, sommige amper 400 jaar gelede gepubliseer, werke van akademiese
historici en amateurs oor dinge soos alkatiewe, argitektuur, feestelikhede,
forte, handel, huwelike, kleding, meubels, plantkunde, porselein, slawe,
speserye, tee en tuine, om net ’n paar onderwerpe in hierdie ensiklopediese
werk te noem.
Duisende brokkies interessante inligting is in noukeurige
besonderhede deur Schoeman versamel, gesif, verwerk en van begin tot end
aangebied in die styl en taal waarvoor hy bekend is. Is jou belangstelling
skoene, skepe, seëllak, kopkool of konings (om vry uit Carroll se Alice te vertaal ); al vyf is volop te vind in die Kompanjie se
dokumente. Wat die boek so ’n sukses maak, is dat Schoeman die duisende drade –
daar ís duisende: hy het meer as 2 200 endnotas in die teks van 257 bladsye –
begrypend, kundig en behendig tot een kleurryke tapisserie geknoop het.
Hy begin sy agtergrond tot die stigting van ’n maritieme
diensstasie aan die Kaap by Portugese indringing van die oer-Asiatiese
handelsweb, verduidelik dan hoe die Hollanders die Portugese se ryk in die Ooste
aangeval en tot in die wortels verwoes het om dit met sy eie te vervang.
Die moeilike en vreemde kontak met Oosterse potentate word
bespreek, en daarna die verskyning van Engelse, Dene en Franse in Oosterse
waters. Dan vertel hy oor die Hollandse stede, leefwyse en gedrag in die trope.
Daar is gedurige verwysing na tydgenootlike Kaapse omstandighede en amptenary om
onderlinge verband te beklemtoon en te demonstreer hoe die VOC se leefstyl
die gedrag van sy kinders kon beïnvloed het, soos die rykdom en praal wat
Simon van der Stel as seun in Batavia gesien het, en sy seun Willem gedurende
die Goue Eeu in Amsterdam. Ook hoe die vernedering en swaarkry van slawe
persepsies en vooroordeel ten opsigte van rang, rykdom en ras geskep het. Dit
doen Schoeman baie goed; hy is op sy beste met sosiale en kulturele aspekte,
dikwels onverwag, soos watter tydperke van rou behoorlik geag is voordat
iemand hertrou.
Natuurlik is daar baie goud, baie sweet, baie trane, baie bloed,
soos waar die bedreiging van Barbaryse kapers uitvoerig en interessant bespreek
word (ongelukkig sonder om die VOC se “Turkse vrypasse” te noem.) Só ver strek
die VOC se nalatenskap, dat sy argiewe vandag nog as ’n towerspieël vir ’n
kultuurhistorikus dien.
Die boek het twee goeie, duidelike kaarte, maar geen ander
illustrasie nie. Myns insiens is dit ’n tekortkoming, want een prent sê
honderde woorde. Nuwe lesers behoort te sien hoe Fort Zeelandia op Taiwan, of
Fort Gamma Lamma aan die voet van ’n aktiewe vulkaan op Ternate, of die vername
stad en kasteel Batavia gelyk het. Wat sy bronne betref, is daar minderwaardige
transkripsies soos Leibbrandt se Précis en Barnwell se Visits and Dispatches, wat na my oordeel die bronnelys deur hul
afwesigheid sal versterk. Selfs Dutch-Asiatic Shipping…(RGP nr.
165 tot 167), wat deesdae so ligtelik ingespan word, is nie sonder foute en
weglatings nie. Mag geskiedskrywing teen die internet se swakhede ook behoue
bly. As feitefoute dan voorkom in ’n werk wat op gepubliseerde bronne berus, wie
is skuldig? Die laaste skrywer of die een wie se werk gebruik is?
Ek het enkeles opgemerk: D’Almeida is nie in 1509 dood nie, maar
1510, perde is nie vóór Van Riebeeck aan die Kaap gelaat nie, Bitter was nie
kommandeur nie, maar vise-kommandeur, stengen is nie “dwarsbalke” nie maar
opwaartse verlengings van maste. Ek vertrou dat Schoeman die dinge self weet.
Dan ’n paar metodologiese glipse: Endnota 21 op bl. 30 verwys na Axelson, maar
Axelson bevat nie die inligting nie. Endnota 95 op bl. 245 verwys na “Heese”,
maar Heese (H.F., of J?) verskyn nie in die bronnelys nie. Een of twee keer neig
hy onhistoriografies om figuurlike in plaas van letterlike begrippe te gebruik,
soos dat die Kaap ’n “buitepos” was, Caron en Steen was “handlangers” en drie
“eggenotes” het die bastionne gedoop. Vreemd is die skrywer, bekend vir sy
noukeurigheid, se gebruik van “na bewering, volgens oorlewering,” of dergelike
vaaghede. Transkripsie- , spel- en setfoutjies in ’n werk van hierdie omvang
is ook onbeduidend min.
Dit is ’n boek om te besit. Ontledend, beskrywend, evokatief en
hoogs belese is Schoeman hier in sy element. Handelsryk in die
Ooste is ’n soliede stuk plesier, ’n ryk skatkis van interessanthede wat ek
nie net aan VOC-entoesiaste nie, maar aan enige ondersoeker van die opgetekende
verlede en alle rusbank-reisigers aanbeveel. In Suid-Afrika, waar die VOC self
die eerste 143 jaar van koloniale geskiedenis veroorsaak, bepaal en grotendeels
geskryf het, is ’n nuwe publikasie oor die Kompanjie ’n seldsaamheid wat gevier
behoort te word.
Schoeman en Protea Boekehuis, wat in ’n moeilike marksituasie
die moed het om geskiedenisse te publiseer, lewer in dié amperse vakuum ’n
welkome en hoogs nodige diens met die reeks Kolonie aan die Kaap.
- PROTEA BOEKHUIS, PRETORIA. (HARDEBAND, 350 BLADSYE, ISBN
9781869192709.)
- Dan Sleigh is ’n historikus en kenner van die
voc-geskiedenis.