Schoeman verryk geskiedenis van VOC

2009-12-28 05:22

HANDELSRYK IN DIE OOSTE – DIE WÊRELD VAN DIE VOC, 1619–1685

Karel Schoeman
“De Edele Comp., de Loffelijke Compagnie, the Notedest Company in the Universe (sir William ­Temple, 1676)” – as iemand ­wonder watter maatskappy só ­opgehemel word, maak Karel Schoeman dit in Handelsryk in die Ooste, die tweede deel van sy vyfdelige reeks Kolonie aan die Kaap, op uitgebreide en wonderlike ­interessante wyse ­bekend.

Hy slaag goed daarin om ’n ­duidelike, afgeronde beeld van die omvang, mag en internasionale ­invloed oor te dra van die Verenigde Oost-Indische Compagnie (1602-1795), wat met die mil­len­nium-wisseling in 2000 uitgesonder is, met Ford Motors en Microsoft, as maatskappye wat die mensdom die meeste beïnvloed het.

Die ongeveer 450 titels van die bronnelys is geskiedenisse, tesisse, reisjoernale, gepubliseerde tyd­genootlike dokumente, woorde­boeke en biografieë, sommige ­amper 400 jaar gelede gepubliseer, werke van akademiese historici en amateurs oor dinge soos alkatiewe, argitektuur, feestelikhede, forte, handel, huwelike, kleding, ­meubels, plantkunde, porselein, slawe, speserye, tee en tuine, om net ’n paar ­onderwerpe in hierdie ensiklo­pediese werk te noem.

Duisende brokkies interessante inligting is in noukeurige besonderhede deur Schoeman ver­samel, gesif, verwerk en van begin tot end aangebied in die styl en taal waarvoor hy bekend is. Is jou belang­stelling skoene, skepe, seëllak, ­kopkool of konings (om vry uit ­Carroll se Alice te vertaal ); al vyf is volop te vind in die Kompanjie se dokumente. Wat die boek so ’n ­sukses maak, is dat Schoeman die duisende drade – daar ís duisende: hy het meer as 2 200 endnotas in die teks van 257 bladsye – begrypend, kundig en behendig tot een kleurryke tapisserie geknoop het.

Hy begin sy agtergrond tot die stigting van ’n maritieme diens­stasie aan die Kaap by Portugese ­indringing van die oer-Asiatiese handelsweb, verduidelik dan hoe die Hollanders die Portugese se ryk in die Ooste aangeval en tot in die wortels verwoes het om dit met sy eie te vervang.

Die moeilike en vreemde kontak met Oosterse ­potentate word ­bespreek, en daarna die ver­skyning van Engelse, Dene en Franse in Oosterse waters. Dan vertel hy oor die Hollandse stede, leefwyse en gedrag in die trope. Daar is gedurige verwysing na tydgenootlike Kaapse omstandighede en amptenary om onderlinge verband te beklemtoon en te ­demon­streer hoe die VOC se leefstyl die­ ­gedrag van sy kinders kon beïnvloed het, soos die rykdom en praal wat Simon van der Stel as seun in Batavia gesien het, en sy seun ­Willem gedurende die Goue Eeu in Amsterdam. Ook hoe die ver­nedering en swaarkry van slawe persepsies en vooroordeel ten opsigte van rang, rykdom en ras geskep het. Dit doen Schoeman baie goed; hy is op sy beste met sosiale en kulturele aspekte, ­dikwels onverwag, soos watter tydperke van rou behoorlik ­geag is voordat ­iemand hertrou.

Natuurlik is daar baie goud, baie sweet, baie trane, baie bloed, soos waar die bedreiging van Barbaryse ­kapers uitvoerig en interessant bespreek word (ongelukkig sonder om die VOC se “Turkse vrypasse” te noem.) Só ver strek die VOC se nalatenskap, dat sy argiewe vandag nog as ’n ­towerspieël vir ’n kultuur­historikus dien.

Die boek het twee goeie, duidelike kaarte, maar geen ander ­illustrasie nie. Myns insiens is dit ’n tekortkoming, want een prent sê honderde woorde. Nuwe lesers ­behoort te sien hoe Fort Zeelandia op Taiwan, of Fort Gamma ­Lamma aan die voet van ’n aktiewe vulkaan op Ternate, of die vername stad en kasteel Batavia gelyk het. Wat sy bronne betref, is daar minderwaardige transkripsies soos Leibbrandt se Précis en Barnwell se Visits and Dispatches, wat na my oordeel die bronnelys deur hul afwesigheid sal versterk. Selfs Dutch-Asiatic Shipping…(RGP nr. 165 tot 167), wat deesdae so ligtelik ingespan word, is nie sonder foute en weglatings nie. Mag geskied­skrywing teen die internet se swakhede ook behoue bly. As feitefoute dan voorkom in ’n werk wat op gepubliseerde bronne berus, wie is skuldig? Die laaste skrywer of die een wie se werk gebruik is?

Ek het enkeles op­gemerk: D’Almeida is nie in 1509 dood nie, maar 1510, perde is nie vóór Van Riebeeck aan die Kaap gelaat nie, Bitter was nie kommandeur nie, maar vise-komman­deur, stengen is nie “dwarsbalke” nie maar opwaartse verlengings van maste. Ek vertrou dat Schoeman die dinge self weet. Dan ’n paar metodologiese glipse: Endnota 21 op bl. 30 verwys na Axelson, maar Axelson bevat nie die inligting nie. Endnota 95 op bl. 245 verwys na “Heese”, maar Heese (H.F., of J?) verskyn nie in die bronnelys nie. Een of twee keer neig hy onhistoriografies om ­figuurlike in plaas van letterlike begrippe te gebruik, soos dat die Kaap ’n “buitepos” was, Caron en Steen was “handlangers” en drie “eggenotes” het die bastionne ­gedoop. Vreemd is die skrywer, ­bekend vir sy noukeurigheid, se ­gebruik van “na bewering, volgens oorlewering,” of dergelike vaag­hede. Transkripsie- , spel- en ­setfoutjies in ’n werk van hierdie omvang is ook onbeduidend min.

Dit is ’n boek om te besit. Ont­ledend, beskrywend, evokatief en hoogs belese is Schoeman hier in sy element. Handelsryk in die ­Ooste is ’n soliede stuk plesier, ’n ryk skatkis van interessanthede wat ek nie net aan VOC-entoesiaste nie, maar aan enige ondersoeker van die ­opgetekende verlede en alle rusbank-reisigers aan­beveel. In Suid-Afrika, waar die VOC self die eerste 143 jaar van koloniale geskiedenis veroorsaak, bepaal en grotendeels geskryf het, is ’n nuwe publikasie oor die Kompanjie ’n seldsaamheid wat gevier behoort te word.
Schoeman en Protea Boekehuis, wat in ’n moeilike marksituasie die moed het om geskiedenisse te publiseer, lewer in dié amperse vakuum ’n welkome en hoogs nodige diens met die reeks Kolonie aan die Kaap.

 - PROTEA BOEKHUIS, PRETORIA. ­(HARDEBAND, 350 BLADSYE, ISBN 9781869192709.)

 - Dan Sleigh is ’n historikus en kenner van die voc-geskiedenis.

Wat die boek so ’n ­sukses maak, is dat Schoeman die duisende drade behendig tot een kleur- ryke tapisserie geknoop het.
 

- Die Burger

binne die burger

Weather
Lottery
Cpt: 19-26°C Sunny. Mild. Pta: 18-30°C Mostly sunny. Warm.
Jhb: 16-28°C More sun than clouds. Mild. Bloem: 19-30°C More sun than clouds. Pleasantly warm.
Dbn: 23-31°C Mostly sunny. Warm. PE: 20-25°C Showers early. Morning clouds. Mild.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

MERCEDES-BENZ

A 180 ELEGANCE AT
2010
R 244,000.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

VOLKSWAGEN

Sharan 1.8 Turbo MPV MY01
2006
R 219,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at Mozambique's magical Massinga Beach Lodge. From 10 299 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book Now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Die liefde blom

Ons het ’n verskeidenheid rose beskikbaar vir daardie spesiale persoon op Valentynsdag. Bestel voor 10 Februarie om seker te maak dit word op 14 Februarie afgelewer. Koop dit nou.

Perfekte paar-Valentynsdag-aanbod

Koop ’n klassieke skeerkwasstel vir ’n man vir R279 & kry 15% afslag op ’n keuse van reukwaters. Koop dit nou.

gobii eReader-Valentynsdag-aanbod

Kry die gobii eReader + gratis R160-eboek-koopbewys vir net R899. Koop dit nou.

Twilight

The Twilight Saga - Breaking Dawn deel 1 is vanaf 13 Februarie te kry. Beskikbaar op DVD & blu-ray. Bestel nou vooraf.

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

2 DVD's vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.