François Bloemhof is een van die mees produktiewe skrywers van
spanningsrillers in Afrikaans.
Sedert die verskyning van Die Nag Het Net Een Oog
(1991) het hy telkens bewys dat dit wel moontlik is om spanningsverhale,
psigologiese rillers en gruwelfiksie op innoverende wyses in Afrikaans te
ontgin.
Laasgenoemde is geen maklike taak nie; getroue lesers van populêre
fiksie is vertroud met die kriteria en patrone hieraan verbonde en wil deur
alternatiewe uitbreidings en toespelings konstant verras word. Die grootste
guns wat die beoefenaar van populêre fiksie aan sy of haar lesers kan bewys, is
om hulle nie te verveel nie.
Sedert 2008 waag Bloemhof sy hand aan die spioenasieriller in
Afrikaans binne die kader van Human & Rousseau se Rooi Luiperd-reeks. Afspraak in Venesië is die tweede roman in dié reeks en is deur Rooi Luiperd voorafgegaan .
Die derde roman, Die Genesis-faktor sal vanjaar
beskikbaar wees. Afspraak in Venesië handel oor die wedervaringe
van agent Mark Steyn oftewel Luiperd. As lid van die Groot Vyf beskik hy oor
rooi klaring wat beteken dat hy kan doodmaak, solank hy dit later kan regverdig.
Steyn word deur die hoof van Die Fabriek, Clive Sharpe op ’n
sending Londen toe gestuur, nadat ’n bomontploffing (geaktiveer deur ’n selfoon)
in ’n Londense hospitaal, die lewens eis van Jan Kruger en sy Italiaanse
hartspesialis, Emilio Pilato.
Weldra word dit duidelik dat Pilato se dood te wyte is aan
struwelinge tussen die Pilato- en Dragonetti-familie en dat Kruger onwetend
deur die boosaardige Gianni en Carlo Dragonetti as instrument gebruik is om
Pilato te elimineer. Dit is Mark Steyn se taak om uit te vind hoe die vyandskap
tussen die twee Italiaanse families met die dood van Jan Kruger en die
ontvoering van Emila en Nina Pilato skakel.
Sekerlik ’n normale missie in die lewe van ’n geheime agent, maar
daar is reeds met Steyn se vertrek ’n kinkel in die kabel, want ’n onervare
vroueagent, Lana Dubois, moet hom vergesel.
Die teenwoordigheid van ’n vroueagent as helper vir die manlike
protagonis is ’n bekende gegewe as ’n mens dink aan die meer onlangse 007-flieks
en Hollywood-produkte. Bloemhof bied ’n variasie hierop deurdat Lana as
opgeleide sielkundige, Die Fabriek behulpsaam was met psigologiese evaluerings
van agente voordat sy besluit het om ’n agent te word.
In werklikheid word Lana saam met Steyn gestuur om namens Sharpe op
hom te spioeneer, aangesien Sharpe deur Steyn geïntimideer voel. Dié
spioenasie-binne-spioenasie gegewe is ’n welkome variasie op ’n andersins
relatief konvensionele storielyn en dra by tot die spanningselement in die boek.
Tog word dié subplot nie na behore ingeklee of gemotiveer nie, wat die leser met
te veel onbeantwoorde vrae laat.
Bloemhof wend dramatiese ironie vaardig as ’n strategie aan om
spanning te skep en betrek die leser daardeur op ’n meer direkte wyse by die
verhaalgebeure. Dit gebeur dikwels dat die leser meer weet as Steyn en Dubois
wat hul vyande in die mou voer.
Die ontwikkeling van ’n liefdesintrige tussen Steyn en Dubois is
geloofwaardig, dog voorspelbaar. Dit kom as geen verrassing dat hul kort ná
hul triomf oor die bose in die katel beland nie. Getrou aan konvensie loop
adrenalien en onafwendbare seks hand aan hand.
In die roman word bekende patrone en kenmerke van die
spioenasieriller met ’n aks of twee aangepas, maar van wesenlike vernuwing is
daar weinig sprake.
Die roman speel in ’n tipies eksotiese ruimte af – Venesië is ’n
stad wat hom by uitstek tot kat-en-muisspeletjies tussen helde en skurke leen.
Daar is in eg 007-styl, sprake van allerlei slim toestelle om die agente én
skurke by te staan in hul onderskeie take. So byvoorbeeld tref ons bomme aan wat
deur kodes (via SMS-boodskappe) geaktiveer word, bomtoestelle wat onder die vel
ingeplant word en ’n middel wat tot onreëlmatige hartklop lei.
In tipiese Hollywood-styl is dit die oënskynlik swakker vroulike
agent wat die onaangename taak kry, om ’n mikro-ontvanger onder Steyn se vel te
verwyder, want as sy nie haar stereotipiese vrese blitsvinnig hokslaan nie,
gaan ons held in duisende bloederige stukkies opgeblaas word. Alles gebeur
natuurlik sonder verdowing. Dié verhaalgegewe is ’n bekende manier om spanning
te skep, maar as Lana dieselfde prosedure ook op ’n dogtertjie moet uitvoer,
word dit ongeloofwaardig.
Hier en daar is sprake van ’n verrassende element. Die beste
voorbeeld is waar Lana die glibberige Gianni moet verlei om sekere inligting te
bekom. Niks vreemds hieraan nie, maar tot Lana en die leser besef dat haar
verleidingskrag geen impak op die Italiaanse dokter het nie, omdat hy gay is en
boonop ’n intense liefdesverbintenis met sy lyfwag (en derde skurk in die
verhaal), Luca Torchia, het.
Oorhoofs beskou, herinner Afspraak in Venesië te
veel aan ’n aangepaste 007-fliek – die enigste verskil is dat die eindproduk in
Afrikaans is. Die roman het werklik nie dié leser se handpalms laat sweet nie –
daarvoor is meer innoverende pogings op die internasionale mark
beskikbaar.
- HUMAN & ROUSSEAU, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 253
BLADSYE, ISBN 0798151064.)
- Neil Cochrane is ’n literator van
unisa.