SAGRES EN SUIDERKRUIS - RAAKPUNTE TUSSEN PORTUGAL EN SUID-AFRIKA
DEUR VYF EEUE
O.J.O. Ferreira en Schalk le Roux
Hierdie omvattende
oorsig van bykans elke terrein waarop Portugal van die vroegste tye af kontak
en invloed op of in Suid-Afrika gehad het, is ’n besonderse kultuurhistoriese
prestasie.
In die bykans 400
bladsye word 17 temas bespreek wat van die suiwer historiese oor die vroeë
Portugese ontdekkingsreisigers tot die politieke en ekonomiese verhoudinge
tussen Suid-Afrika en Portugal en die kunste, argitektuur, taal en selfs spyse
strek.
In elke tema is daar
’n aantal selfstandige essays (altesame 99) oor persone, plekke, gebeure en
belange. Die argitek Schalk le Roux het 23 hiervan geskryf. Die meeste daarvan
is nuut, hoewel ’n redelike aantal gebaseer is op reeds gepubliseerde werk oor
die Portugese deur Ferreira, wat professor in geskiedenis aan die Universiteit
van Pretoria was.
Dit is moeilik om aan
’n onderwerp te dink wat nie gedek is nie. Selfs die statistiek van Portugese
immigrasie na Suid-Afrika kom aan die bod. Suid-Afrikaners wat ’n bepaalde
verband met Portugal het, al is hulle “onbenullige” figure in die geskiedenis
soos Homan of bekendes soos Roy Campbell, word erken. Wie weet byvoorbeeld van
Manie Maritz se Portugese verbintenisse, of die Portugese digter Fernando
Pessoa se Suid-Afrikaanse verbintenis? Die meeste mense weet van Portugese
restaurante en groentewinkels, maar ken hulle die storie van Portugese spyse in
Suid-Afrika?
Die werk is deeglike nagevors, keurig geskryf en dit dek ’n
ensiklopediese terrein op ’n boeiende en interessante wyse. Die 193
illustrasies wat die teks vergesel, gee daaraan ’n diepte en ’n
kultuurhistoriese en menslike beeld van ’n tot nog toe grootliks onontginde stuk
geskiedenis en kultuur, minstens in Afrikaans.
Die skrywers het bekendheid verwerf as aktiewe navorsers oor die
rol van die Portugese en oor die argitektuur waarvoor albei ook deur die
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon is. Die verhaal van die
wedersydse intermenslike, kulturele en politiek-ekonomiese betrekkinge tussen
Suid-Afrika en Portugal word van die vroegste tye tot by die huwelik van Trevor
Manuel met ’n Portugese vrou behandel.
Nie net Ferreira en Le Roux se eie navorsing nie, maar ook dié van
nagraadse studente (meestal ongepubliseerde of beperk gepubliseerde
proefskrifte), by wie se navorsing hulle kennelik betrokke was, word bekend
gestel. Vergelyk byvoorbeeld die reeks essays waar van Valerie Esterhuizen se
werk oor Portugese keramiek gebruik gemaak word en Le Roux se werk oor die
Portugese argitektuur.
Hierdie werk is duidelik die resultaat van ’n leeftyd van ’n baie
persoonlike verhouding met die Portugese verbintenis met Suid-Afrika. Die feit
dat Cobus Ferreira se stamvader Portugees was en dat hy die Ferreiras se
geskiedenis in Suid-Afrika nagevors het, het duidelik hierdie besondere
belangstelling in en ’n leeftyd gewy aan navorsing oor die Portugese se rol
in Suid-Afrika geïnspireer. Die Afrikaanse literatuur is daardeur verryk.
As die vroeë pioniersgeskiedenis van die Voortrekkers se kontak
met die Portugese bekyk word, ontstaan die vraag onwillekeurig hoe het Louis
Tregardt en Manie Maritz (en die Boere in die algemeen) met die Portugese
gekommunikeer? Hulle kon seker nie, minstens nie in die begin nie, Portugees
praat nie, hoewel Carolus Tregardt teen 1843 Portugees kon praat.
Interessantheidshalwe: FV Engelenburg van De Volkstem was ook
in bepaalde opsigte tydens die Anglo-Boereoorlog ’n “banneling” in Europa en
het tyd in Portugal deurgebring. As wynkenner en fynproewer skryf hy in 1901
met waardering oor Portugese kuns, wyn en kos.
’n Mens moet onwillekeurig met die skrywer van die voorwoord, JB
Wessel, voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Portugal, saamstem. Hy vra die
vraag: Waarom is die Amerikaanse en Spaanse ambassades gedurende die rewolusie
van 1974 gereeld aangeval maar die ambassade van die mees veroordeelde land in
die wêreld, Suid-Afrika, is aan geen moleste onderwerp nie? Die antwoord, sê
hy, lê verskuil in dié merkwaardige boek oor die gesindhede tussen Suid-Afrika
en die Portugese in die algemeen.
- ADAMASTOR, GORDONSBAAI. (HARDEBAND, 387 BLADSYE,
ISBN 978-0-620-4068-4.)
- Pieter Kapp is ’n besoekende Navorsingsgenoot van die
Departement Geskiedenis van die Universiteit van die Vrystaat.