Melodrama, spanning en moordgedagtes
2009-09-28 13:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Voetstoots word deur die subtitel as “?’n episode”
beskryf. “?’n Episode” dui enersyds op ’n voorval in die geskiedenis van ’n
Weskusdorp, maar andersyds ook daarop die roman sluit aan by die
vervolgverhaalgenre, spesifiek by die “sepie”. Soos in enige episode uit ’n
sepie is daar ’n hoë dosis melodrama: die openingsparagrawe herinner aan ’n
soetsappige liefdesverhaal en dit word gevolg deur die ontdekking van ’n
ongeïdentifiseerde lyk in ’n dorpie – ’n stapelbestanddeel uit die
speurverhaaltradisie.
Verder is daar, soos dit ’n sepie-episode betaam, ’n sterk
spanningslyn. Spanning ontstaan veral uit die verwagting dat ’n
gesinsmoord op hande is. Die aanvallige Tessa, ’n polisievrou op die dorp,
skei van haar jaloerse man, Andries – ’n polisieman wat geneig is tot geweld
en wat aan post-traumatiese stres ly. Deur hulle vyfjarige seun, Otto, raak sy
egter romanties betrokke by August – ’n amateurhistorikus wat hom op die dorp
kom vestig om weg te kom van die stad en sy verlede. ’n Somber afloop word in
die vooruitsig gestel en die leser verwag dat Andries vir Tessa, Otto of
August of al drie gaan vermoor. Dié spanning bereik ’n klimaks teen die einde
van die roman wanneer afwisselende perspektiewe van August en Tessa se
ervarings telkens in tyd terugspring, terwyl die moontlike afloop in ander
rigtings gestuur word.
Soos in Kroniek uit die doofpot word ’n
metafiksionele vertelstrategie aangewend. Die “episode” word opgeteken
deur ’n beeldhouer wat op ’n plaas buite die dorp woon.
Hierdie verteller, wat nie “?’n boorling” van die Weskus is nie,
bied die gebeurtenisse aan uit sy eie perspektief, as buitestander. Hy skep
bewustelik fiksie?– die melodramatiese “episode” waarin die karakters se
belewenisse van “binne” deur hom verbeel word.
Die verteller wat sy tekortkominge bely en erken dat sy
vertelling ’n subjektiewe weergawe is, herinner aan W.G. Sebald se woorde: “Any
form of authorial writing where the narrator sets himself up as stagehand and
director and judge and executor in a text, I find somehow unacceptable.” So
’n verteller kan, volgens Sebald, dalk aanvaarbaar wees binne ’n wêreld waarin
alles helder en duidelik is, waarin die reëls vasgelê en waarin reg en
verkeerd vaspenbaar is. Ons leef nie (meer) in so ’n wêreld nie en daarom is
dit vir Sebald noodsaaklik dat die verteller ’n mate van onsekerheid toon.
“But I think these certainties have been taken away from us by the course of
history, and that we do have to acknowledge our own sense of ignorance and of
insufficiency in these matters and therefore to try and write accordingly”. Voetstoots, ’n roman waarin verwikkelde temas soos trou, verraad,
skuld, die (on)- moontlikheid om onbetrokke te wees en die belang van die
verlede ondersoek word, word deurslaggewend bepaal deur die verteller wat
op selfbewuste wyse sekerhede ondermyn en erken dat sy eie verlede,
verbeelding en romantiese wense ’n rol in die vertelling speel.
Die kompleksiteit van persoonlike skuld word deurgetrek na die
kollektiewe en die sosiaal-politieke situasie. Ook die verteller is nie van
skuld vry te spreek nie. Hy raak trouens self betrokke by die gebeurtenisse.
Die episode, as ’n weergawe van iets wat gebeur het, is op ’n manier ook
geskiedskrywing.
Die herstel van iets van die verlede, hetsy August se navorsing
oor Gordon se reise, hetsy sy herstelwerk aan ’n ou winkel en woonhuis of Tjaart
se ondersoek van die sterre (wat lankal uitgebrand het), is maniere om ’n
historiese bewustheid te skep waarmee ’n ander perspektief op die hede moontlik
gemaak word. August besef dat die verlede “?’n denkbeeld is waarvan jy nie kan
loskom nie” en Tjaart sê vir hom: “.?.?.?moenie probeer om mense oor te haal om
soos jy te dink nie. Leer hulle om te kyk. En te luister. Dat ons hoor hoe groot
dit is. Na binne sal dit kaats, jy sal nie meer blind en doof op reis wees
nie”.
’n Geskiedenis wat aangepas word om ander na jou mening oor te
haal, maak ’n mens blind en doof. Die doel van ’n weergawe van die verlede is ’n
manier om ander uit te nooi om die wêreld deur jou oë te sien. Die manier waarop
ons gebeurtenisse “vertolk” en weergee, word bepaal deur ons eie ervarings,
ons verlede. Die skrywer plant sy eie verlede oor op die weergawe van die
“episode” wat hy hier op die dorp ervaar – ’n weergawe wat die leser voetstoots
moet aanvaar. Dié weergawe sal vir sommige lesers te soetsappig wees. Die
grootste deel van die roman is immers melodramaties, en dit kan gevra word of
die selfbewuste refleksie daarop sterk genoeg is om die leser se goeie wil te
behou. Maar tog, soos wat Miles nog altyd gedoen het, word die leser genooi om
die wêreld op ’n sekere manier te sien. Miles preek nie, probeer nie om te
oortuig of te oorreed nie, maar stel die leser bloot aan ’n hoogs individuele
weergawe, wat alle sisteme en teorieë kompliseer.
)?HUMAN &
ROUSSEAU, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 364 BLADSYE, ISBN 9780798150804.)
)?Willie
Burger is verbonde aan die departement afrikaans van die uj.
’’
Miles?.?.?. stel die leser bloot aan ’n hoogs individuele
weergawe, wat alle sisteme en teorieë kompliseer.