Debuutroman uit Grabouw se wêreld is ’n sieraad
2009-10-05 01:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Fiksie
TROOS VIR DIE GEBROKENES
Bettina Wyngaard
Ek het baie lekker gelees aan Bettina Wyngaard se debuutroman, Troos vir die gebrokenes.
In ’n konteks waar ons deesdae geredelik toegang het tot die nuutste wêreldliteratuur, kontak het met skrywers wat verbluffende literêre tegnieke gebruik en jou sinne laat duisel met merkwaardige verhale, doen Wyngaard se roman ietwat ouderwets aan met sy (on)rustige, lokale realisme.
Moet egter nie een oomblik dink dat hierdie soort verhaal, die wel en wee van ’n klein en arm gemeenskap uit Grabouw se wêreld, oorbodig of uit plek is nie. Inteendeel. Ek het met toenemende verwondering by die aangrypende lewens van ’n kleurvolle klompie mensie betrokke geraak. Wyngaard se roman laat my dink aan ’n handgemaakte lappieskombers, ’n vertroude en geliefde troosding wat nie met duur of ingevoerde lappe aan mekaar gewerk is nie, maar een wat ontstaan het uit al die loslappies van ’n menslike bestaan. Dié kombers is nie vreeslik planmatig uitgewerk nie, dit is plek-plek al verslete van al die gebruik, party lappies skree ten hemele, maar dit alles saam spreek van innigheid en deernis en pragmatiek. Só ’n lappiesding wen nie die eerste prys op die kwiltersgilde se skou nie, maar dit maak ’n kind en ’n oumens toe teen die koue, dit word van geslag na geslag as unieke artefak oorgedra. Soos in ’n lappieslap kom Wyngaard se karakters en hul dinge na vore: Frieda die voorvrou in die appelfabriek, die dierbare antie Mina wat by die kollege van die lewe haar doktorsgraad gekry het, Lilly met ’n voorkind, John wat Frieda slaan en binne die huwelik verkrag, die pierewaaier Ben, oompie Charles wat blomme uit sy voortuin pluk, die skinderbek Linda en die jeugmisdadiger Garth.
Die fokus verskuif telkens van een karakter na ’n ander, maar al hul wedervaringe vorm gesamentlik die storie. Soos die kleurryke taalgebruik van die karakters, is die gebeure bont, en pragtig. Maatskaplike probleme wat aan bod kom, geweld en drankmisbruik, werkloosheid en haweloosheid, word uit die gemeenskap self aangespreek.
En as dinge handuit ruk, dan is daar altyd antie Mina wat reg en geregtigheid sal laat geskied, selfs al moet sy ’n groot, uitgegroeide man met ’n stuk vuurmaakhout pot. Daar is nie eintlik ’n logiese afsluiting met die verhaal nie, want die lewe sal voortgaan en nuwe probleme vir dié klompie mense bring, maar dit sluit as ’n bevredigende en geloofwaardige geheel. Wyngaard het die unieke voorreg om met outentieke kennis uit ’n bepaalde gemeenskap se leefwyse universele lewensvaardighede aan bod te bring. Die pluspunt van dié roman is dat sy dit doen sonder literêre pretensie of politieke innuendo’s. Ek was baie jammer om afskeid te neem van Frieda in die fabriek, want die blouboordjie-ruimte is nog ’n grootliks onontginde, en uiters kreatiewe ruimte.
Die een stilistiese hebbelikheid wat sy wel moet afleer, is om té veel te sê en te min te wys. Moenie vir die leser sê wat jou karakters se eienskappe is nie, laat hulle dit deur hul doen en late illustreer. Maar laat hierdie kritiek dié voorvrou nie stuit nie; vat ons weer fabriek toe, Pineview toe, Grabouw toe. Troos vir die gebrokenes is ’n roman wat met al sy outydse sjarme ’n sieraad geword het.
UMUZI, KAAPSTAD. (SAGTEBAND,192 BLADSYE, ISBN 978 141 5200 834.)
- Riana Scheepers is ’n skrywer en letterkundige van wellington.