Debuutdigter se natuurverse as watermerke van herinnering
2009-12-28 05:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Vir taal- en
poësieliefhebbers is die verskyning van ’n nuwe digbundel, veral uit ’n
relatief onbekende oord, genoeg rede om die sjampanjeprop te laat skiet. Maar
sit daar vonkel in die eerste teug? Of staan die skop van ’n debutanteborrel
buite kyf?
Hoe onstabiel die begrip “goeie poësie” ookal geraak het, en hoe
prekêr ookal die posisie van die nuwelingdigter en die taal waarin sy dig, moet
die resensent tog ’n literêre meetlat aanlê. Dis immers digkuns waarmee ons
werk, nie fotoboekies of verjaardagkaartjies nie. En tog was daar ’n
verontwaardigde gegons toe Bernard Odendaal onlangs op die
Versindaba-webwerf sekere leemtes in Bloot Mens, ’n debuut van
Jelleke Wierenga, uitgewys het.
Lucie Möller is in Watermerke sterk ingestel op die
Afrika-gegewe en die natuurskoon van die Waterberge, en op die gebrek aan water
in die landskappe van Namibië en die Noord-Kaap. Só ’n verkenning en
verwoording van die eie bodem kan ’n waardevolle bydrae lewer tot die inheemse
poësie, veral waar die wêreld van ’n vroeëre digter soos Eugène Marais deur ’n
nuwe stem herbesoek en herbesing word. Die vyf prikkelende afdelingstitels, wat
begin met “Met fynhout en sterrestof” en eindig met “Tot alles vloei”, sê reeds
iets van die betowering wat die omgewing vir dié digter en naamkundige inhou.
Tog lei die benoemingsdrif en volgehoue aandag vir plekke, bome, bosse,
varings, grasse, ruigtes, vleie, riviere, sade, stompe, riete, klippe, berge,
diere, vuur, water, roetes, landmerke en kleure tot tematiese oorversadiging,
ten spyte van die binding wat só tussen die 54 gedigte ontstaan. Soos vele
debutante, is Möller nie alleen geneig om “ek” en “ons” mildelik te betrek nie,
maar om beelde, motiewe en beskrywings oormatig uit te brei. Sy bring met
woordoordaad egter mee dat die meeste gedigte aan hul potensiële trefkrag
inboet. Daarteenoor toon die debuut van Loftus Marais dat dit moontlik is om uit
die staanspoor spontaneïteit met vormtug te versoen.
Hoewel waarnemings, gewaarwordings en gedagtegange in Watermerke op plekke oortuigend en vars verbeeld word (“doujong
jare”; “ebbehoutdye”), doen die gedigte meestal doelbewus poëties aan en maak
dit selfs ’n geforseerde indruk. Dit is slegs waar die digter “skoon leer
skryf” (sic) en sy haar verse van oortollige ballas verlos dat ’n leniger vorm
beslag kry, soos in “Hings”, “Bosvarke” en “Dood van die bruinhiëna”.
Lesers wat nie soveel waarde heg aan die gestroopte, vaartbelynde
vers nie, mag deur die skilderagtige natuurbeelding meegevoer word.
Aan die positiewe kant word etlike gedigte meer as bloot visuele
voorstellings, en roep dit iets op van wat agter of verby die konkrete
werklikheid lê. Meerduidigheid stel hoë eise aan ’n debutant, maar is by Möller
reeds in die kiem aanwesig en gaan dikwels met ’n ondertoon van weemoed of
nostalgie gepaard. Die geheeleffek word meermale deur onfunksionele
opstapeling en herhaling vertroebel, soos reeds blyk uit die inleidende
gedig “Rigtingwysers”.
Dit sou onbillik wees om die werk van ’n beginnende digter met dié
van ervare woordsmede te vergelyk, maar die vrugbare boustof wat Möller vir
haarself toeeien, word op tegniese vlak nog nie ten beste ontgin nie. Meer
gisting is nodig, en minder suiker. En tog verras die bundel met verse soos
“Rondom geboortevure” waarvan die beelde lesers lank sal bybly; en
“Dermsnaardans”, waar die inkantasie-effek van “soet makataan”, “ryp makataan”
en “swaar makataan” die magie van die dans én die gedig naboots. Daar is meer
gedigte wat treffende momente bevat, maar nie almal bevredig nie.
Die bundel is kunstig versorg, met op die voorplat ’n
gedetailleerde afbeelding van ’n roesrooi blaar teen ’n oker agtergrond. Dit
skakel met die fokus op natuurdinge en kan as ’n watermerk van die digter se
ervaringswêreld, herinneringe en poësie beskou word.
- PROTEA BOEKHUIS, PRETORIA. (SAGTEBAND, 80 BLADSYE, ISBN
978 1 86919 312 6.)
- Zandra Bezuidenhout is ’n digter van Stellenbosch.
- Die Burger