Blignault se verhaal oor haar lewe in essayvorm
2009-09-21 10:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
’n Jaar ná haar dood op 1 Oktober 2008 besef ’n mens hoe lewend
Audrey Blignault nog in die geheue van die Afrikaanse kultuur is. Die
uitsonderlike verkoopsukses van die briewebundel ’n Blywende vreugde
van 2008 onder redaksie van Petrovna Metlerkamp was die stimulus vir
Tafelberg-Uitgewers om Audrey Blignault se dogter, Marié Heese, te nader om ’n
nuwe bloemlesing uit haar moeder se essays saam te stel.
Heese, ’n skrywer en literaror uit eie reg, skryf met insig oor die
uitdaging en problematiek waarvoor hierdie versoek haar gestel het in die
inleiding tot haar uiteindelike andersoortige “bloemlesing”. Dit sou ’n haas
onbegonne taak gewees het om ’n bloemlesing saam te stel wat op eiesoortige
wyse sy plek naas die drie reeds bestaandes sou kon inneem: Nogtans sal ek jubel en Mal Hansie en ander
verhale, saamgestel deur Elize Botha, en ’n Oulap se rooi, ’n
keuse van humoristiese essays deur Berta Smit.
Hierdie wete het gelei tot Heese se skitterende ingewing om ’n
keuse uit haar ma se essays te maak waardeur Blignault haar eie lewensverhaal
vertel. Met haar keuse en die chronologie wat sy daaraan opgelê het, het Heese
’n literêre kragtoer uitgevoer en terselfdertyd ’n ideaal wat haar ma lank
gekoester het om haar outobiografie te skryf postuum in vervulling laat gaan.
Die rubrieke waarin Heese die outobiografie verdeel, verteenwoordig
die verskillende fases in die vrouelewe wat daarin voltrek word. Blignault het
wel vyf outobiografiese essays geskryf wat met haar 80ste verjaarsdag verskyn
het onder die titel “Dit reën rose”.
Deel 1 gee soos hierdie bundel ’n beeld van Blignault se
kindertyd. Die essay “The splendour falls” bevat die essensiële antwoord na
die oorsprong van Blignault se liefde vir die woord en haar skryfambisie deur
’n verbeeldingsryke onderwyseres. Toe Blignault baie jare later die rubriek
“Uit die dagboek van ’n vrou” in die destydse Sarie Marais (nou
Sarie) behartig het, het sy ontdek dat wat sy as gewone
dagboekinskrywings beskou het, eintlik essays was en só haar genre ontdek
waardeur sy haar literêre bydrae kon maak. Dit is die gepaste voltooiing van ’n
kringloop dat Heese die titel van die destydse rubriek vir die
outobiografie gekies het. Vir my is Deel 1 ongetwyfeld die boeiendste met ’n
literêre kwaliteit wat in die ander afdelings geëwenaar, maar nie oortref word
nie. Deel 2 “Kêrels, stu- dentedae en skoolhou” is tereg die helfte korter
want uit die geromantiseerde Stellenbosse studentelewe kom ’n eie,
individualis- tiese ervaring met moeite los, terwyl Blignault se
onderwysloopbaan in Graaff-Reinet kort was.
Deel 3 is vanselfsprekend die langste met sy 42 essays, omdat dit
die grootste deel van Blignault se lewe beslaan: haar huwelik, haar moederskap
en haar reise. Heese lei dié afdeling in met haar ma se heel eerste
dagboekinskrywing uit Sarie Marais oor haar huweliksbevestiging
met Andries Blignault. Dit is ’n geskakeerde afdeling wat nooit verveel
nie omrede die humoristiese aspek verbonde aan ’n gelukkige huwelik tussen
twee gelykgestemde ewemense en die betrek van die uitgebreide familie met hul
besondere menslike kwaliteite, passies en eienaardighede. Maar nie net die
“splendour” het vir Audrey gedaal nie; tragedie het toegesak toe sy in 1967
ernstig beseer is in ’n motorongeluk waarin haar man die lewe gelaat het. Hoe
grys, troosteloos en uitsigloos die periode daarna was waarin sy haar moes
aanpas by alleenwees, blyk uit Deel 4 met sy nege essays onder die titel
“Tussentyd”; ’n korrektief op haar befaamde credo dat sy soos die profeet
Habakuk “nogtans sal jubel”.
In Deel 5 word hierdie credo weliswaar weer bevestig deur haar
tweede huwelik met Attie de Villiers en ander blywende verrykende
geesverwantskappe, maar die elegiese onder- toon bly in ’n lewensfase waarin
verlies die reël en nie die uitsondering is nie.
Die outobiografie is in wese die ontmoeting met iemand wat die
lewe as ’n avontuur beleef het, omdat die voortdurende verryking van haar
innerlike verseker is deurdat sy haar passie vir lees omtrent end-uit behou
het. Die rooi omslag is vir my daarom ’n cliché en te veel van ’n nabootsing
van die briewebundel. Die gehandskoende hand is nie die hand van die skrywer
wat die “alledaagse” – wat elke lewe hoofsaaklik is – deurleef het tot intense
ervaring nie.
)?TAFELBERG-UITGEWERS,
KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 416 BLADSYE, ISBN 9780624047742.)
)?LINA
SPIES is ’n skrywer en letterkundige van Stellenbosch.